Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Thea Wait is een van drie lidmate uit die klein Oos-Kaapse NG Gemeente Tarkastad wat Hugenote Kollege se bedienaarskursus in 2022 suksesvol voltooi het. Foto: Heléne Meissenheimer

‘Ek was ’n agterbanker in die kerk …’ Oud-polisievrou wat nou op die kansel staan vertel haar storie


“Toe ons by die gemeente gekom het, het ek heel agter gesit in die kerk en ek het gesê jy sal my nooit voor kry nie. Nou is ek op die preekstoel en ek lei die voorsang.”

Só vertel Thea Wait en glimlag dan skaam van onder haar kort blonde no frills kapsel. Niks aansit by hierdie 49-jarige boorling van die Karoo in haar wit hoodie top en tekkies nie.

Die ma van twee vertel haar nuwe selfvertroue om Sondae voor in die kerk te staan in plaas van heel agter te sit, is grootliks te danke aan twee goed wat in die laaste vyf jaar in haar lewe gebeur het. Sy het na 26 jaar bedank by die polisie en sy het ’n aanlynkursus in preek- en erediensvaardighede gedoen.

Thea is een van drie lidmate uit die klein Oos-Kaapse NG Gemeente Tarkastad wat Hugenote Kollege se bedienaarskursus in 2022 suksesvol voltooi het. By hulle bevestiging was agter van links : Pieter Herselman,  Johan Smith, dr. André Oosthuizen, Gerrie Marais, Luine du Plessis, Francois Rossouw. Voor: Danie Potas, Tanya Potas, Thea Wait, Elorina du Plessis, Cornette van Heerden, Lourens van Heerden. Foto: Kerkbode-argief

’n Eerste vir Ring van Cradock

Thea is een van drie lidmate uit die klein Oos-Kaapse NG Gemeente Tarkastad wat Hugenote Kollege se bedienaarskursus in 2022 suksesvol voltooi het.

Sy en twee boervroue, Cornette van Heerden en Elorina du Plessis, het so die eerste lidmate in die Ring van Cradock geword wat dié kwalifikasie behaal. Die ring het agt plattelandse gemeentes waarvan net drie nog voltydse predikante het en twee glad nie een nie.

Kyk ook: #Namibiëstorietoer | Kyk: Oom dominee Freddie’ (84) breek stigma af teenoor dié wat laat in die lewe teologie gaan studeer

Sy vertel dié groepie studente het dit gedoen as ’n manier om hulle gemeente te help wat ook nie meer ’n voltydse leraar kan bekostig nie. Daar was selfs op ’n punt sprake van deure toemaak.

Dié gemeente, met sy klipkerk ingewy in 1880, is een van vele in die Oos-Kaapse platteland wat nie meer ’n voltydse leraar kan bekostig nie. Foto: Heléne Meissenheimer

Siende dat Tarkastad se gemeente die eerste met bedienaars in hierdie deel van die Oos-Kaap is, wou Kerkbode meer uitvind oor hoe dit in die praktyk uitspeel en so gebeur dit dat ek onlangs op ’n reënerige Maandagoggend meer as 300 km vanuit Gqeberha ry, verby ontelbaar baie vragmotors, tot op hierdie dorp wat heelweek so stil soos ’n Sondagmiddag lyk.

Thea wag my in by die deur van hulle gemeente se Moedersaal. Die ander wag binne na ’n lang dag van vergadering hou saam met afgevaardigdes uit hulle ring.

Na ’n vinnige besoek aan hulle pragtige klipkerk wat in 1882 ingewy is vind ek en Thea tyd vir ’n rustige gesels in die ruim pastorie wat sy deel met haar twee tienerseuns Ethan (19) en Dylan (16). Toe vertel sy haar storie.

Thea deel die ruim pastorie met haar twee tienerseuns, Dylan en Ethan. Foto: Heléne Meissenheimer

Thea se storie

“Ek is gebore op Middelburg, die een so 60 km van hier af,” begin sy. Na skool het sy haar man Irvin in die polisiediens ontmoet. Sy was ’n administratiewe klerk en dolgelukkig in haar werk.

Hulle gesin het in 2009 na Tarkastad getrek toe haar man ’n pos gekry het op Komani (voorheen Queenstown) wat so 60 km oos langs die R61 is van daar af. Hulle het gekies om op Tarkastad te bly waar sy toe ’n administratiewe pos by die polisie gehad het. Die gesin het by die gemeente ingeskakel maar was nie betrokke nie. Hulle het agter gesit en was eerste by die deur uit, vertel sy.

