Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die nuwe aanwend van die ou VGK-saaltjie waar hy as kind skoolgegaan het maak ’n geweldige verskil in hulle gemeenskap vertel Hennie van Wyk van Williston. Foto: Heléne Meissenheimer

Met nuwe aanwending van ou kerksaaltjie kry 100 mense werk op droogtedorp in Noord-Kaap


Die nuwe aanwend van ’n ou kerksaaltjie maak ’n geweldige verskil op die klein Noord-Kaapse Karoodorp Williston waar werk en geleenthede vir jongmense so skaars soos goeie reënbuie is.

So vertel ’n jarelange inwoner, die 77-jarige Hennie van Wyk, tydens my onlangse herbesoek aan die dorp wat die beginpunt was van laasjaar se RSG Red ’n Plaas Camino – ’n gesamentlike Noord-Kaapse kerk- en landbou-inisiatief wat juis die fokus wou plaas op die impak van die langdurige droogte op hierdie skaapwêreld.

Lees meer: RSG Red ’n Plaas Camino: ‘Ek wens elke Suid-Afrikaner kon die gees beleef …’ – Amore Bekker

Nuwe NWO help werk skep

Een van die gevolge was dat baie plaaswerkers hulle werk en blyplek verloor het. Baie het dorp toe getrek, maar met minder besighede was werkgeleenthede hier ewe skaars.

So vertel nog ’n gebore Willistoner, Reginald Nutt, my later oor ’n koppie koffie. Hy woon en werk al jare in die Kaap, maar is die stigter van die organisasie sonder winsbejag (NWO) R.O.C.K.S. wat staan vir Recognise Obstacles Create Solutions. Werkskeppingsprojekte soos die regering se ECWP-program help, maar meer is nodig. Danksy R.O.C.K.S. het 100 mense, meeste tussen 18 en 32 jaar, nou ook ten minste ’n klein maandelikse inkomste omdat hulle inskakel by ’n presidensiële werkverskaffingsprogram (Social Employment Fund of SEF).

Blanche Florence is een van die mense wat soggens aanklop om rekenaarvaardighede te leer in die nuwe rekenaarsentrum. Foto: Verskaf

Dit is een van verskeie projekte wat hierdie NWO bedryf vanuit ’n ou VGK-saaltjie bekend as die Willa Uys-saal (vernoem na ’n NG predikantsvrou wat in die 1930’s, volgens boeke oor die dorp, bykans die hele gemeenskap besiel het om geld te skenk vir die bou van ’n saal vir gebruik deur die Vrouesendingbond). Die saaltjie in die Amandelboom-woonbuurt het deur die jare verskillende gebruike gehad, so het Van Wyk vertel hy het as kind vir ’n rukkie selfs daar skoolgegaan.

Wil iets doen vir kaalvoet en honger kinders

Nutt werk as onderwyser en rugby-afrigter in die Kaap, maar vertel dit is sy ma, Hannie Nutt, wat hom die idee gegee het om hierdie NWO te begin. Hy kuier gereeld by haar op Williston en met een so ’n kuier het sy deur die venster gekyk hoe die kinders kaalvoet deur die ryp skool toe loop en hom gevra of daar nie iets is wat hulle vir die kinders kan doen nie. Later sou hy ook by iemand anders hoor daar is kinders wat skaapderms optel op die afvalgate omdat daar nie kos by die huis is nie.

Reginald Nutt (middel agter) en van die lede van R.O.C.K.S se dagbestuur by die bekendstelling van die rekenaarsentrum in Junie vanjaar. Foto: Verskaf

Nutt vertel hy het deur sy rugbykonneksies (hy het vir Griekwas en Boland uitgedraf en was afrigter vir onder meer die Cravenweekspan en ook die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se Elite Player Development) R150 000 binne drie maande in borgskappe kon insamel. Genoeg om skoolklere en -skoene te koop vir al die sowat 600 leerders van Nico Bekker Primêre Skool op Amandelboom asook skryfbehoeftes vir twee van die jongste graadklasse.

Lees ook: Paarl se omkeerstorie van bendegebied wys sosiale innovasie

R.O.C.K.S bou netwerke

Toe kom hy agter die dorp het, soos dit gaan in ander Noord-Kaapse dorpe, ’n onrusbarende hoë skool dropout syfer. Volgens die jongste statistiek by die Karoo Hoogland Munisipaliteit, waaronder Williston val, het minder as ’n derde van inwoners (26%) van 20 jaar en ouer in 2016 matriek gehad. Nutt kry toe onderwysers en ander wat hom help om ’n naskoolstudieprogram by dieselfde laerskool te begin. Sedertdien kry sowat 100 kinders uit die laer- en hoërskool van Maandae tot Donderdae na skool studiehulp asook ’n toebroodjie, sappie en later ’n gekookte ete.

Die erg verwaarloosde saal moes eers gerestoureer word. Foto: Verskaf

Intussen het hy R.O.C.K.S. as NWO geregistreer en na toestemming vanaf die VGK vir die huur van hulle Willa Uys-saal, het sy span die erg verwaarloosde saal begin restoureer. By navraag hoor ek by hulle skriba, Beatrice Haas, dat hulle die projek se versoek toegestaan het omdat dit jongmense help en dat hulle ook wil sien dat die saal se naam behoue bly.

Van hier af het R.O.C.K.S. uitgebrei tot ’n organisasie met wye Kaapse en plaaslike konneksies. “Interconnected” is hoe Nutt hulle werkswyse beskryf, wat sterk ooreenstem met die klem wat ’n mens deesdae ook in NG kringe hoor oor die belang om netwerke te bou. Nutt verduidelik hulle oogmerk is om op dié manier selfonderhoudend te wees – hy noem trots dat hulle nie van subsidies afhanklik is nie.

Lees ook: Honger vir inligting, nuuskierig oor jou blindekolle … uitgebrand op godsdiens? Groot groep dominees in Pretoria verwelkom

Hulle oogmerk is om veral kinders en jongmense geleenthede te gee.

Daar is ook begin met groentetuine en daar is selfs planne vir ’n eie atletiekklub.
Foto: Heléne Meissenheimer
Rondom die saal is vindingryk gebruik gemaak van herwinde motorbande en bottels om tuin te maak. Foto: Heléne Meissenheimer

Nuwe aanwending van ou kerksaal

Een van die instansies waarheen hy uitgereik het was SKA, die internasionale skottelantennaprojek buite Carnavon, ’n buurdorp so ’n bietjie meer as ’n uur se ry van Williston af. Via hulle befondsing vir gemeenskapsontwikkeling het R.O.C.K.S. die fondse bekom om 16 skootrekenaars te kon aankoop. Die nuwe rekenaarsentrum is op 17 Junie vanjaar bekendgestel by ’n spoggeleentheid in die pragtig opgeknapte saal. 

Die rekenaars word soggens gebruik om voorheen werklose mense rekenaarvaardighede te leer en smiddae kan matrieks hier kom aansoek doen om studiebeurse en hulp kry met die opstel van CV’s. Nutt het ook planne vir aanlynwiskundeklasse, selfs robotikaklasse.

Daar is ook begin met groentetuine en daar is selfs planne vir ’n eie atletiekklub.

Geborg

Hy en sy dagbestuur van ses Williston-inwoners skakel ook gereeld met plaaslike rolspelers uit die polisie, maatskaplike dienste, gesondheid, kerke en skole “oor maniere sodat ons saam die euwels in die gemeenskap kan aanspreek,” verduidelik Nutt.

Euwels soos drank- en dwelmmisbruik, tienerswangerskappe en geslagsgeweld.

“Dit is ons reality,” sê die forsgeboude Nutt, maar voeg dan by, “maar ’n mens kan ’n nuwe reality help skep en dis waarmee ons besig is.”


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.