“Ek het in die skadu van die kerk grootgeword.”
Só sê die glimlaggende man wat vanaf sy bekering, op 17 Oktober 1957, deur stormagtige tye op die sendingveld en ook hier in sy post-aftrede rotsvas op die Here vertrou.
“Oom Gawie” is op 21 November 1934 gebore. Hy is ’n Kalaharikind wat sy laerskooldae in plaasskole deurgebring het. In 1953 matrikuleer hy aan die Hoërskool Kalahari op Kuruman.
Na skool gaan werk oom Gawie in die staatsdiens, by die destydse Volkswelsyn en Pensioene. Toe die kantore van die staatsdepartement na Kaapstad verskuif, skuif hy saam. Gou voel hy egter soos ’n bode met leêrs. Ná sy bekering gaan doen hy evangelisasiewerk saam met City Mission in die Kaap. Daar help hy ook met sendingwerk in die hartjie van Distrik Ses.
Gedagte van sendeling word bly wink
Oom Gawie bedank in Februarie 1958 uit die staatsdiens. Nooit wyk die gedagte van sendeling word nie. Destyds is al die sendelinge by die NG Kerk se Sendinginstituut op Wellington opgelei. Oom Gawie doen aansoek.
Toe kom ’n terugslag. Oom Gawie vertel: ‘‘Die sinode besluit om die instituut te sluit vir blankes om daar vir sendingopleiding te gaan. Alle voornemende kandidate moes voortaan Stellenbosch of Universiteit van Pretoria toe gaan. Ek was nie gereed om in net drie maande al die aansoekprosedures vir die universiteit na te kom nie.”
Die dringendheid daarvan om in die diens van die Here te werk, maak oom Gawie “radikaal”. Hy besluit toe om op ’n ander manier vir die Here te werk. Hy kry die geleentheid. Op ’n biduur van die Christelike Hospitaalbond ontmoet hy Tannie Nellie en tannie Aletta Burger. Hulle spoor hom aan om vir eers van die sending te vergeet en in ’n Christelike boekwinkel te gaan werk.
Dr Gawie Jordaan op 77
Die werk in Hart, die Christelike Hospitaalbond se boekwinkel, is so reg in oom Gawie se kraal omdat hy graag lees: kerkgeskiedenis, SA se rol in die sending en oor kerkmanne soos Andrew Murray en sendelinge soos Hudson Taylor. Hierdie is vir hom soortgelyk aan ’n sendingveld.
Oom Gawie gee egter nie sy droom om ’n sendeling te word, prys nie. Sy voorgraadse Admissiegraad doen hy deur Unisa. Daarna beweeg hy aan na Fakulteit Teologie by Tukkies. Prof Piet Meiring, die mede-redakteur van die boek Suid-Afrika: Land van baie godsdienste, en saam met oom Gawie ingeskakel by Skuilkransgemeente, moedig hom aan om sy doktorsgraad te doen. Sy proefskrif lui History of the Dutch Reformed Mission in Sekhukuneland and church development 1875-1994.
Op 77 jaar word hy dr Gawie Jordaan.
Oom Gawie vertel dat mense vir hom sê dat hy darem baie rondgerits het in sy lewe. ‘‘Maar ek het nie. Ek het net een gemeente gehad. Die Lepelle in Sekhukhuneland, deel van die NG Kerk in Afrika”.
Toe tentmaker-sendeling na kerk skeur
In 1986 gebeur die hartseer skeuring in die NG Kerk. ’n Derde van oom Gawie se sturende gemeente Marble Hall, breek weg om die APK Marble Hall te stig. Hierdie gebeurtenis gee die NG Kerk ’n geweldige knou. ’n Paar jaar later deel die kerkraad oom Gawie mee dat hy nie meer betaal kan word nie. Hy gee nie die gemeente prys nie. Hy word tentmaker-sendeling en vul ’n vakante betrekking by die Ndebele Educational College te Siyabuswa sowat 30 km vanaf Marble Hall. Hy onderrig Bible and Philosophies of Life.
“Dit was vir my wonderlik om meer as 300 studente in hierdie vak te onderrig.”
Weer is daar ’n wending. Hierdie keer aan die ligkant van die lewe. Ds Andries Louw, die tweede leraar van oom Gawie se sturende gemeente, Marble Hall, aanvaar ’n beroep na Faerie Glen in Pretoria. Oom Gawie keer terug na sy eie geliefde gemeente.
Die onstuimige tagtigerjare in Suid-Afrika het ook die bediening gevaarlik gemaak. Oom Gawie vertel ’n storie uit daardie dae. “Op ’n dag moes ek die Sondagoggenddiens by die Ndebele College of Education lei. Toe ek by die kerk stop, keer ’n paar comrades my voor. Hulle wou toe weet wat ek kom maak. Nadat ek aan hulle verduidelik het dat hier ’n diens is, het hulle my ingelig dat alles vir die dag opgeskort is. Hulle is besig met studente se opleiding vir rewolusie. Terwyl hulle met my praat, het sommige van hulle die bakkie agter volgepak en twee het langs my ingeklim. “Neem ons na die Sizabuswa hotel,” gebied hulle. Gedwee en gehoorsaam het ek met die manne gery en hulle veilig by hulle bestemming gaan aflaai.”
Aftrede wink nog nie vir dié sendeling
In 1995 tree oom Gawie uit die sending. Maar hy staan nog rotsvas in die lewe. Hy en sy gesin verhuis na Pretoria. Na ernstige voorbidding, lei die Here hom vanuit Pretoria om as hulpleraar die gemeente Lepelle te bedien. Hy onderneem om twee of drie keer per maand die 200 km Lepelle toe af te lê. Finansieel was dit moeilik. Maar oom Gawie se 14 jaar van boekhandelwerk tel in sy guns. Hy kry werk by die NG Kerk in Afrika se boekwinkel Dibukeng.
Later tree hy ook uit as hulpleraar maar onderneem om steeds een keer per maand ’n besoek aan Lepelle af te lê. Skuilkransgemeente ondersteun hom hierin. Oom Gawie lei ook Skuilkrans se diensgroep vir sending. Tot 2015 doen hy pastorale siekesorg by Steve Biko-hospitaal.
Binnekort gaan hy geestelike boeke wat aan hom geskenk word in sy hartsplek, Kuruman, versprei.
Boeke bly sy groot liefde en om boeke te herstel is sy stokperdjie. Hy begin in 1995 daarmee en het tot op hede 3 836 boeke herstel. Sy 35ste State-generaal Bybel word uitgestal in die argief van die sinodale kantoor, Oos-streek langs Skuilkransgemeente.
Vanjaar, op 21 November, word oom Gawie 90 jaar oud. Hy sien nog kans om met uitreikwerk voort te gaan tot dit nie meer kan nie. En bid dat die Here iemand sal stuur om met die werk voort te gaan. Wat ’n skitterende getuienis deur iemand wat voluit vir die Here leef!
Dr Gawie Jordaan en sy vrou Mariën woon in Silverton, Pretoria. Hulle het vier kinders en vyf kleinkinders.
Isabel Ballot is ’n lidmaat by NG Gemeente Skuilkrans en Kerkbode-medewerker.