Die Andrew Murray-Desmond Tutu-prysfonds (AMDTPF) het ná 45 jaar ’n nuwe voorsitter. Le Roux Schoeman doen verslag oor die rol van boekpryse en die instellings wat pryse uitdeel.
Sy pa het ’n slagpale op Ceres en ’n bobbejaan gehad, vertel prof Daniël Louw op bl 172 van sy jongste boek. Die aap was slim, maar aan ’n paal op die perseel geketting, luidens die anekdote wat dan lei tot refleksie: “Gevirtualiseerde humaniteit is interessant en opwindend. Tog ontduik virtuele transendensie nie die reële vraagstuk van menslike broosheid en verwonding nie? Ons bly geketting soos die aap op die paal by Ceres se abattoir: Menslike feilbaarheid.”
En vir die soveelste maal in die boek meld hierdie leser se eie intellektuele feilbaarheid aan. Wat het ek pas gelees? Hierdie boek beslaan 699 bladsye op swaar, blink papier met ’n magdom uiteenlopende prentjies, skermgrepe en memes. Op die agterblad word die skrywer deur een resensent as ’n “f*kken genius” beskryf en daar word deur ’n ander gesê die werk maak “ongetwyfeld ’n akademiese bydrae, waarskynlik in die eerste plek tot die pastoraat.”
Naledi is die uitgewer en terwyl die titel (Daar is méér) jou dalk wil voorberei teen die omvang van die werk, is ’n sterker leidraad in die subtitel te vind: “Mymeringe oor die spiritualiteit van skoonheid, sin, siel en sterflikheid.” Ten slotte, steeds op die titelblad, verskyn ’n sin wat dít wat op die leser wag die fermste vasvat: “’n Outobiografiese reisverhaal deur Amper-Stamperland en Metaversum.”
Wenner van die Andrew Murray-prys vir 2024
Dit is deel van die boeklees- en helaas boekkoopproses dat ’n mens oomblikke van twyfel bereik. Gaan dit my loon om deur te druk tot op bl 227 en, byvoorbeeld, die hoofstuk getiteld “Diakroniese denke: God sonder verjaarsdag, geboortedatum of ruimtetuig in die hipersfeer van virtuele denke”? En, indien wel, sal die grafika op bl 248 my help verstaan wat die skrywer bedoel as hy sê: “Diakroniese denke verteenwoordig ’n manier van wees waarin die tydsgebeure sinkronies saamval met die gebeurlikhede in die hede”?
Oomblikke van privaattwyfel opsy, het prof Daniël J Louw se nuwe swaar, blou boek een groot en baie publieke ding wat in sy guns tel: Die Andrew Murray-prys vir 2024. Die beoordelaars, prof Nelus Niemandt, ds Maartje van der Westhuizen en die Rapport-joernalis Julian Jansen, beskryf die boek tegelyk as “magistraal” in navorsingsomvang en “pure bederf” vir die leser. Onderhoude word gevolglik met die teoloog gevoer: Skrywer van wenboek in kompetisie met prysgeld en prestige – kommoditeite waarvan daar ook in die NG Kerk-literêre kompleks nie onuitputbare bronne is nie. Die stempel is gedruk; die sisteem het gepraat.

Resensies en pryse as waardebepalers
In die boekewêreld – ver van Netflix en YouTube waar algoritmes verstommend akkuraat voorspel dat jy as individu hiervan sal hou oor jy daarvan gehou het – steun ons nog swaar op boekpryse en boekresensies. Ook Kerkbode publiseer ’n waarderende gesprek met prof Louw deur dr Carike Noeth, ’n navorsingsgenoot aan die Universiteit Stellenbosch en konsultant. Dit is hoeka daar waar die leser ’n handige greep kry op die skrywer se storie met die boek: Dat hy in ’n soeke na die egtheid van die Christelike geloof afkom op ’n “sinnetjie wat hom sprakeloos laat”: ’n God sonder ’n hart is ’n afgod. Dit laat hom weliswaar nie totaal sprakeloos nie, want ’n boek van byna 700 bladsye volg weldra, maar dit is nietemin ’n tipe oorsprongverhaal wat empatie kweek en leeslus wek. (Louw self skryf dan vroeg in die boek dat dit wat volg meer “libretto-pamflet” as skryfstuk met konvensionele plot is … wat weer die leeslus ietwat temper).
