Hierdie Forumbydrae is geskryf en regstreeks deur 'n Kerkbode-blogger opgelaai.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
“NG Gemeente Margate is geseënd om hierdie jaar ons 50ste bestaansjaar te vier. Ons het daarom vir hierdie jubeljaar die tema ‘Eer God vir vyftig jaar’ gekies,” skryf ds Lerisa Meyer onlangs vanaf hierdie kusdorp in die suide van KwaZulu-Natal.
Vyftig jaar gelede het hierdie gemeente afgestig van NG Gemeente Port Shepstone. Sy noem dat baie dinge in die afgelope vyftig jaar verander het in die gemeente, “maar ons passie om te leef vir Christus is nog steeds dieselfde”.

Die gemeente het op 3 Maart 2024 hulle 50ste bestaansjaar gevier tydens ’n spesiale diens met ’n gesamentlike liturgie, opgestel deur Meyer en haar medeleraar, dr Mike Heaney. Cecile Steyn het ’n spesiale feeslied geskryf en daar was optredes deur die koor, jeug en voorlesers.
Na afloop van die diens het die gemeente ’n Bybelse ete geniet. Tydens die ete kon elkeen ‘n vingerafdruk maak op ’n muurskets van ’n boom. Meyer het verduidelik dat die vyeboom vir die laaste paar jaar vir hulle gemeente ’n belangrike simbool was. Sy skryf:
“Ons weet dat ons soos ’n boom geplant is by strome van Lewende Water en dat God ons voed en vir ons voorsien. Daarom wil ons graag met ons vingerafdrukke onsself ook opnuut hertoewy as dissipels van ons Here. Ons belowe hiermee dat ons en ons huise die Here sal dien in ons gemeente en gemeenskap.
“Ons is baie dankbaar teenoor die Here vir die afgelope tyd. Ons kyk ook met oë vol hoop vorentoe, omdat ons weet dat ons kan volhard in die wedloop, want God gee ons moed. Ons bid God se seën toe oor ons gemeente en gemeentelede. Ons vra dat God ons hande, voete en hele wese sal gebruik om tot seën vir ander te kan wees.”
Bron: Posduif 24-23, 14 Junie 2024
