Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Kerkbode Kollig-podsending: Wanneer geloof tekkies dra + foto-gallery


“Ek is baie bang vir weerlig. My grootste vrees is om in ’n tent te lê in die veld met weerlig om my … ek het daai aand al my sondes bely.” So vertel Laeveldse plaasbestuurder Kobus Swanepoel oor sy belewenis van die tweede nag tydens vanjaar se Red ’n Plaas Red ’n Gemeenskap Camino wat Vrydag 12 April met ’n plaasmakietie ten einde geloop het.

Kobus verwys na die vroeë winterstorm wat die vorige naweek die Noord-Kaapse Karooveld om Victoria-Wes so goed deurnat het dat riviere wat afkom en verspoelde paaie dit genoodsaak het dat die groep hulle stapprogram aanpas. Daar is in skure geslaap tussen trekkers en voerbale tot Donderdagaand toe Kerkbode en DJ Muller van Kaapkerk (geniet van sy foto’s onder) op die plaas Ezelsrus van Jaco de Bruyn by die groep van so 50 stappers aangesluit het om van hulle stapstories te hoor.

Sommige stappers se voete was seer en stukkend, maar grappies was volop. Ons het gehoor diep vriendskappe is gevorm en dat die plaaslike boeregemeenskap se ondersteuning wonderlik was. Hieronder is van die foto’s wat die stappers self geneem het.

Daar is in skure geslaap tussen trekkers en voerbale.
Ds Strauss de Jager (67) van Makhanda was elke dag in ’n plaasdam vir ‘n swem.
Boervrou Joan Schreuder van Garies is geborg deur vele gemeentes en ander om namens Namakwaland te kom dankie sê vir hierdie projek.

Al is die droogte hier verby is daar gemeenskappe in die provinsie wat nog droog is. Boervrou Joan Schreuder van Garies is geborg deur vele gemeentes en ander om namens Namakwaland te kom dankie sê vir hierdie projek. Sy kon nie haar trane terughou nie toe sy vertel hoe dankbaar hulle gemeenskap is vir hierdie gesamentlike projek van die NG Kerk in Noord-Kaapland en Agri-Noordkaap saam met ander rolspelers. 

Kobus en sy vrou, Zelda, stap omdat hulle self deel is van ’n boerderygemeenskap en hierdie saak hulle dus na aan die hart lê. Kobus het as plaasseun in die Vrystaat grootgeword tot sy pa hulle plaas verloor het tydens die droogte van die 1980’s. 

Ds Kobus van Tonder is een van die touleiers van hierdie fondsinsamelinginisiatief. Hy het vertel hulle oogmerk vanjaar is om ’n rampfonds op te bou wat gemeenskappe in die Noord-Kaap kan help sodra enige tipe ramp tref. Mense kan heeljaar die projek ondersteun deur ’n virtuele stap, fietsry, selfs rolstoelry van enige afstand in hulle omgewing te reël. So beplan sy dogter Marí saam met vriende ’n pretstap in Bulgarye waar sy veeartseny studeer terwyl ’n paar fietsers tydens die Cape Epic fietstoer reeds ’n paar duisend rand met borgskappe kon insamel. Vind meer uit hoe jy kan help op Red ’n Plaas Red ’n Gemeenskap se webblad.

Later die oggend op Victoria-Wes gaan sit DJ Muller van Kaapkerk langs Lazarus Makwena op die besige sypaadjie van Kerkstraat. Lazarus en sy vrou is huisouers van Genadeland, ’n huis vir kinders uit armoedige omstandighede om hulle ’n kans op ’n kwalifikasie en ’n toekoms te gee. Die webskakel vir hierdie inspirerende gesprek is ook in die kommentare onder.

  • Berig aangepas na plasing.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top