Die NG Gemeente Riebeek-Kasteel: 150 Jaar van Genade – Deur Diko van Zyl (2024)
Die boek kan bestel word by die kerkkantoor, Riebeek-Kasteel: 022 448 1388 (Ma-Vr 8:00-13:00) en kos R350.
Ek het nog altyd groot waardering en bewondering vir historici gehad, veral omdat hulle die geskiedenis met sy ryke vertakkinge, vir nageslagte o(o)pskryf, lewend hou en argiveer, skryf Chris Jones.
Hierdie boek oor die geskiedenis van die NG Gemeente Riebeek-Kasteel, geskryf deur emeritus-professor Diko van Zyl van Stellenbosch, is ’n monumentale werk, en soos verwag van ’n deurwinterde akademikus, uiters verantwoordbaar en wetenskaplik, nagevors en opgeteken (met bronverwysings en voetnotas).
Dit lees heerlik en bevat ook pragtige foto’s. Die formatering en uitleg asook die taalversorging is goed gedoen.
Eintlik is Van Zyl ’n ekonomiese geskiedkundige, maar hy het homself met hierdie deeglike, omvangryke stuk werk ook as kerkhistorikus onderskei. Hy het die NG Kerkargief op Stellenbosch asook ander navorsingsinstansies soos die Wes-Kaapse Argief en Rekorddiens, ’n paar honderd (350-400) keer besoek en 12 jaar aan hierdie bundel gewerk. Skynbaar is dit die meeste besoeke ooit wat deur ’n individuele navorser aan die Kerkargief gebring is!
Hy het reg van die begin af die tientalle kerkgeskiedenisse wat in die Kerkargief gehuisves word, bestudeer. Een van die groot leemtes wat hy geïdentifiseer het, is dat hierdie geskiedskrywing nie aandag gee aan die kerk se (aanvanklike) finansiers nie. Laasgenoemde, in die geval van die meeste plattelandse gemeenskappe soos Riebeek-Kasteel, was normaalweg afkomstig vanuit die boerderygemeenskap.
Omdat Van Zyl oor baie kennis van die Wes-Kaapse ekonomie en landbouvertakkings beskik, soos blyk uit vele van sy boeke asook sy M-verhandeling en doktorale proefskrif, het hy dit deel van hierdie kerkboek gemaak.
Hoewel die kerk sentraal staan in hierdie geskiedskrywing, het hy die belangrikste sosio-ekonomiese ontwikkelinge wat ’n inwerking op die Riebeek-Kasteel gemeente se ontstaan en wese gehad het, in perspektief probeer stel.
Dit was, volgens hom, baie moeilik en tydsaam om hierdie geskiedenis te skryf, vanweë die afwesigheid van belangrike dokumente wat feitlik onopspoorbaar was. Baie dokumente het verlore geraak, wat uiteraard ’n yslike verlies is. Tog het hy met baie moeite sekere inligting opgespoor, alhoewel met beperkte sukses.
Hierdie boek, soos ’n mens dit lees, word ’n “geheuemuseum”.
Op keurige wyse vertel Van Zyl die verhaal van mense (veral dominees, weldoeners en gemeenskapsleiers), verenigings, landbou-ekonomiese toestande, dorpsontwikkeling en onderwysaangeleenthede in hierdie gemeenskap asook die breër tersaaklike omgewing. Dit is ’n eerlike herwinning van die verlede waardeur ’n historiese bewussyn by die eietydse leser geskep word om sodoende sin te maak, nie net van die verlede nie, maar ook van die hede.
Dit help ’n mens ook met jou eie identiteit, omdat jy voortdurend jou eie plek in die geskiedenis oorweeg en heroorweeg – selfs al het jy nie ’n verbintenis met Riebeek-Kasteel of die gemeente daar nie. Die waardevolle en betekenisvolle wat soms dreig om in die vergetelheid te verdwyn, word hiermee vir ons geargiveer.
LEES OOK: Elders gesien: NG Kerkargief vir eerste keer deel van Woordfees se program
Van Zyl skryf onder andere oor die onverkwiklike kerkstryd (middel 1850s) tussen die lojales – die Riebeek-Kastelers wat lojaal aan die Swartlandkerk gebly het – en die Riebeek-Wessers – die separatiste wat ten alle koste wou verhoed dat die lojales se Hulpkerk (wat in 1856 tot stand gebring is) tot ’n selfstandige gemeente ontwikkel. Laasgenoemde het wel uiteindelik hulle eie gemeente gestig (in 1863). Die Riebeek-Wes gemeente het egter reeds in 1858 tot stand gekom met slegs 144 lidmate – een van die kleinste Kaaplandse gemeentes op daardie stadium.
Dit was ’n uitdagende kerklike vraagstuk wat die skrywer moes oplos. Hy het dit reggekry deur veral sinodale dokumente, wat nog nooit voorheen geraadpleeg is nie, woord vir woord na te vors.
Hy kom tot die gevolgtrekking dat die Riebeek-Wessers om egosentriese redes volledig vir die kerkskeuring van daardie tyd verantwoordelik was. Dit het meegebring dat die Riebeek-Kastelers vir jare lank as verarmdes nie ’n onafhanklike kerk kon bekostig nie.
LEES OOK: Jan Lubbe | Uit my kerkdagboek: ‘Ons het nie ’n kerk nie, Oom’
Dit het daartoe gelei dat sendingwerk, terwyl dit onder ’n onafhanklike sendingkerk op Riebeek-Wes geressorteer het, vir dekades ernstig in die Riebeek-Kasteel omgewing verwaarloos is.
Die verhouding tussen die Riebeek-Kasteelkerk en die een op Riebeek-Wes was daarna vir dekades swak, maar het gedurende die 20ste eeu dramaties herstel tot so ’n mate dat daar vandag ’n hartlike samewerking is, nie net op kerklike terrein nie, maar ook op sosiale, kulturele en ekonomiese gebied.
Geskiedskrywing is ook daar om reg te stel, waar nodig. Een van die onsmaaklike uitvloeisels van bogenoemde kerktwis, was dat Pieter van Santen (1810-1880), ’n onderwyser en patriarg van Bo-Hermon, en die dryfkrag agter die oprigting van die Hulpkerk, deur Riebeek-Wessers as ’n oneerlike skurk geteiken is.
Tog het Van Zyl bevind dat Van Santen as geestelike leier geweldig baie gedoen het om die Hulpkerk as die eerste geestelike bedieningsplek in die Riebeek-Kasteelvallei tot stand te bring. Hieroor word breedvoerig en interessant (in ’n profielskets van hom) geskryf en so word Van Santen se naam vir die eerste keer in ere herstel.
Die Riebeek-Kastelers se stryd om ’n onafhanklike gemeente te midde van armoedige toestande tot stand te bring, is merkwaardig om te lees en te bedink. En hulle ontwikkeling daarna tot ’n relatief welvarende gemeenskap gedurende die tweede helfte van die 20ste eeu as gevolg van inisiatiewe en allerlei ander positiewe insette deur progressiewe boere, wat ook hulle gemeente bevoordeel het, dien as ’n verrykende leeservaring.
Diko van Zyl slaag by uitnemendheid daarin om die spreekwoordelike garedraad van 150 jaar se geskiedenis vernuftig deur die oog van kerklike vertolking en vertelling te ryg.
- Dr Chris Jones is hoof van die Eenheid vir Morele Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch.