Dr Gerdrie van der Merwe bring hulde aan van die leraars wat ons in 2024 gegroet het.
DS DAAN BOTHA
(BA, BD)
30 Maart 1950 – 25 Junie 2024
Daniël Botha is op 30 Maart 1950 gebore in Pretoria en word gedoop in die NG Gemeente Daspoort. Albei sy ouers groei op in die omgewing van Pretoria. Sy vader was Pieter Barendse Botha, wat lokomotiewe bestuur by Yskor in Pretoria. Sy moeder is Johanna Catharina van Staden, wat as winkelassistente werk en sy is ook ’n liefdevolle huisvrou. Daan begin in 1956 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Mountainview in Pretoria en word in 1963 leerling aan die Hoërskool Herculus in Pretoria waar hy in 1967 matrikuleer. Onderwysers wat ’n groot rol in sy lewe gespeel het is, is mnr Theo Brenkman wat sy kategeet was in die gemeente en mnr Danie van der Walt, sy geskiedenisonderwyser. Hier speel hy in die kadetorkes.
Na skool doen hy in 1968 sy militêre opleiding. In die weermag verwerf hy die rang van luitenant en begin in 1969 sy teologiese studie aan die Universiteit van Pretoria. Daan het aangedui dat hy die volgende stokperdjies beoefen. Filatelie, houtwerk, jag, numismatiek en pakstap.
Op 8 Desember 1973 is hy getroud met mej Maria Elizabeth van der Linde van Rustenburg, waar haar ouers boere is. Sy is ’n gekwalifiseerde maatskaplike werker en studeer aan die Universiteit van Pretoria. Uit hulle huwelik is twee dogters gebore, Lize en Karen.
Daan word ’n BA (Admissie) student aan Tukkies en verwerf in 1973 sy graad wat hom in 1974 toegang verleen tot die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria. In 1977 dien hy in die bestuur van Deo Gloria, waar hy as student ’n wesenlike bydrae lewer. In sy studentejare werk Daan deeltyds by Yskor se smeltoonde, die busdiens in Pretoria, by die gevangenisdiens en twee jaar lank by Pretoria Hardeware en Groothandel waar hy goeie mensekennis opdoen. Vir sy BD-graad in Teologie spesialiseer Daan in Vaderlandse Kerkgeskiedenis onder leiding van prof PB van der Watt. Die tema van sy skripsie was: “Die lewe van ds AP Burger (1853-1937) Sy eerste bedieningsjare”. Aan die Teologiese Fakulteit speel prof Mias de Klerk en prof Malan Nel ’n groot rol in sy vorming as predikant. Aan die einde van 1977 word Daan as proponent gelegitimeer en is beroepbaar in die NG Kerk.
Op 21 Januarie 1978 word hy met handoplegging in die NG Gemeente Napierville by Pietermaritzburg ontvang en bevestig. Na drie jaar in die Natalse Kerk, word hy op 6 Augustus 1981 leraar van die NG Gemeente Tzaneen-Wolkberg, waar hy met groot vrug werk tot hy in 2010 sy emeritaat aanvaar. Op kerklike gebied speel hy ’n groot rol as ringsvoorsitter en op sinodale gebied in Oos-Transvaal.
Daan sterf op 25 Junie 2024 en by sy herinneringsdiens word met waardering kennis geneem van hierdie man van God se arbeid in koninkryksdiens.
DS LUCIUS DREYER
(BA, MTh)
9 Januarie 1939 – 8 September 2024
Lucius Dreyer is op 9 Januarie 1939 gebore op Vryheid, ’n dorp in die noordooste van KwaZulu-Natal. Sy vader was Christoffel Johannes Dreyer en sy moeder Elizabeth Jacomina Brandt, albei destydse onderwysers op Vryheid. Uit die huwelik is drie kinders gebore, Lucius en twee dogters, Ora en Rosa. Lucius begin sy skoolopleiding aan die Laerskool Vryheid en matrikuleer aan die Hoërskool Vryheid. Hier is hy ook betrokke as kategeet.
Lucius voel geroepe om predikant te word en behaal in Maart 1961 die BA-graad aan die Universiteit van Pretoria. In 1962 word hy student aan die Fakulteit Teologie (Afd B) waar hy na enkele maande se studie onderbreek en tydelik in diens tree by die SAUK. Hy stel baie belang in die uitsaaiwese en die skep van programme, daarom werk hy mee aan die produksie van die program “’n Kind is vir ons gebore”. In 1964 is hy weer terug by Tukkies as teologiese student en hy spesialiseer in kerkgeskiedenis en sy proponentskripsie handel oor “Ds HF Schoon: Sy rol en aandeel in die opbou van die Natalse Kerk”. In sy studiejare is hy ook betrokke by die Sondagskool in die NG Gemeentes Pretoria-Oos en Lynnwood en is later diaken by die gemeente Universiteitsoord in die Jakarandastad. Hy lewer op 25 September 1966 sy proefpreek in die NG Gemeente Daspoort in Pretoria. Dit is nie bekend wat hy gedoen het in die volgende vier jaar nie, want hy word eers in 1970 gelegitimeer.
Ds Lucius Dreyer spandeer ’n hele leeftyd aan hospitaalbediening. Hy word in 1970 met handoplegging bevestig in die NG Gemeente Pinelands, met opdrag hospitaalbediening en in 1974 word ds Lucius Dreyer hospitaalleraar in Groote Schuur, onder leiding van die Ringe van Kaapstad en Wynberg. Dit is ’n lewensroeping wat hy met groot ywer en volharding vervul tot hy in 1999 sy emeritaat aanvaar.