Tot ’n groot mate lees ons steeds die lippe van legitimerende instellings soos die AMDTPF en die resensie op enige oorblywende boekeblaaie of webwerwe. Soos waterpunte langs ’n maraton wat vir jou sê: druk deur, hou moed. Of, beter nog, vir jou die sleutels gee wat ingewikkelde en/of onkonvensionele werke ontsluit, kontekstualiseer en vier. Dit is een ding vir ’n skrywer (soos op bl 24 van Daar is méér) om te verklaar: “My diepste begeerte is dat teologie en die dissipline van pastorale sorg weer die geheim van verwondering sal ontdek.” Die presiese wyse waarop die skrywer daarin slaag en wat die boetes is vir mislukking of die wins van sukses met daardie projek is … dáármee het ten minste hierdie leser bekwame hulp en vaardige beoordeling nodig.

Nuwe era: Gaum gee oor aan Wyngaard
Oor ’n tydperk van 45 jaar het dr Frits Gaum as voorsitter en lid van die prysfonds gedien. Onder hom het ’n netwerk van beoordelaars groot invloed uitgeoefen op hierdie presiese dinamika van standaardbepaling en aansporing en finansiële vergoeding vir die dikwels moeisame, taamlik weerlose proses wat skryf is. Vanjaar het Gaum uitgetree. In Mei het hy sy laaste sitting van die prysfonds se ledevergadering gelei. Op ’n windstil Vrydagmiddag het Gaum vanaf 16:00 tot die son suutjies agter Leeukop se agterstewe begin sak het aan die hoof van ’n raadsaaltafel in die Kunstekaap gewerk deur ’n agenda oor als van detail tot groterprentjiesake. Die grootste hiervan is stellig die toekoms van die pryse self en per implikasie die plek wat hulle in die kulturele landskap inneem.
Bettina Wyngaard is die nuwe voorsitter. Om die tafel van die ledevergadering sit ander rolspelers en belanghebbers en luister aandagtig na Gaum, wat meedoënloos die skemer in werk. Van die uitgewers is Lux Verbi en CLF verteenwoordig, asook Bybel-Media. Daar is verteenwoordigers van die Fakulteit Teologie by NWU asook die Fakulteit Teologie en Religie van UV en die NGK-kuratorium op Stellenbosch asook die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit en Hugenote Kollege. Hulle sit om die tafel waar Wyngaard uiteindelik amptelik die stokkie oorneem. Die Desmond & Leah Tutu-stigting is ook verteenwoordig en die verruiming van die pryse se benaming om die wyle “Arch” in te sluit, was iets van ’n scoop vir oud-kerkkoerantman en “on brand” vir die teologies toenemend inklusiewe Gaum.
Vanjaar se wenners …
- Die Andrew Murrayprys vir algemeen-Christelike boeke in Afrikaans gaan aan Daniël J Louw vir Daar is méér uitgegee deur Naledi. Dit behels ’n oorkonde en R25 000.
- Die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir teologiese boeke in ’n amptelike taal van Suid-Afrika, uitgesonderd Afrikaans gaan aan Reluctant prophet: Tributes to Albert Nolan OP, redakteurs: Mike Deeb, Philippe Denis en Timothy Radcliffe.
- Die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk in ’n amptelike taal van Suid-Afrika gaan aan Sandy Schoeman vir haar debuutwerk, Rooiletterkind, uitgegee deur Naledi.
- Die CLF-Elise Tempelhoff-toekenning vir Omgewingsbewaring en -geregtigheid is toegeken aan Lizelle de Bruin vir “haar beduidende bydrae om omgewingsbewaring onder die aandag van die publiek te bring”.
