Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Die kerkraad van die NG gemeente van Plettenbergbaai wag in biddende afhanklikheid aansoeke in vir die bogenoemde pos.
Gemeenteprofiel
Plettenbergbaai-gemeente bestaan uit ’n tweekopgemeente met vier bedieningspunte wat insluit die buitewyke van Natures Valley en Harkerville. Twee gevestigde wyke, in Wittedrift en Plettenbergbaai, dien as ankers vir die bedieningsareas. Wittedrift is sowat 13 km buite Plettenbergbaai geleë. Hierdie vakante pos is meer gefokus op die Plettenbergbaaiwyk.
Plettenbergbaai-gemeente het besluit om die vakante voltydse medeleraarpos te vul. Die huidige bedieningsleemte word tans gevul deur twee leraars op ’n vastetermynposbasis (75%:25%) wat teen die einde van Julie 2024 verstryk. Met die vul van dié voltydse pos sal die gemeente dan deur twee medeleraars bedien word.
Die gemeente het 600 lidmate met sowat 250 gereelde kerkgangers. Die kerkbywoning is eweredig verdeel tussen die twee ankerwyke en weerspieël ’n diverse gemeente wat verskeie generasies oorbrug. Alhoewel ’n aansienlike gedeelte van die gemeente afgetredenes insluit, wat ons pragtige dorp hulle laaste tuiste kom maak het, is jeugbediening steeds van kardinale belang.
Ons verwelkom almal wat in die naam van ons Here byeen wil kom by ons gemeente.
Plettenbergbaai is besig met die oorgang van vakansiebestemming na ’n gemeenskap wat meer permanent hier gesetel is.
Leraarsprofiel
Die suksesvolle kandidaat is ’n emosioneel volwasse persoon met ’n sterk roeping en wat passievol in die bediening van die Woord staan.
Om aktief meer jongmense by kerkbywoning en gemeente-aktiwiteite te betrek, beroep ons graag iemand wat passievol is oor die inspirasie van ons jeug. Die suksesvolle kandidaat moet sterk interpersoonlike vaardighede besit om die diverse demografie van ons gemeente te bedien.
Gereelde huisbesoeke met pastorale bystand is integrale pligte wat van ons leraars verwag word.
Ons vereis dat die posbekleër Woordgetroue geïnspireerde en goed voorbereide preke lewer in ooreenstemming met die reformatoriese en belydenisleerstellings van die Nederduitse Gereformeerde Kerk.
Die vermoë om teologiese en spirituele leiding te gee in die aanspreek van kontemporêre kwessies, veral binne die jeugbediening, is noodsaaklik. Dus is sorgvuldige teologiese, hermeneutiese en eksegetiese interpretasie met die bediening van die Woord belangrik.
Pligte: Soos hierbo uiteengesit tesame met Artikel 9 soos in die Kerkorde beskryf.
Vergoeding: Vergoeding sal volgens sinodale riglyne bepaal word.
Behuising in ’n pastorie is beskikbaar wat direk langs die kerkgebou in Plettenbergbaai geleë is.
Aansoeke:
Belangstellende gelegitimeerde leraars wat genomineer word of aansoek doen sal die volgende stuur aan die skriba:
- Omvattende CV (ongeveer vyf bladsye), wat bedieningsvoorkeure, spiritualiteit, persoonlikheidseienskappe en bedieningservaring beskryf.
- Name en kontakbesonderhede van ten minste drie referente insluit.
- Deur ’n aansoek in te dien gee die kandidaat toestemming aan die kerkraad van Plettenbergbaai-gemeente om van die inligting in die CV volgens die bepalings van die POPIA-wetgewing aan te wend. Alle inligting sal andersins vertroulik hanteer word. Die pre-advieskommissie behou die reg voor om onafhanklik inligting oor die aansoeker in te win.
- Kandidate wat die kortlys haal, moet bereid wees om ’n onderhoud te voer en/of om ’n preekbeurt by die gemeente te lewer.
- Sluitingsdatum: 19 Mei 2024.
- Stuur aansoeke aan: Die skriba per e-pos: ngplett@mweb.co.za
Diensaanvaarding: Ons beoog om ’n aanstelling vanaf 1 Augustus 2024 te maak.
Navrae:
Die skriba – mev Mossie Botes – 044 533 3525 of 072 376 1596.
Die voorsitter – mnr Frik Venter – 083 647 0838.
Webtuiste – www.ngkerkplett.co.za
Die kerkraad behou die reg voor om geen aanstelling uit die aansoeke te maak nie.