Lucius sterf op 8 September 2024.
DS ELMAR ERLANK
(BA, BA-Honneurs)
21 Oktober 1937 – 1 Julie 2024
Elmar Erlank is op 21 Oktober 1937 gebore op Greylingstad en word in die pragtige kerkgebou gedoop. Sy vader was R Erlank, ’n prokureur van beroep en sy moeder MM Coetzee. Hy begin sy skoolopleiding aan die laerskole op Warden, Harrismith en Bethlehem en matrikuleer aan die Hoërskool Voortrekker op Bethlehem.
Hy voel geroepe vir die bediening en begin sy studie aan die PU vir CHO in Potchefstroom, waar hy die BA-graad behaal. Elmar vertrek in 1960 na Stellenbosch en word student aan die Teologiese Seminarium op die walle van die Eersterivier. Hier behaal hy die lisensiaat in die Teologie en word aan die einde van 1963 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer. Hy lewer sy proefpreek in die NG Gemeente Stellenbosch-Noord, met Hebreërs 12:8 as teksvers. Elmar skryf sy proponentskripsie oor: “Is die sedelike ’n menslike verskynsel?”. Hy trou op 15 Desember 1962 met Barbara du Plessis en uit die huwelik is vier kinders gebore: Elmarie Johanna, Maria Magdalena, Hendrik en Barbara Aletta Erlank.
Proponent Elmar Erlank aanvaar ’n beroep na die NG Gemeente Tweeling in die Riemland. Hy word op 22 Februarie 1964 bevestig deur die konsulent ds RCH Kemp op Tweeling. Die rede word gelewer deur ds FW Ras van Harrismith. Aan die handoplegging neem deel ds RCH Kemp, ds FW Ras, ds GJ Naude, ds JJ de Necker, ds LW Lemkuhl, ds LJC Potgieter, ds PC Cloete, ds JP Viljoen en ds MJ Kritzinger.
In 1968 word hy kapelaan van die SAPD te Parkheuwel in Port-Elizabeth en in 1970 medesekretaris van die VCHO in Bloemfontein. Op 26 Julie 1971 loop sy pad na die Vrystaatse Kerk toe hy leraar word van die NG Gemeente Brandfort, waar hy na ’n kortstondige bediening in 1974 sy demissie neem vir verdere studie. Hy behaal ’n honneursgraad aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. ’n Jaar daarna op 7 Februarie 1975 word hy leraar van die NG Gemeente Reitz-Wes, ’n welvarende gemeente waar hy diep spore trap. Hier is hy ’n boesemvriend van dr Johan Smit, geneesheer en gemeenskapsleier wat diep spore trap in hierdie Riemlandse dorp.
’n Roepstem kom na die Suidoos-Vrystaat toe hy op 26 Januarie 1979 bevestig word in die NG Gemeente Smithfield. Hier vind die pastoriepaar gou hulle voete in die groot boerderygemeenskap, waar hy ook in die wintermaande geleentheid kry om te jag. Hy het baie jagvriende en dit open die deur na boere wat nie kerklik meelewend is nie. In dié tyd kry ds Elmar groot ondersteuning van oom Daan de Wet, prokureur en leier in die gemeenskap en sy vrou Marie de Wet, die skriba/kassier van die NG Kerk. Die gesin woon in ’n nuwe pastorie, wat kort voor hulle koms ingewy is.
Na ’n geseënde drie jaar op Smithfield loop ds en mev Erlank en hulle gesin se pad na die NG Gemeente Heilbron-Suid, waar hy op 6 Augustus 1982 ontvang en bevestig word. Hulle leef die groot pastorie vol en beleef mooi oomblikke toe ’n roepstem slegs na twee jaar kom na die NG Gemeente Koppies, waar hy op 5 Oktober 1984 ontvang en bevestig word. Hier werk ds Elmar Erlank tot hy op 20 Julie 1999 sy emeritaat aanvaar na 35 jaar diens as leraar van die NG Kerk.
Ds Elmar en Barbara Erlank vestig hulle aanvanklik in Bloemfontein en verhuis later na Harrismith by hulle een dogter. In 2014 keer hulle terug na Reitz, waar hy en sy vrou in ’n woonstel by die tehuis vir bejaardes woon, ook naby hulle dogter Elmarie. Hier geniet hy sy ou gemeentelede en maak nuwe vriende wat sy humor en liefde geniet en waardeer. Sy liefde vir mense het uitgestaan en daardie barshou van ’n kyk met sy groot bruin oë, was altyd vol omgee en met deernis. Die laaste twee jaar van sy lewe is hy doof en demensie begin intree. Maar sy dogter Elmarie vertel dat as hulle hom iets van die Bybel vra, was sy brein neutvars en kon hy tekste foutloos aanhaal en daaroor praat. Hy word oorleef deur sy vrou Barbara, wat steeds in hulle meenthuis op Reitz woon.
DS STEF ESTERHUIZEN
(BA, BTh)
1 November 1941 – 5 Mei 1924
Stefanus Albertus Esterhuizen is op 1 November 1941 gebore op Prieska. Sy vader was Pieter Jacobus Esterhuizen en sy moeder Rensche Susanna Smit. Hy begin sy skoolopleiding in 1950 aan die Laerskool Opwag in die distrik en hy is van 1955 leerling aan die Hoërskool Groblershoop waar hy in 1960 matrikuleer. Hy is ’n kranige rugbyspeler en blink ook uit in tennis en atletiek.
