Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Boek: Uitgenooi om kerkwees te herverbeel

Reframing deur Marius J Nel

Uitgewer: Bybel-Media, 2023

Resensent: Nina Müller van Velden

In Marius J Nel se nuutste publikasie word lesers uitgenooi om hulle verbeelding in te span en nuwe metafore vir kerkwees te ontdek.

Waarom metafore vir kerkwees? Omdat ons boodskap oor en praktyke van kerkwees grotendeels gegrond is in ons konseptuele sisteme, en konseptuele sisteme grotendeels metafories van aard is. Waarom juis nuwe metafore vir kerkwees? Omdat ons effe verbeeldingloos geraak het – dalk te gewoond aan metafore wat in die verlede sin gemaak het – en omdat ’n post-Christen(dom) wêreld (soos veral sigbaar in die Weste, en ook in Protestantse kerklike kringe in Suid-Afrika) ’n reuse-uitdaging bied aan kerkwees in die hier-en-nou. Indien ons nie nuwe metafore vir kerkwees gaan ondersoek nie, sal die kerk toenemend meer energie plaas in haar eie oorlewing, eerder as in die betekenisvolle deelname van lidmate ten einde hulle roeping in die omgewing uit te leef.

Lees ook: Jesus, die metaforiese teoloog – Marius Nel

Die boek is allesbehalwe ’n filosofiese bepeinsing sonder ’n praktiese aanslag. Nel stel op ’n toeganklike, begronde wyse tien metafore voor wat die kerk, gemeentes en individuele gelowiges uitnooi om die aard en uitleef van kerkwees te bedink. Hierdie metafore spreek tot belangrike elemente van kerkwees (die Bybel, gemeentewees), oortuigings (die opstanding, geloof en eenheid), en praktyke (onderskeiding, eksegese en geloofsvorming). Dit doen die skrywer in gesprek met verskeie teoloë, asook sy eie werk oor die afgelope paar jaar. Die voorgestelde metafore word begrond in ’n sogenaamde “root metaphor”, ’n basis-metafoor, naamlik die kerk se deelname in die ongeskrewe Toneel 5 van die onvoltooide toneelstuk van God se storie met die wêreld (aldus NT Wright).

Elke hoofstuk bevat ten slotte ’n kort samevatting van die kerngedagtes. Die boek word afgesluit met ’n stel vrae ter refleksie oor elke metafoor. Die bedoeling is allermins om voorskriftelik te wees, maar juis die leser uit te nooi om die verbeeldingstog verder te verken – veral in verhouding met die geloofsgemeenskap waarvan hy of sy deel is. Die publikasie is ’n waardevolle bydrae vir diegene wat nuuskierig en hoopvol is oor die roeping van die kerk, en wil ontdek hoe om deel te neem aan God se storie.

Beskikbaar by Bybel-Media.

Dr Nina Müller van Velden is dosent in Nuwe-Testamentiese Studies aan die Universiteit van die Vrystaat.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top