Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: ‘Ek het nog geen valse leerstellings gehoor nie’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Albin Bowler van Bellville skryf: Ceska van Huyssteen van Standerton (brief van 25 Maart 2024) skryf dat sy met groot hartseer nie meer met die NG Kerk wil assosieer nie.

Dit is woorde wat my aan die hart gegryp het! Ek aanvaar dat sy ’n lidmaat is en nie ’n leraar nie.

Haar redes is die tipiese redes wat ’n klein groepie predikante aan hulle gemeentes verkondig. Hierdie dolerende predikante vorm minder as 10% van predikante wat in gemeentes staan. Hierdie broeders veralgemeen, praat in die lug en verkondig allerlei onwaarhede. Aangesien hulle dit baie oortuigend doen, glo hulle gemeentelede hulle. Gevolglik begin hulle gemeentelede hulle napraat.

LEES OOK: Die waarheid kan nooit deur ʼn leuen gedien word nie

Laat ek dit duidelik stel: Ek ken geen predikant wat die kernwaarhede van ons geloof minag nie. Ek luister ook weekliks na verskeie e-dienste op YouTube (van nie-dolerende gemeentes) – ek het nog geen valse leerstellings gehoor nie.

’n Groot rooi vlag is wanneer sommige dolerende predikante in die oortreffende praat of skryf: Die NG Kerk / hele kerk / al die nie-dolerende predikante verkondig dit of dat.

Ek sal graag wil weet wie die predikante is wat die kernwaarhede in die Woord van God ontken, soos die maagdelike geboorte van Christus of die opstanding van Christus of die Goddelikheid van Jesus Christus of die hel of Satan of die Woord is nie die woorde van God nie, ens. Wees spesifiek, gee die name en moenie in die lug praat nie.

Wanneer ek eredienste waarneem, voeg ek sekere woorde en terme op gepaste plekke by die Apostoliese Geloofsbelydenis, bv.:

… en is op die derde dag fisiek uit die dood opgewek …, asook Ek glo die Bybel is die onfeilbare, foutlose, geÏnspireerde Woord van God.

Maak dit van my ’n dolerende?

Nee, glad nie. Die gedrag van ’n klompie dolerende leraars maak my hartseer. My persepsie is onder andere dat hulle veralgemeen en belaster. Gaan lees weer die Heidelbergse Kategismus (HK), Sondag 43, Vraag 112.

Iemand word as vrysinnig beskou as hy/sy nie die kernwaarhede van die Woord aanvaar nie. Nie as hy/sy verskil van die dolerendes nie, want dolerende predikante wil alleen voorskryf wat kernwaarhede is.

In die NG Kerk is daar ’n groepie dolerendes (wat ’n biblisistiese hermeneutiek en tradisie beoefen soos die skrifgeleerdes, Fariseërs en Sadduseërs van destyds). So versaak hulle die Reformatoriese beginsel van “ecclesia reformata, semper reformanda”.

In die verlede het etlike predikante hulle geloof verloor en is onder tug geplaas of het uit hulle eie bedank, want hulle het mettertyd ontuis in die kerk gevoel.

My persepsie is dat in baie gemeentes die Woord suiwer bedien word en nie net in sogenaamde dolerende gemeentes nie.

Ek versoek dolerendes om die negende gebod in die HK te ontleed.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

11 thoughts on “Brief: ‘Ek het nog geen valse leerstellings gehoor nie’”

  1. Die skrywer praat van veralgemening en ‘sekere’ dolerende predikante.
    Sodoende veralgemeen hy self. Laat hy dan asb. spesifiek wees en skryf watter predikant het wat gesê. Sodoende kan die sogenaamde beskuldigde predikant ook homself verdedig.
    Ek wens hierdie oor en weer klipgooiery tussen dolerendes en die NG kerk Algemene Sinode en nou sien ek ook, ander nie-dolerendes, wil end kry. Laat die doletendes maar gaan sodat elkeen wat hulle glo kan uitleef.
    Dit is duidelik dat nie een van die kante gaan bes gee nie, en dit skeur ons kerk in twee.