Stef voel geroepe om predikant te word en begin in 1961 met sy BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch. In 1964 word hy student aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad, wat in 1965 ’n Fakulteit Teologie aan die universiteit word. In 1966 ontvang hy die BTh-graad, dit val saam met die eeufeesviering van die Universiteit Stellenbosch. Aan die einde van 1967 word hy as proponent gelegitimeer en hy word op 12 Maart 1968 met handoplegging bevestig en ontvang in die NG Gemeente Ysterplaat, sy eerste gemeente.
Na vier jaar loop sy pad na die NG Gemeente Kraaifontein, waar hy op 29 Julie 1972 ontvang en bevestig word. In sy dienstyd word ’n kerksentrum gebou in Kraaifontein. Hier is hy ook betrokke by die bou van Huis Ravensig in Kraaifontein. Tydens die bouwerk het hy op ’n dag op die dak geklim en toe afgeval en sy rug beseer. Later tydens sy bediening in Vryburg ondergaan hy ’n rugoperasie in Johannesburg om voort te gaan met sy werk in die kerk.
Na vyf jaar aanvaar hy ’n beroep na die NG Gemeente Vryburg, ’n groot plattelandse dorp in die beeshemel. Hy geniet die unieke mense van die Noord-Kaap en skryf ook in 1983 die eeufeesboek van die NG Gemeente Vryburg, wat verskyn voor sy vertrek uit die gemeente die week van 3 Desember 1983.
Hy word op 9 Desember 1983 in die NG Gemeente Bellville-Noord ontvang en bevestig, ’n gemeente wat hy 28 jaar lank tot in 2011 met sy emeritaat bedien. In ’n huldeblyk getuig die gemeente: “Dankie dat u ’n lewende teken van God se teenwoordigheid in die wêreld was. In tye van nood het u ons bygestaan met liefde, insig en begrip. Nooit was dit te veel gevra om langs ons te kom stap in ons swaarkry nie. U bereidheid om vir baie jare in die kerkverband ’n ekstra verantwoordelikheid op te neem is ’n teken van God se barmhartigheid. Ons sal u onthou as ’n begaafde en entoesiastiese verkondiger van die Woord van God. U het u lewe daaraan gewy om siele vir God te wen. Ons het groot waardering vir die voorbeeld wat u gestel het”.
Sy begrafnisdiens word waargeneem deur ds Kobus Swarts, waar mense bewus geword het van die groot werk wat ds Stef in die Here se koninkryk gedoen het. Ds Kobus onthou: “Stef was altyd netjies aangetrek, kraaghemp, das en baadjie. Sy kinders het hom op ’n stadium sover gekry om ’n jean te dra, maar dan met die das en die baadjie steeds daar. Hy het altyd tyd gehad om ’n grappie te deel, die humor en die glinster in die oë was altyd daar. Hy het groot waarde geheg aan sy gesin en was vir hulle baie lief”.
Hy sterf op 5 Mei 2024 en sy nalatenskap leef voort in die harte en gedagtes van almal wat hy aangeraak het.
DS PIETER FRANZSEN
(BA)
15 September 1933 – 18 Julie 2024.
Petrus Johannes Franzsen is op 15 September 1933 gebore te Rheenendal, ’n nedersetting tussen Knysna en George. Sy vader was Salmon Herder Franzsen, ’n sakeman en sy moeder Martha Wilhelmina Terblanche, ’n bestuurderes van ’n droogskoonmakery. Pieter begin sy skoolloopbaan in 1940 en is leerling aan die laerskool te Rheenendal, Knysna en Kruisfontein. In 1945 word hy leerling aan die Hoërskool Knysna waar hy in 1949 matrikuleer. As tiener lees hy graag en is korrespondent van die “Klein Burger”. In 1950 word hy student aan die destydse Grey Universiteitskollege in Bloemfontein, wat later die UOVS word. Hy behaal die BA-(graad) en is ook deeltyds werksaam by die Volksblad. Hy werk van 1953-1954 as assistent van die landmeter-generaal in Bloemfontein en werk ook deeltyds by die Lamont Hussey Sterrewag op Naval Hill waar hy assistent is van dr EC Slipher, wêreldberoemde sterrekundige van die Lowel sterrewag in Arizona in Amerika.
Pieter vertrek in 1955 na die Sendinginstituut op Wellington, waar hy as sendeling opgelei word en op die studenteraad dien. Nadat hy op 26 November 1958 gelegitimeer word, word eerwaarde Pieter Franzsen op 6 Februarie 1959 bevestig in die NG Sendinggemeente Nuwerus. Nadat die Algemene Sinode van 1961 predikantstatus aan sendelinge gee, word ds Pieter in 1961 sendeling op Riebeeck-Kasteel, waar hy tot 1968 uitstekende koninkrykswerk verrig. Hy ontvang verskeie beroepe na NG gemeentes, maar bedank elkeen omdat hy met sy arbeid wou voortgaan aan die voet van Kasteelberg.
