’n Nuwe energie kom los wanneer gemeentes glo hulle het ’n toekoms op hulle dorp, selfs al is hulle sonder ’n vaste predikant. En daardie besef begin by die kerkraad. Dit is haar belewenis, sê ds Marizanne Wessels van die NG Gemeente De Aar, die enigste gemeente met ’n vaste predikant in ’n ring van sewe gemeentes in die Karoo.
Sy vertel in die Ring van Hanover begin hulle sien dat dinge wat doodgeloop het weer begin gebeur soos huisbesoek en pannekoekbak vir fondse. Dit gee almal hoop. Hierdie 29-jarige leraar, wat ook onlangs vir die eerste keer ma geword het, deel wenke wat sy en haar kerkraad ontdek het werk.
Nog ’n dorp wat stiller word
Daar was ’n tyd wat ’n mens sou opmerk ‘ek bly op De Aar se stasie’ om daarmee te sê jy bevind jou waar baie dinge gebeur. Die De Aar van vandag is veel stiller. Soos vervoervoorkeure verander het, het die aantal treine al minder geword wat aandoen by hierdie eens strategies belangrike treinhalte tussen die Kaap en Kimberley. So min treine ry deesdae daar dat Marizanne vertel sy skoon geskok was toe sy nou die dag op ’n plaaspad moes stop en wag vir ’n trein om verby te kom.
Dit is skaap- en ook wildjagwêreld. Semi-woestyn en meestal droog.
Nie net treine is minder nie. Die tradisionele lidmaatpoel van die dorp se drie NG kerke het ook gekrimp. So het Marizanne se gemeente ontstaan uit die ou Suid- en Moedergemeente. Hulle sowat 586 lidmate is meestal boere en meestal afgetrede werknemers van Eskom en Transnet met hulle gesinne.
De Aar se twee gemeentes is deel van die Ring van Hanover. De Aar-Noord sowel as vyf van die gemeentes in omliggende dorpe is sonder vaste leraar. ’n Scenario wat al meer algemeen raak in die wye sinode van die NG Kerk in Noord-Kaapland, hoor ’n mens toenemend op sinodale saamtrekke.
Leraar by wie vele raad vra
Dié skaarste aan predikante beteken nie net dat Marizanne sonder kollegas naby haar is nie. Sy is ook al een op wie se knoppie gedruk word om as konsulent op te tree wanneer die ander gemeentes in hulle ring kerkraadsvergaderings hou, anders kan hulle nie besluite neem nie. So ook vir elke doop- en nagmaalsdiens.
In kort, die eise wat dit aan haar gestel het was menslik onmoontlik om vol te hou, veral as ’n mens in gedagte hou van die omliggende gemeentes is 60 km ver op paaie sonder selfoonsein en dat van die kerkraadsvergaderings in die aand gehou word.
Dit voel by tye asof sy dag en nag gebel word, vertel hierdie jong ma. Selfs tydens haar kraamverlof (haar eersteling Marco-Jacques is in Augustus gedoop). Dit te midde van die uitdagings wat ’n plattelandse omgewing bied, waarin gemeentes swaar trek met minder en ouerwordende lidmate, stygende lewenskoste en krimpende inkomste, want die eerste aksie wat stop wanneer ’n gemeente moed verloor is fondsinsameling. Marizanne en haar man, Cornel, het so twee en ’n half jaar terug die Kaap vir die platteland verruil. Haar man werk aanlyn van die huis af vir ’n Kaapse rekenmeesterfirma.
Sy en haar kerkraad het dus vinnig besef hier moet plan gemaak word of sy gaan uitbrand.
Reaksie tot die uitdaging: Kerkrade en ’n streeksinode wat sorg en inisiatief vat
’n Belangrike insig wat ’n mens hoor by Marizanne is dus die besef van haar eie beperkings as enigste leraar. Soos sy verduidelik is dit onmoontlik om van een predikant te verwag om aan sewe gemeentes unieke aandag te gee terwyl jy gelyktydig ook die gemeente wat jou beroep het ten volle bedien.