    1. Beste Nico

      Die hartseer is dat verskeie predikante wat deel vorm van die Koinonia-groep oor die afgelope paar jaar in die KerkBode, asook in die dagblaaie, verskeie briewe geskryf het om baie predikante en hul gemeentes te beskuldig van valse leer. Sonder om enige persoon of gemeente by die naam te noem en aan te dui hoekom hulle beweer dat valse leer oor die kernwaardes van die evangelie deur diegene verkondig word.

      Die basiese narratief is dat daar 2 groepe predikante in gemeentes bestaan.

      Ek reageer teen hierdie valse beskuldigings. En verlang bewyse daarvoor.

      Indien dolerendes nie die valse leer, bv. uit belydenisskrifte kan uitwys nie, moet hulle eerder stilbly, hulleself ondersoek en afvra of dit die Gees van God is wat hulle lei of satan.

  2. Kan ons ‘n ander metode van ondersoek vir gewone gelowiges voorstel. In die eerste plek, as die goed jou pla, lyk dit my moet ons ‘n nuwe manier van ondersoek begin gebruik wat nie aanvallend en afbrekend is nie maar ondersoekend.
    Skryf vir die persoon wat ‘n uitspraak gemaak of wat jy weet ‘n sekere standpunt het wat jou pla. Sê dat jy nie wil hê hy/sy moet redenasies vir jou deurgee oor teologie in die algemeen nie. Jy vra mooi dat hy vir jou die verse uit die Bybel haal waarvan spesifieke mense verskil. Dan hulle spesifieke interpretasie oor daardie gedeelte(s) vir jou gee. Jy wil ook ‘n epos adres hê van die persoon.
    Dan skryf jy na die persoon en vra hoe hy die Bybel wat so en so sê dan nou so kan interpreteer. Moet asb nie oorweldig voel deur slim antwoorde nie, maar ondersoek dit in gebed voor die Here.
    Indien jy dan op hierdie spesifieke interpretasie iets anders hoor, skryf dan vir die Kerkbode of waar ookal en verduidelik wat jy by die Here hoor as jy die woord lees en wat ‘n spesifieke persoon hoor en verduidelik jou onsekerhede daaroor. Dit is nie ‘n harde aanval nie, dit is ‘n ondersoek na jou eie onsekerhede uit jou eie gebrokenheid. Daar sal natuurlik weer sterk en aanvallende en reaksies kom, maar moet jou nie daardeur laat afsit nie. Jy saam met die Here het die potensiaal om God se wil te hoor. Enige gelowige lewe onder leiding van die Heilige Gees en kan die waarheid by die Here hoor. Die Kerk is ‘n plek waar mens dan dit wat jy hoor met ander deel en ander wat dieselfde prosesse deurgaan sal jy kan onderskei van manipulerende en status bewuste leierskap wat ongelukkig ook bestaan.

    1. Beste Danie

      Baie dankie vir jou konstruktiewe gesindheid. Ongelukkig het ek nie die briefskrywers se kontakbesonderhede nie.

      Ek is onseker of KerkBode my sal toelaat om my epos adres te verskaf, dan kan mense aan my skryf om so ‘n meer Bybelsvriendelike benadering te volg.

      Beste wense

  3. SIEBERT MARAIS

    Goiedag.Ek reageer op die skrywe en wil se dat dit hartseer is dat ons Kerk die stadium bereik het waar die leiers mekaar gedurig aanvat.My oom was self predikant en wonder wat hy sou gese hethet.

    Dit gaan nou in DIE KERK soos in die politiek waar wantrouemosies aan die orde is en dienslewering en uitvoering van pligte taboe is.

    DIE BYBEL is my LEWENS HANDLEIDING en wat n predikant of KERK se is hul saak.Ek Glo wat GOD se want
    Die WOORD is deur GOD geinspireer en bly my WAARDESISTEEM.

    Valse profete wat HUL siening op mense wil afdwing sal altyd probeer verwoesting saai.En glo my daar is van hul.Ek ignoreer hul maar sal bly BID vir hul.