Vroeg in 1969 word hy medeleraar van die NG Gemeente Fynnland in Durban, terwyl hy ook behulpsaam is by die sendinggemeente op die Bluff en sy gewig ingooi by verskeie Afrikaanse organisasies. ’n Roepstem kom na die NG Gemeente Keetmanshoop in Suidwes-Afrika, waar hy op 29 Julie 1972 bevestig word en ’n geseënde dienstyd beleef, soos die 50-jarige feesviering toe hy ook ’n feesboek publiseer oor die gemeente se geskiedenis. Hierna loop sy kerkpad na die Suid-Afrikaanse Vloot in Simonstad, waar hy op 25 Junie 1976 bevestig word as kapelaan en leraar van die NG Gemeente Simonstad. In 1984 en weer in 1986 word hy op versoek van die kapelaansdiens na Londen gestuur, om ondersoek te doen of ’n voltydse leraar na Europa gestuur moet word om die personeel van ambassades geestelik te bedien. Ds Henno Cronjé is in 1987 die eerste kapelaan.
Ds Pieter Franzsen vorder uitstekend in die vloot tot kaptein en word op 1 Mei 1989 bevorder tot kommandoor en by die kapelaan-generaal se hoofkantoor as Direkteur Personeel aangestel. Hy verwerf verskeie medaljes, onder meer die Suiderkruismedalje vir buitegewoon voortreflike diens en besondere toewyding. Hy word toe ook medeleraar van die NG Gemeente Magaliesfort in Pretoria.
Pieter trou op 22 Junie 1957 op Humansdorp met Lorette (Lulu) Scholtz, ’n maatskaplike werker wat aan die Hugenote Kollege afstudeer. Uit die huwelik is twee kinders gebore, Gustav en Ingrid. In die lente van 1993 tree hy af en die egpaar vestig hulle op Gouritsmond, waar hulle lieflike jare beleef en hy ook soms preek in die kerkie by die strandoord, wat deel is van die NG Gemeente Albertinia. Die egpaar het baie oorsee gereis en 37 lande in Afrika, Europa, die Ooste, Skandinawië en die Amerikas besoek. Hierdie bekwame en hardwerkende dienskneg van die Here, sterf op 18 Julie 2024 en ons eer sy nagedagtenis.
Twee gedenkdienste is ter ere van ds Pieter Franzsen gehou. Op 15 Augustus 2024 is daar ’n diens gelei aan die hand van Psalm 16 deur ds Lambert Jacobs in die NG Kerk Stellenbosch-Noord, waar ds Pieter die laaste paar jaar van sy lewe aktief was op die kerkraad en dagbestuur. ’n Dag later op 16 Augustus 2024 is sy lewe gevier in die NG Kerk Simonstad, waar hy die grootste gedeelte van sy bediening gewerk het.
DR FRITS GAUM
(BA, MA, M-Joernalistiek, DLitt)
25 April 1940 – 1 Oktober 2024
Frederick Malherbe Gaum is op 25 April 1940 gebore in Germiston. Sy ouers was Andrew Hurtley Gaum en Magdalena Leonora Malherbe. Die jong Frits matrikuleer in 1957 in Germiston en is hoofseun van sy skool. Frits voel geroepe om predikant te word en behaal in 1960 die BA-graad aan die Universiteit van Pretoria en in 1961 ’n honneursgraad cum laude. Hierna vertrek hy na die Teologiese Seminarium op Stellenbosch, waar hy in 1964 redakteur is van Polumnia in 1965 redakteur van Die Matie. Hy behaal ook die MA-graad in Letterkunde met prof Dirk Opperman as promotor. Hier word Frits aan die einde van 1965 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer. Een van sy klasmaats is prof Pieter Potgieter, in 1990 moderator van die Algemene Sinode, met dr Frits wat as skriba sy deel bring in die moderatuur.
LEES OOK: ‘Ons sal mekaar waarskynlik nie oortuig nie, máár …’ – Frits Gaum
Prop FM Gaum word op 30 Januarie 1966 leraar in die NG Gemeente Kuruman en trap nie net diep spore in die sand van die Kalahari nie, maar in die harte van lidmate. Hy trou op 3 Junie 1966 met Henda Botha, dogter uit die pastorie van dr Laurie Botha. Op 15 Maart 1969 verwerf ds Frits Gaum die DLitt-graad (Departement Afrikaans), aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, met prof Gerhard Beukes as promotor. Kort daarna vertrek die leraarspaar na die NG Gemeente Wynberg, waar hy op 9 Augustus 1969 bevestig word.
Aan die begin van 1971 word dr FM Gaum met die hand uitgesoek om Bybelkor op Wellington te vestig. Dit is sy breinkind en ’n eerste in Afrikaans, wat die NG Kerk se gewone lidmate bemagtig in die hantering van die Bybel. Hier aan die voet van Groenberg, gaan dr Frits en Henda deur donker dieptes in 1975, toe ernstige kanker by die 35-jarige leraar gediagnoseer word. Menslik gesproke was sy lewe verby, maar hy beleef na gebed Goddelike genesing, net soos die bekende dr Andrew Murray in Wellington destyds. Die gevreesde kanker het na veertig jaar weer teruggekeer, wat sy dood op ’n geseënde ouderdom veroorsaak het.
In 1984 verwerf dr Frits Gaum die Meestersgraad in Joernalistiek op Stellenbosch, met prof PJ (Piet) Cillié as promotor. Op 1 Augustus 1986 word hy redakteur van Die Kerkbode en van 1989 af die hoofredakteur van die NG Kerk se tydskrifte, die Kerkbode, Voorligter en die Jaarboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. In sy dienstyd bereik die Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk besondere hoogtes, ook die stigting van Christen-Netwerk Media in 1993 waarvan hy as uitvoerende voorsitter gedien het. Die netwerk het Christelike programme oor die radio en televisie uitgesaai. Geskiedenis word gemaak toe ’n uitgawe van die Algemene Kerkbode, as bylae in die Afrikaanse dagblaaie gepubliseer word. Op dié wyse kom die kerkblad in nagenoeg ál die Afrikaanse huise in Suid-Afrika. In sy dienstyd by die Tydskrifmaatskappy, was hy gekoppel as leraar van die Groote Kerk in Kaapstad, die gemeente waar die eerste redakteur ds Abraham Faure in 1849, ook die gemeenteleraar was in die Moederstad.
Dr Frits Gaum was van 1990 tot 1998 skriba van die Algemene Sinode van die NG Kerk, en in 1995 moderator van die Wes-Kaapse Sinode. Hy was ’n moedige en kritiese stem in die oorgangsjare van ons land se demokratiese bestel, toe die kerk se profetiese stem gehoor moes word. Nadat dr Frits in 2003 aftree vestig die gesin hulle op Glentana in die Suidkaap, wonderlike jare met ’n groot vriendekring. Hulle verhuis in die onlangse jare na Durbanville in Kaapstad.
Hy was die hoofredakteur van die Christelike Kernensiklopedie en onder sy leiding word die Andrew Murray-prys in 1978 ingestel, later die Andrew Murray-Desmond Tutuprysfonds, waar pryse gegee word vir Christelike teologiese werke in Afrikaans en ander landstale, ’n prys wat hyself later ontvang.
Dr Frits Gaum se aftrede in 2003 was eintlik ’n aantrede, want hy sou byna nog twee dekades lank ’n faktor bly in die NG Kerk, wat sy stem laat hoor. Die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudinge, het die hele Gaum-gesin diep geraak en hulle lewe omgekeer. Hulle seun ds Laurie Gaum se lewensreis as gay leraar was op die spel en hulle het as ouers bankvas agter hom gestaan. Na die besluite van die Algemene Sinode in 2016 reageer dr Frits Gaum en sy medestryders en dit loop uit op ’n opspraakwekkende hofsaak toe elf gelegitimeerdes in 2019 die NG Kerk hof toe neem. Hulle wen die hofsaak teen die sinodebesluit wat vereis dat predikante selibaat moet bly, wat met die hofsaak tersyde gestel word.
Maar dit bring emosionele letsels en bagasie vir die gesin, wat dr Frits, Henda Gaum en ds Laurie word diep en intens sou raak op vele vlakke.
Ek was binne hoorafstand en het dinge met hulle meegeleef, veral op ’n pastorale wyse en gebedsondersteuning. Dit was ’n intense belewing, want na ’n hartsvriendskap van meer as veertig jaar, het ons mekaar se binneboeke geken en verstaan. Die feit dat ons van standpunte verskil, het ons nie uitmekaar gedryf nie, maar respek en agting vir mekaar met oorheersende Christelike liefde, het ons vriendskap net verinnig en versterk. Met my onlangse vierdubbele hartvatomleiding het die brood op die water na my teruggekeer, toe Frits my per selfoon ondersteun het met ’n kragtige en opregte gebed.
Ons bid vir sy vrou Henda en sy kinders Andre, Laurie en Lina. Mag die troos van die Here hulle beskutting wees.
Met die dood op 1 Oktober 2014 van dr Frits Gaum (84) weens kanker in die Netcare-hospitaal in Kuilsrivier, verloor die NG Kerk een van sy bekendste en by tye mees omstrede predikante. Hy word oorleef deur sy vrou Henda en drie kinders, Andre, Laurie en Lina. Hy was nie net teoloog nie, maar ’n prominente kerkleier wat nooit kop gegee het in ’n debat nie en volhard het in ’n saak waarin hy rotsvas geglo het. Maar hy was ook groot genoeg om van standpunt te verander, as hy anders oortuig sou word en dit was selde. Tot kort voor sy dood het hy nog in die pers geskryf, ook met blitsvinnige e-posse landswyd. Hy het die keuse uitgeoefen om nie op te roes nie, maar opgebruik te word.
Dr Frits het nooit sy lus vir die lewe verloor nie, ook nie toe kanker se tentakels hom gewurg het nie. Hy was nie net ’n kerklike denker nie, maar ook ’n doener wat moedig sy kritiese stem laat hoor het op die soms harde kerklike speelveld. Sy liefdeskritiek vir die NG Kerk was eg en sy roeping kristalhelder.
Op 11 Oktober 2024 is Frits se lewe gevier in die NG Gemeente Durbanville waar dr Chris Jones die Woord bedien het. Sy vrou Henda, al drie kinders, André en Laurie Gaum en Lina Hattingh, asook drie kleinkinders Fritz Johann Gaum en Judi en Gerlo Hattingh het aan die dankdiens deelgeneem.