- Die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir Eenheid, Geregtigheid en Versoening is toegeken aan die organisasie Betereinders “vir hulle bydrae om geregtigheid en versoening in Suid-Afrika te bevorder”.
‘Julle hou ons hande omhoog’
De Bruin het in haar bedankingswoord laat blyk hoe dit voel om aan die ontvangkant van hierdie soort erkenning vanuit die breër bedryf te wees: “Ek hoop dat ons met radio groot bewustheid kan kweek oor die waarde van bome. Ek sal graag wil hê dat ons soos tuiniers moet opgewonde raak oor groentetuine. Ek sal graag dat ons soos toekomskundiges moet dink oor oplossings vir ons wêreld en ek sê dan vir julle dankie dat julle ons hande hoog hou. En dat ons met toekennings soos hierdie kan voortgaan om dit te doen,” het De Bruin gesê.
In sy ontvangsrede het Doc Mabila, van die pas bekroonde Betereinders, weer gesê dié wat goeie werk doen, moet voortgaan daarmee en opgemerk dat dit soms goed is om eers aan onsself te werk voor ons ander se foute uitwys. Vir ’n relatiewe klein NRO was dié duidelik ’n gewaardeerde hupstoot.
Ook Gaum was aan die woord by die aand se stylvolle prysoorhandigingsgeleentheid. Staaltjies van die afgelope dekades: die aand toe daar ’n spogdinee was maar weens ’n misverstand nie kos vir hulle om te eet nie … “Dit was nogal ’n konsternasie maar op die ou end is almal goed gevoed,” het Gaum vertel. Dan was daar die aand toe Gaum per ongeluk ’n glas wyn langs wyle Johan Heyns omgestamp het. En die aand toe ’n pryswenner sê dat hy selfs die prys sou weggee indien sy seun net van sy dwelmgewoonte sou kon ontslae raak … “Dit was vir my verskriklik aangrypend,” het Gaum onthou.

Versoening as doel
Geklee in ’n swart donsveerbaadjie en sittende, met sy rug na meeste van die gehoor weens die feit dat Gaum deesdae met moeite beweeg, het hy gesê: “So, vriende, blydskap hartseer, ongelukkigheid … Dit is maar soos dit gaan met sulke dinge. Maar ek dink die Andrew Murray-prysfonds het tog ’n bydrae gelewer. Ook vir versoening in Suid-Afrika, wat ons broodnodig het … Versoening is deel van die hele gedagte agter die (pryse). Maar ook dan, boeke, om media te bekroon. Om mense aan te spoor om te skrywe en te skep in verskillende tale in Suid-Afrika,” het Gaum verduidelik aan sowat 300 mense in die gehoor. “Die wortels lê op Wellington, in die Afrikaanse gemeenskap, in die NG Kerk, maar die net is wyer gespan, en dit is goed so,” aldus Gaum.
Die voormalige Kerkbode-redakteur het toe na sy opvolger gedraai: “En Bettina, jy neem die leisels oor. Mag die Here jou genade gee om die goeie pad te loop sodat die prysfonds ’n betekenisvolle rol in Suid-Afrika sal speel.” Gaum het ook sy vrou bedank. “Henda, jy is tog ’n staatmaker.”
Wyngaard het op haar beurt via ’n kort vooraf-opgeneemde videoboodskap gesê: “My voorsitterskap gaan waarskynlik baie oper en platter wees as wat mense aan gewoond is, maar dit is deel van die pret, die vernuwing, dinge ’n bietjie anders doen.”
En toe is Louw na die podium om die groot prys van die aand te ontvang. “Kom ek gryp na Salomo … Goue appels op versierde skinkborde,” is hoe hy sy waardering uitgedruk het. “Met die skrywe van hierdie boek wou ek die middel-C van die Christelike geloof ’n slag hard slaan … Dit is hierdie boek … Druk-druk daar op die middel-C van die Christelike geloof,” verduidelik die teoloog, wat vanaf 2001 tot 2005 dekaan aan die Fakulteit Teologie by Universiteit Stellenbosch was, vanaf die verhoog. En daardie aand, tuis, trek ek weer sy wenboek nader.