Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Theo Badenhorst van Brackenfell skryf:
Ons is in die Lydenstyd en Pinkster lê voor. Hierdie seisoene is juis geskik vir verootmoediging en vernuwing, die dinge wat die kerk van Christus die nodigste het.
Nou is daar sprake van nog ’n hofsaak, by ’n wêreldlike hof. Ek het onlangs geluister na die radiogesprek met ds Jan Lubbe en dr Johann Ernst. Die gesprek was oor ’n hartseer saak, maar daar was tog bemoedigende tekens.
Dit lyk asof ons met ’n vasgeloopte situasie te doen het. Aan die een kant is daar gemeentes wat doleer en ook hier en daar uit die verband getree het. Aan die ander kant die moontlike hofsaak. En dit is so omdat gesprek tussen broers (en susters) nie plaasgevind het soos dit moes nie. Tog hoor ons in die radiogesprek dat gesprek steeds oop kan wees.
My vraag is of die moontlike gesprekke op die regte grondslag gebeur het. Lydenstyd en die komende Pinkstertyd kan ons hiermee help. Wat was die rol van verootmoediging en gebed in die gesprekke? Voordat oplossings gesoek word, is dit nodig dat ons mekaar eerstens vind in verootmoediging en gebed, dat God desperaat gesoek sal word en dat ons feilbaarheid wedersyds erken word, en dat enige verdagmakery totaal afwesig sal wees. Verder sal daar positiewe pogings moet wees om na mekaar te luister, luister voordat ons praat.
As ons ooreenkom om ’n Skriftuurlik reformatoriese kerk te wees, dan moet ons mekaar mos langs hierdie weg vind. Die kerk sal ’n getuienis hê wanneer ons hierdie pad van gebed en verootmoediging loop.