DS HODGES KEYTER
(BA, MA)
12 November 1930 – 23 Augustus 2024
William Hodges Keyter is op 12 November 1930 gebore in die distrik Uniondale. Sy vader was Hermanus Petrus Keyter, ’n plaasboer en sy moeder Anna Johanna van Rooyen, ’n boervrou wat haar gesin met liefde gedien het. Voor hy ses jaar oud was trek sy ouers na Port Elizabeth waar hy in 1945 met sy skoolopleiding begin en in 1948 matrikuleer met ’n mooi uitsig oor Algoabaai. Hy is intens betrokke by die KJV en toe reeds blom sy belangstelling in motorfietsresies. Hy werk van 1949 tot 1952 by die Suid-Afrikaanse Lugdiens, terwyl hy deeltyds aan Unisa studeer vir die BA-graad. Hierna beleef hy die roeping om predikant te word en na verdere studie kry hy in 1956 toegang tot die Teologiese Seminarium op Stellenbosch. Hy blink uit in hokkie en is in sy studentejare kaptein van die Bolandspan.
Op 15 Desember 1956 trou hy met Anna Maria Oberholster en uit die huwelik is drie kinders gebore. Aan die einde van 1957 word hy gelegitimeer en Hodges voel geroepe om sendeling te word. Hy skryf dan ook sy lisensiaatskripsie oor “Die kerklike patroon in die Kleurling-gemeenskap”. Hy verwerf ook in 1958 die MA-graad. Op 20 Junie 1958 word hy met handoplegging bevestig in die NGKA te Dundee en Glencoe in KwaZulu-Natal.
Op 9 Februarie 1965 word hy leraar van die Moederkerk in die NG Gemeente Primrose-Môrewag tot hy op 6 Augustus 1972 na die sendingkerk terugkeer in die NGKA Tembisa asook Lekaneng. Hier werk hy tot hy op 5 Februarie 1984 in sinodale diens tree as PSD vir Sending en Evangelisasie in Suid-Transvaal. Hy is ook betrokke by en die dryfveer agter die Kerk in die Wêreld-program. Hy het altyd die standpunt gestel dat die helfte van die inkomte van die gemeente buite die gemeente bestee moes word, terwyl sy gemeente die voorbeeld gestel het. Sending en evangelisasie was deel van sy roeping en hy het dit op alle vlakke bevorder.
Hier werk hy met hart en siel op ’n besondere wyse en trap diep spore in die koninkryk tot hy in 1996 emeriteer. Ds Hodges Keyter sterf op 23 Augustus 2024. Ds Hannes Windell, bestuurder van die NG Sinode Hoëveld, skryf: “Ek was bevoorreg om ’n tyd lank op die sinodale sendingkommissie te dien waarvoor hy verantwoordelik was en was geïnspireer deur sy entoesiasme en ywer vir die evangelie. Sy lewe en werk het ’n verskil aan baie mense se lewe gemaak. Hy was ook voordat hy in sinodale diens getree het die predikant van die NG Gemeente Primrose-Môrewag en uit my kontak met mense in daardie gemeente, weet ek dat hy ook daar gewaardeerde diens gelewer het.”
DS KOOS LOUW
(BA, Dipl Teol)
19 November 1930 – 14 Maart 2024
Jacobus Murray Louw is op 19 November 1930 gebore in Boksburg en bring sy eerste kinderjare deur in Grasmere, suid van Johannesburg. Sy vader was Andries Africanus Louw en sy moeder Dorothea Elsabe (Dot). Albei het die Here in die onderwys gedien. Koos begin sy skoolopleiding in 1937 aan die Laerskool Grasmere en in 1943 word hy leerling aan die Hoër Volkskool op Heidelberg in Transvaal. In 1944 is hy leerling aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria waar hy in 1946 matrikuleer. Hy voel geroepe om predikant te word en vertrek in 1947 na die Universiteit van Pretoria waar hy twee jaar lank studeer. In 1948 loop sy pad na die Universiteit Stellenbosch en hy verwerf later die BA-graad. Hy kry ook ander werkservaring, in 1951 en 1952 by die Suid-Afrikaanse weerburo en in 1953 en 1954 by die Departement van Vervoer. Hy trou op 22 April 1960 met Anneleen de Beer, dogter van ds DFB de Beer, en uit die huwelik is vier seuns gebore.
In 1955 begin hy sy studie aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tukkies en word aan die einde van 1958 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer. Sy skripsie in sy lisensiaatsjaar handel oor ds Andrew Murray se rol in die sending. Hy speel ’n belangrike rol in die ACSV.
In sy hart beleef hy die roeping om sendeling te word en word op 31 Januarie 1959 sendeling in die sendingkring Burger op Maandagshoek naby Burgersfort. Koos is van 1963 tot 1966 werksaam by Erasmus/Premiermyn by Bronkhorstspruit. Op 9 Oktober 1966 word hy sendeling te Ratanang by Bourke’s Luck tot hy op 1 Desember 1973 by die NGKA Bethesda op Dendron bevestig word. In 1983 word hy sendeling te Hho-Hho by Mbabane in Swaziland vir die Reformed Church in Swaziland.
Hy aanvaar sy emeritaat op 31 Desember 1993 en werk hierna sestien jaar lank as pastorale hulp in die NG Gemeente Riviera. Hy skryf oor sy bediening in die sendingveld: “Dit was ’n groot voorreg om vir 17 jaar veral sendelinge te leer hoe om ’n ander taal aan te leer om so meer effektief die Woord te bedien. Dit was meestal sendelinge uit Suid-Afrika, maar ook persone uit Amerika en Europa”.
