Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Vakature: Voltydse predikant met die fokus op Familiebediening en Prediking
Sluitingsdatum: 26 Augustus 2024.
Die gemeente:
Stellenbosch Moedergemeente wil in afhanklikheid van God ’n Rivier van Lewende Water wees. In die lig van God se visie strewe ons gemeente daarna om entoesiastiese gelowiges te wees wat leef vanuit ’n lewende verhouding met God. Ons gemeente strewe ook daarna om oop te wees vir die leiding van die Heilige Gees en om saam met die Gees betrokke te wees in die gemeente, gemeenskap en die wêreld waarin ons elke dag leef en werk.
Doel van die pos:
Die predikant is verantwoordelik vir die geestelike leiding en sorg binne die gemeente tesame met die leraarspan, met ’n spesifieke fokus op familiebediening. Hierdie familiebediening is ’n gefokusde bediening waardeur ons God se droom wil uitleef vir die bediening aan gesinne, kinders en jongmense in en deur ons gemeente. Dit sluit in die ondersteuning van gesinne, die lei van eredienste, die aanbied van pastorale sorg, en die bevordering van die geloofslewe van gesinne om hulle te begelei om ook hulle eie plek in God se koninkryk te ontdek.
Hooftake en verantwoordelikhede:
Prediking:
- Dinamiese en motiverende prediking by die verskeie tipes eredienste en ander geleenthede van die gemeente.
- Spesifieke fokus op kommunikasie en leiding aan gesinne met kinders en veral tieners.
Familiebediening:
- Bevordering van die geloofslewe van gesinne in die gemeente.
- Koördinering van Moedergemeente se familiebediening met behulp van die kinderwerker en die tienerwerker.
- Ontwikkeling en implementering van kategesemateriaal vir kategete.
- Ontwikkeling en implementering van ouerondersteuningsprogramme en -kursusse.
- Aanbieding van geestelike begeleiding, ondersteuning en berading aan gesinne.
- Ontwikkeling van vrywilligers (en spanne) vir familiebediening.
Kwalifikasies en ervaring:
- ’n Gelegitimeerde predikant van die NG Kerk.
- Ten minste 10 jaar ervaring van gemeentebediening en bewese ervaring in familiebediening.
- Artikel 9 van die Kerkorde vorm die basis van verantwoordelikhede.
Persoonlike eienskappe:
- ’n Spanspeler wat met energie en passie sy/haar roeping sal kom leef.
- ’n Dinamiese en inspirerende prediker en kommunikeerder, veral met gesinne.
- ’n Geïntegreerde persoon met goed-ontwikkelde emosionele en geestelike volwassenheid.
- Empatie, integriteit, buigsaamheid en veerkragtigheid.
- Effektiewe funksionering in ’n dinamiese en groeiende gemeente as diensbare en visionêre leier.
Vergoedingspakket:
- Volgens sinodale riglyne.
- Huisvesting in die vorm van ’n pastorie is beskikbaar of ’n behuisingstoelaag.
Stuur aansoeke na: Die Voorsitter van die kerkraad, e-pos: kantoor@moederkerk.co.za
Heg aan:
- Opgedateerde CV van nie meer as drie bladsye nie.
- Kontakbesonderhede van drie onlangse referente.
- ’n Kort motiveringsbrief (nie meer as 300 woorde) oor hoekom daar spesifiek vir die pos aansoek gedoen word.
- Skakels na twee onlangse opnames/uitsendings van preke.
Diensaanvaarding: Voor of op 1 Januarie 2025.
Rig verdere navrae aan:
Hans Combrink (voorsitter van die kerkraad) 072 308 5431.
Renate Scherrer (voorsitter van diensverhoudinge) 083 406 6075.
Marié Britz (leraar) 084 515 1629.
Gekortlyste kandidate sal aan ’n gestruktureerde keuringsproses deelneem. Sodanige kandidate moet vir onderhoude beskikbaar wees op ’n datum, tyd en plek soos deur die keuringspaneel bepaal. Die proses kan ook psigometriese toetsing insluit.
Die kerkraad behou die reg voor om onafhanklik van hierdie advertensie ’n aanstelling te maak of nie die pos te vul nie.