In ’n trommel in my pakkamer kry ek oorlede Pa se Bybel tussen ’n klomp boeke.
Pa het seker meer as een Bybel in sy leeftyd besit, maar dié een het hy die meeste gebruik, vermoed ek. Dit is die hersiene uitgawe van die Bybel – die 1953-uitgawe. Een van daardie Bybels wat jy met ’n ritssluiter kan toetrek.
Heel voorin het hy sy naam geskryf in sy insekagtige skrif, met ’n telefoonnommer daarby. Bokant dit staan: “Hand 17:26.” Net dit.
Ek wonder hoekom het jy eens Bybels met ’n ritssluiter gekry. Of kry ’n mens dit steeds? En kry ’n mens nog Bybels met ’n wit omslag? Om so ’n wit Bybel te hê, is eens as baie spoggerig beskou. ’n Bybel met ’n ritssluiter en ’n leeromslag was in ’n wêreldse sin ook effe verhewe bo ’n gewone Bybel met ’n harde buiteblad.
Die ritssluiter is seker maar daar om die blaaie skoon te hou waar die Bybel gewag het om weer gelees te word. Maar dit maak nie heeltemal sin nie: Die Bybel is skoon, maar Pa het oral teksverse onderstreep.
Jy kan Pa se Bybel se ritssluiter nie meer toetrek nie, want binne-in het hy allerhande goed tussen die bladsye gebêre: los bladsye met aantekeninge daarop, ’n koevert met ’n brief in en ’n foto van hom en oorlede Ma wat by ’n tafel in ’n kerksaal sit. Die foto is by een of ander geselligheid geneem. Voor hulle op die tafel staan ’n beker lemoensap en ’n bord vol stigtelike peuselhappies: klein frikadelletjies, gevulde eiers, en die bekende, nogal eksotiese staatmaker: ’n tandestokkie waardeur ’n klein uitjie, ’n agurkie en ’n blokkie kaas gedruk is.
Die foto kon nie by ’n tee-in-die-kerksaal ná ’n begrafnis geneem gewees het nie, want die twee lyk heel vrolik, ’n glas lemoensap voor elkeen op die tafel.
Terwyl ek so deur Pa se Bybel blaai, het dit gevoel of ek enige oomblik kon afkom op ’n vergeelde blaar van ’n boom, platgedruk tussen die bladsye. Iets wat jy soms in mense se Bybels sien. Hoewel, dit is meer iets wat ’n vrou doen: om ’n blaar tussen die bladsye in haar Bybel te bêre.
Lees ook: Dana Snyman: ‘Hier waar ons laasjaar nog saam geëet het’
Hoekom sou ’n mens ’n blaar in jou Bybel wil bêre? Dalk kom die blaar van ’n boom af wat vir die een wie se Bybel dit is, ’n spesiale betekenis het. Dalk kom die blaar van ’n boom in ’n begraafplaas waarin ’n geliefde begrawe is. Dalk kom die blaar van die boom waaronder haar geliefde haar tydens ’n intieme piekniek gevra het om te trou.
In party mense se Bybels sal jy ook ’n haarlokkie sien, ’n gerfie hare wat dalk van ’n kind of kleinkind se kop geknip is en in die Bybel bewaar word. Nog ’n ding wat jy soms in iemand se Bybel sien is iets wat deur ’n sywurm gespin is: ’n ronde of reghoekige geel stukkie sywurmspinsel. Kosbaar word dit daar bewaar.
Hoekom weet ek nie, maar ek dink altyd aan die olyftakkie wat die duif vir Noag op die ark gebring het as ek ’n blaar in iemand se Bybel sien. Is jou Bybel nie veronderstel om soos daardie olyftak in jou lewe te wees nie?
Pa se Bybel het op ’n kol nat geword, die eerste paar bladsye. Dit voel vir my heel gepas om van Noag en die Groot Vloed te lees op ’n effe kromgetrekte bladsy met ’n vlek op wat deur water veroorsaak is.
Pa het heelwat verse in sy Bybel onderstreep. Lees ek dit, hoor ek weer Pa se stem: “Ken Hom in al jou weë en Hy sal jou paaie gelykmaak.” Spreuke 3 vers 6.
Ek hoor ook Pa se stem wanneer ek lees wat hy geskryf het op party van die velletjies papier wat hy in sy Bybel bewaar het. Op een daaarvan het hy aantekeninge gemaak vir ’n toespraak wat hy iewers moes maak.
“Hoe het Marx, Lenin en Engels dit reggekry dat hulle idee van Kommunisme so versprei het?” staan daar geskryf, en ’n paar reëls verder: “Sê my wat dit is wat maak dat terroriste die grootste ontbering deurworstel? Dat terroriste soos in 1966 ’n 1 000 myl kan loop om boere aan te val.”
Waar sou hy dié toespraak gemaak het? Dalk by ’n Rapportryersdinee of tydens ’n Geloftefeesdiens?
Lees ook: Nadia Marais: Die geskenk van sterflikheid
Op ’n ander stuk papier het hy aantekeninge gemaak vir ’n preek of ’n praatjie in Kerstyd.
“Krismisvader is eintlik St Nicolaas of Sinterklaas en het met Kersfees niks te make nie,” skryf hy.
Op ’n ander stukkie papier is ’n gekrabbel wat amper soos ’n boom lyk. Dalk het hy op ’n sinodesitting gesit, verveeld tydens ’n debat, en so met sy pen sit en krap.
In die Bybel is ’n rekening van Williams Hunt Motors waarop aangedui word hy skuld hulle R56. Dalk het hy die maand gesukkel om al sy rekeninge betaal te kry en het die hulp van die Hoër Hand ingeroep.
Dit is nou Lydenstyd. Ek dink ek gaan vir die volgende paar weke elke dag ’n stukkie uit Pa se Bybel lees. Die ou Bybel met sy kromgetrekte blaaie wat jy nie meer met ’n ritssluiter kan toe kry nie, vertel immers ook ’n verhaal van menslike lyding.