Ds Koos Louw het ook diep spore getrap op ’n wye gebied. Hy is van 1975 tot 1983 betrokke by die Gesangeboek se kommissie vir die Noord-Sotho en help met vertalings soos die Formuliere van Eenheid en die opstel van ’n katkisasieboek van die NGKA. Hy skryf ook handleidings vir taalkursusse. Koos het steeds die Brewster/LAMP taalleer-kursusse vir sendelinge aangebied. Hy het betrokke geraak by Radiokansel se telefoonberadingspan. Hy beskryf hierdie jare as die mees vervullende tyd in sy bediening. Deur die jare het dinge net beter en beter geword!
“Met Pappa se 73ste verjaarsdag het ons ’n funksie gehou om hom te vereer en bedank vir sy lewe en liefde. Daar kon ons al die mooi goed oor hom vir hom sê sonder om vir ’n begrafnis te wag! Dit was so heerlik,” laat weet sy familie.
Na sy aftrede vestig hy en sy vrou Annaleen hulle op Brits en daarna in Pretoria om naby hulle kleinkinders te wees. Hy skryf na sy aftrede: “Bly by die Woord en leer uit die geskiedenis van die kerk. Help elke lidmaat om seker te wees van sy kindskap van ons Hemelse Vader en om sy getuienis uit te lewe, om enige nie-gelowige te help glo in Jesus as enigste Weg, Waarheid en Lewe”.
Die laaste paar jaar van sy lewe het demensie sy interaksie met mense begin beperk, maar deur dit alles was hy steeds so wonderlik lief vir en bedagsaam met mense en was altyd gereed om te bid. Daar was geen onderbreking in sy interaksie met die Here God nie. Ons dank die Here vir sy standvastige, liefdevolle en toegewyde lewe. Hierdie man van God wat altyd sendeling gebly het, sterf op 14 Maart 2024 en ons eer sy nagedagtenis.
DR BREDA LUDIK
(BA, BTh, MTh, DTh)
3 Februarie 1955 – 7 September 2023
Cornelius Breda Ludik is op 3 Februarie 1955 gebore te Tzaneen in die Laeveld van Transvaal. Sy ouers was Barend Adriaan Benson Ludik, ’n besigheidsman en Lora Johanna van Breda, ’n tuisteskepper. Breda ontvang sy oupa se van as noemnaam en begin in 1961 met sy skoolloopbaan aan die Laerskool Sondagsrivier en is ook in 1968 leerling aan die Hoërskool PJ Olivier op Grahamstad. Later in 1968 word hy leerling aan die Hoërskool Nelspruit, waar hy gou sy voete vind en uitmunt as ’n geliefde leerling. Hier matrikuleer Breda in 1972 en is destyds die judo-kampioen van die Oos-Transvaal, asook die Transvaalse wenner van die SAUK se kennisvasvrawedstryd. Hy is ook die skool se beste skaakspeler en dien op die leerlingraad.
Breda voel geroepe om predikant te word en begin in 1973 met sy studie aan die Universiteit Stellenbosch. Een van sy klasmaats is die jong Gerdrie van der Merwe van Trompsburg. In 1975 ontvang hy die BA (Admissie) op Stellenbosch en kry in 1976 toegang tot die Fakulteit Teologie op die walle van die Eersterivier, waar hy in 1978 die BTh-graad verwerf. Op die akker dien hy op die huiskomitee van Huis Majuba en is bestuurslid van die Berg- en Toerklub asook die sendingweekkomitee. In 1979 verhuis hy na Pretoria om sy proponentsjaar aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria te voltooi. Na sy legitimasie op 16 November 1979 is hy nie beroepbaar nie weens militêre diensplig. Hy trou op 4 April 1981 met Myrtle Frances Jonker, ’n musiekonderwyseres. Uit die huwelik is drie kinders gebore, een seun en twee dogters.
Prop Breda Ludik word op 19 April 1981 met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Despatch-Eendrag. Dit was sy eerste kennismaking in die bediening en hy beleef goeie tye in die Oos-Kaap, as leraar van ’n werkersklas gemeente waar hy met oorgawe sy werk verrig. Hier behaal hy groot sukses met jeugbediening. ’n Roepstem kom na die NG Gemeente Upington-Oos waar hy op 4 Maart 1984 ontvang en bevestig word, ’n florerende gemeente op die walle van die Oranjerivier. Na slegs ’n jaar stig die NG Gemeente Upington-Blydeville af en op 3 Maart 1985 word ds Breda Ludik die eerste leraar van die gemeente. In dié tyd is hy ook ’n staatmaker op sinodale vlak in die Sinode van Noord-Kaapland.
Voordat hy werklik ’n inpak kon maak in Upington-Blydeville, kom ’n aanloklike roepstem na die NG Gemeente Helderberg in Somerset-Wes, wat hy met albei hande aangryp. Hier word hy op 15 Maart 1987 bevestig, ’n gemeente waar hy tot met sy emeritaat op 30 November 2019, met oorgawe werk. Hier gebruik die Here ds Breda op ’n besondere manier deur middel van retraites, geloofsbegeleiding en met kursusse oor spiritualiteit.
In 1992 behaal hy die MTh-graad in Teologie en in 1999 die DTh-graad aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Die tema van sy doktorsgraad is veelseggend en weerspieël dr Breda se ingesteldheid teenoor die bediening en mense: “Taking God seriously, taking life seriously: Praying the Psalms as a congregational strategy for integrated spirituality”.