Irvin is ’n kaptein in die polisie en werk deesdae op Gqeberha. Hulle sien mekaar een keer per maand wanneer hy kom kuier. Dylan is in sy laaste skooljaar by ’n Christelike privaatskool op die dorp en hulle wou hom dus nie nou skuif nie.

Dit sneeu soms op Tarkastad. Foto: Verskaf

Stel jy dalk belang?

Toe begin dinge vir haar sleg raak by die werk, soveel so dat sy in 2020, Covid-epidemie ten spyt, besluit sy kan nie anders nie – sy moet bedank. Die kerk het ’n skriba nodig gehad en sy ’n werk. Kort hierna het dit gebeur dat ds André Oosthuizen, die afgetrede dominee wat toe by hulle gemeente uitgehelp het, gevra het of daar lidmate is wat belangstel om die bedienaarkursus te doen.

Dit was ’n lewensveranderende ervaring. Cornette het vroeër die middag vertel sy het soveel nuwe dinge oor die Bybel geleer terwyl Elorina genoem het hoeveel sy dit geniet om vakansietye ’n boodskap by die ouetehuis te kan bring. “Dit is so intiem,” het sy gesê en ook met trots die fotomuur in hulle Moedersaal gewys. Hier word hulle gemeente se sowat 162 jaar van bestaan treffend met foto’s en kort stukkies teks uitgebeeld.

Vir Thea is wat vir haar uitstaan die geestelike groei wat sy ervaar.

Mede-bedienaar Elorina du Plessis hou ook die gemeente se storiemuur op datum. Foto: Heléne Meissenheimer

Die drie se geestelike mentor is ds Riaan Vlok, ’n afgetrede leraar wat begin vanjaar op kontrak by hulle gemeente begin werk het. Hy is so dankbaar vir hierdie span bedienaars. Hy het gesê: “Dit beteken vir my as leraar baie dat die gemeente nie alleen gelaat word wanneer ek nie hier kan wees nie.”

Cornette is besig met verdere opleiding in berading terwyl Elorina in barmhartigheidswerk belangstel. Twee Sondae elke maand is dit een van hulle of Thea wat preek.

Die drie bedienaars se geestelike mentor is ds Riaan Vlok, ’n afgetrede leraar wat begin vanjaar op kontrak by hulle gemeente begin werk het.

Praat met wie wél daar is

Die drie vroue het vertel daar is waardering vir wat hulle vir die gemeente doen, maar ook soms kritiek. Hulle hoor soms nog dat die kansel nie ’n plek is vir vroue nie. “Dit is nie altyd maanskyn en rose nie,” vertel een.

Thea het vertel sy was een Sondag so mismoedig toe sy sien hoe min mense in die kerk is dat sy die Here gevra het of sy hoegenaamd moet aanhou. Toe hoor sy Hom in haar binneste vir haar sê: “Jy is nie daar om te praat met wie nie daar is nie, maar met wie daar is”. Later die middag het ’n tannie gebel uit die ouetehuis na wie hulle kwartaaltye die preke lewendig uitsaai. Sy het vertel hoeveel Thea se boodskap vir haar beteken het. “Toe kry ek weer nuwe moed om aan te gaan,” glimlag sy.

‘Nou verstaan ek’

Een van die dinge wat Thea ook later vertel is dat hulle graag jonger gesinne wil help om meer welkom te voel in die kerk. Haar jongste is tans die enigste katkisant en sy is die een wat vir hom klasgee. Sy het daarom altyd ’n kindermoment in haar boodskap, selfs al is daar nie kinders nie. Iets wat sy sê die oumense ook geniet.

Thea se jongste seun Dylan* is die gemeente se kameraman en enigste katkisant. Foto: Verskaf

Intussen het sy begin om Grieks te leer, want sy hoop om uiteindelik ’n MTh-graad in teologie te voltooi. Haar teologiese studies pas sy in tussen haar pligte as bedienaar en dié van bedieningskoördineerder wat insluit beide die pligte van ’n skriba en ’n koster.

Kyk sy terug, sê Thea dat sy nie wat sy nou doen, ooit weer sal verruil vir polisiewerk nie.

“Ek is glad nie spyt nie. Nou verstaan ek hoekom die situasie by die werk so moeilik moes raak dat ek bedank het, want as dit nie gebeur het nie, was ek nie waar ek nou is nie. Ek lê partykeer in die bed en dink oor waar ek nou is.” Sy bly ’n bietjie stil en sê dan sag, “die Here het ander paaie as ons, nê?”

*Die artikel is aangepas na publikasie.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.