    1. Beste Siebert

      Wat vir my hartseer is, is die feit dat die Ned Geref Kerk, veral as briewe na gewone dagblaaie gestuur word, beswadder word. Diegene wat die Kerk beswadder, besef nie die skade wat hulle berokken nie, so arrogant oortuigend is hulle, sonder enige selfondersoek.

      Die narratief, vermoed ek, word nog sterker in hul eie kringe gedryf. Dit verwar lidmate, want hulle glo dat die kernwaarhede van die evangelie word aangetas.

      Ek reageer juis in my brief op die skrywe van Ceska. Ek vermoed sy is ‘n lidmaat en word nou verwar en word moedeloos of selfs skaam vir die Ned Geref Kerk. En dis so onnodig.

      Beste

  4. Beste Albin, kyk gerus die “Foutlyne 2023” reeks, veral

    – “Foutlyne 2: Historiese-Kritiek – Deel 1”

  5. Andre Mouton

    Hi Alvin
    Baie dankie vir jou brief en reaksies. Ek is oortuig dat as ons vir ‘n oomblik vergeet van ons hoeke en vir mekaar vertel wat die hoeksteen van ons eie geloof is, sal ons sien dat ons hoofsaaklik saamstem. As ons dan daarop kan fokus het ons al ‘n ver pad gevorder. Dalk moet ons ook op sekere spelreels ooreenkom deur te begin om te aanvaar dat daar versille sal wees. Elkeen moet se wat hom of haar in sy eie redding laat glo, nie wat ander moet doen nie. Geen kanselering van enige iemand nie. Dit sal ‘n goeie begin wees glo ek.
    Ek kan begin: Ek glo dat ek ‘n sondaar is wat uit genade gered is deur Christus wat gesterf en opgestaan het en dat ek daagliks my eie kruis moet dra terwyl ek Hom volg sodat ek gereed kan wees om ander sondaars op hul pad na heiligmaking met hulle eie kruise te kan help.

    1. Beste André, met respek, jou aanname “sal ons sien dat ons hoofsaaklik saamstem” is nie korrek nie. Eietydse teologieë, soos byvoorbeeld die genitief teologie wat uit histories-kritiese lees van die Bybel afstam, is heel algemeen by teologiese opleidingsentrums en al hoe meer onder leraars, sien byvoorbeeld die ‘Foutlyne 2023’ video-reeks, veral die videos
      – ‘Foutlyne 2: Historiese-Kritiek – Deel 1’
      – ‘Foutlyne 4: Genitief Teologie’

      Dit gaan nie oor “kanselering” nie, maar oor kernsake, selfondersoek, en verantwoordelikhede van woordbedienaars en kudde teenoor God, mekaar en die samelewing – dink byvoorbeeld aan Matteus 22:37, Matteus 28:19-20, Miga 6:6-8, 2 Timoteus 3:12-17, Jakobus 3:1, Johannes 14:23-26 en ander – https://tinyurl.com/4xhmfwey

  6. Andre Mouton

    Beste Amndreas, Dit is ongelooflik hoe party mense alles wat hulle lees en hoor eers wil kategoriseer (in ‘n boks wil sit) en dan vanuit die persepsionele hoek of boks reageer. Die reaksie is dan teen die hele kategorie(boks) se definisie en baie keer word dit gelees in die ekstreme kante daarvan, in stede van na die spesifieke bedoeling van wat geskryf word, te soek. Dit mag mos nou ook wees dat jy die skrywer selfs in ‘n verkeerde boks plaas. Selfpreservering is seker maar ‘n verdedegingsmeganisme. In plaas van om die kerk as ‘n veilige ruimte te sien waarbinne ons mag twyfel en mekaar kan begelei op elkeen van ons se pad na heiligmaking en die Here te vertrou dat Hy ons deur sy genade sal lei.
    Lees ook my brief wat vandag geplaas is oor verdeeltheid dan sal jy my hart verstaan.

Comments are closed.

Scroll to Top