Sy noem haar kerkraad haar grootste bate. Hulle belewenis as gesin is dat die kerkraad haar ondersteun en probeer om haar te beskerm. So byvoorbeeld het haar kerkraad besluit sy moet toegelaat word om vergaderings buite die dorp aanlyn by te woon.
Lees en luister ook: Jaco Strydom gesels met ds Scherlize van der Merwe van Ysterplaat
Tweedens het sy by hulle streeksinode ’n gewillige oor gevind wat graag na haar luister en haar met raad help. Marizanne spot sy bel so gereeld vir ds Christo Jonck, hulle predikant in sinodale diens (PSD), dat sy dink “hy maak al sy dagboek skoon as hy sien dit is weer ek wat bel”. Hy help haar ook om predikante van naburige ringe te kry wat van die verantwoordelikhede kan help dra.
Sy sit ook gemeentes direk in kontak met hom. Die laaste maande hoor sy dat gemeentes self die sinodale kantore begin bel vir raad en leiding.
Wat is ’n aanduiding van sukses? Gemeentes wat eienaarskap neem
So hoe gaan dit met die gemeentes wat sonder predikant is? Daar is gemeentes wat lidmate verloor weens die onsekerheid oor hulle toekoms en daar is ook gemeentes wat seergekry het toe hulle laaste predikant weg is. Dit is dus nie net ’n mooi storie nie. Soos Marizanne opmerk, hulle ring se verhaal is een van gemeentes wat op soek is na hulle plek in hulle dorpe se toekoms.
Maar in die laaste jaar sien en hoor sy by van hierdie kerkrade ’n nuwe energie en hoop. Dit is bemoedigend.
So het Philipstown se gemeente ’n nuwe kerkraad en voorsitter wat weer begin met huisbesoek. Hulle reël ook gemeentebraaie om die mense bymekaar te kry. Die vure brand al vroegaand hoog. Die Vanderkloof-gemeente het ook ’n nuwe kerkraad en hulle het weer met pannekoekverkope begin om fondse in te samel.
Dit gee haar nuwe hoop en energie wanneer sy hoor dat gemeentes bedieninge en fondsinsamelings hervat, vertel Marizanne, want, voeg sy by, “niks rondom hulle situasies lyk anders nie, buiten dat hulle glo dat hulle gemeente ’n toekoms op die dorp het. En dit begin by die kerkraad”.
Sy sê ook dit gee haar hoop om te sien dat gemeentelede besef die kerk behoort nie aan predikante en skribas nie, “dit behoort aan elke hand en voet wat oor daai drumpel van die kerk kom”.
So begin sien hulle ook dat lidmate begin hand opsteek vir teologiese opleiding. Op Philipstown het ’n lidmaat reeds Hugenote Kollege se bedienaarskursus voltooi en is nou besig met ’n aanlyn kursus in pastoraat. In haar gemeente gaan die vrou wat die kinderbediening hanteer volgende jaar begin met die diensleraarkursus.
En in haar eie gemeente? Al groei hulle gemeente reflekteer dit nie noodwendig in hulle inkomste nie, maar Marizanne sê haar maatstaf vir sukses is eerder lidmate wat betrokke raak. Daarin sien sy oral groei. Meer mense woon die eredienste by op Sondagoggende (135-150 teenoor 100-120 in Covidtyd). Die kinderkerk en die kategese groei ook.
Met hierdie jaar se basaar was daar amper meer mense wat gehelp en gewerk het as wat daar was om te kom koop …
- Die artikel vorm deel van ’n reeks, Kerk wat werk. In hierdie reeks wil Kerkbode stories vertel van gemeentes met ’n grensverskuiwende gemeenteprojek wat hulle help om op voetsoolvlak ’n nood in hulle gemeenskap aan te spreek. Het jou gemeente so ’n storie om te vertel – of julle groot of klein is, platteland, voorstedelik of stad, ons hoor graag van jou. Kontak ons by kerkbode@tydskrifte.co.za