Dr Breda Ludik is in die jare 2000-2001 intens betrokke by die herstrukturering van die NG Gemeente Helderberg en beleef die ontploffing van deelname en inisiatief van gewone lidmate op voetsoolvlak, in die gemeente wat uit sy nate bars. Hier aanvaar hy op 30 November 2019 sy emeritaat na ’n dienstyd van 32 jaar. Hy en sy vrou France voel om nog langer vir die Here te werk en vertrek na Edinburgh in Skotland, waar hy ’n jaarlange program deurloop om leraar te wees in die Skotse Kerk. Op 22 Desember 2020 word hy bevestig as leraar van die St Andrew’s Lhanbryd and Urquhart gemeente te Moray in Skotland. Hier werk hy slegs twee jaar en ses maande, want vroeg in 2021 word terminale kanker by hom gediagnoseer, maar hy gaan voort met sy werk as herder en leraar in Moray, Skotland.
In die winter van 2023 is die kanker aggressief en hy vertrek terug na Suid-Afrika om die laaste maande by sy familie, kinders en kleinkinders te wees. Dr Breda Ludik (68) sterf op 7 September 2023 en sy begrafnisdiens in Engels, met Psalm 19 as teksvers, word gebeeldsend na sy gemeente in Skotland. Alastair Rossetter skryf uit Skotland: “The Church of Scotland has been privileged to have had such a humble, gracious and godly man in its service. He leaves an incredible legacy and we will miss his warmth, his faith and dedication to our church.”
DS JOHAN OOSTHUIZEN
(BA Honneurs, BTh, MTh)
30 September 1955 – 20 Februarie 2024
Johannes Oosthuizen is op 30 September 1955 gebore op Robertson. Sy vader was Johannes Frederick Oosthuizen, ’n klerk by die Suid-Afrikaanse Spoorweë en sy moeder Emmerentia Cronjé, ’n huisvrou. Johan begin sy skoolopleiding in 1962 aan die Laerskool Robertson en is van 1969 leerling aan die Hoërskool Robertson waar hy in 1973 matrikuleer. Hy voel geroepe om predikant te word en is op Stellenbosch voorsitter van die CSV se stranddienskomitee waar hy leiding neem en ’n verskil maak. Hy verwerf die BA (Admissie) wat hom toegang gee tot die Fakulteit Teologie op die walle van die Eersterivier. Hy verwerf ook ’n Honneursgraad in Sielkunde op Stellenbosch.
In 1981 verwerf hy die BTh-graad en later die MTh-graad in Teologie met die tema: “Pastoraat aan die verbondsouers met betrekking tot die peuter”. Aan die einde van 1981 word hy as proponent gelegitimeer. Hierna doen Johan sy militêre diensplig en raak op ’n besondere manier as kapelaan jongmanne aan. Johan trou op 11 Desember 1982 met Louisa Susanna Linde en uit die huwelik is twee kinders gebore, Cornel en Emmerentia.
Johan ontvang ’n beroep na die NG Gemeente Vosburg, waar hy op 11 Mei 1984 met handoplegging ontvang en bevestig word. Hier doen hy en sy vrou goeie werk en is twee geliefde mense wat die plattelandse lidmate met oorgawe bedien. Hy het noue kontak met die mense en is vir hulle ’n ware vriend. Sy dogter Cornel wat in die pastorie met sy breë plankvloere grootgeword het, is ook daar met ’n boer getroud. In 1995 is hy intens betrokke met die eeufees van die kerkdorp, waar die NG Kerk so ’n groot rol gespeel het. Op sinodale vlak speel hy ’n mooi rol in die sinodale jeugkommissie tydens sy dienstyd op Vosburg. Ons onthou die goeie tye by Pro Regno-kampterrein by Barkly-Wes, waar hierdie aangename mens met sy teenwoordigheid ons lewe aangeraak het.
Na meer as twee dekades op Vosburg kom ’n roepstem as leraar van die NG Gemeente Tadcaster in die Vaalharts waar hy in 2006 ontvang en bevestig word. In dieselfde tyd het ek ’n beroep aanvaar van Kuruman na Bethulie in die Vrystaat en ons het altyd geskerts dat die engele die getroue boodskappers was om te weet wanneer ons ons gemeentelike tentpenne moet uittrek. Hy trap diep spore in die boerderygemeenskap, waar daar intensief geboer word met landbougewasse en pekanneutbome. By tye in strooptyd het hy soms huisbesoek op ’n stroper langs die eienaar gesit en so huisbesoek gedoen. Hy het saam met sy mense geleef. Ds Johan se prioriteit as gemeenteleraar was altyd om lidmate tot geestelike volwassenheid te lei.
Op 30 November 2020 aanvaar ds Johan sy emeritaat en die egpaar vestig hulle op Reebok naby Mosselbaai. Hy skakel gou in by die gemeente en sy insette word baie waardeer. Johan was baie lief vir swem en sy branderplank, en hy sterf op 20 Februarie 2024 op Buffelsbaai, waar hulle elke Februarie met die karavaan gaan kamp het. ’n Herinneringsdiens word gehou in die NG Kerk Reebok en word waargeneem deur die plaaslike leraar, ds Chris de Wet. Sy kleinseun Jaco van der Merwe het ’n treffende en hartroerende huldeblyk gelewer tydens die diens, waar die ware lewensbeeld van ds Johan as man van God na vore gekom het.
DR JP PIENAAR
(BA, BD, MTh, PhD)
11 Julie 1946 – 14 Junie 2024
Johannes Petrus Pienaar is op 11 Julie 1946 gebore te Amersfoort. Sy ouers is Johannes Arnoldus Jacobus Pienaar en sy vrou Cecilia Margaretha Naude, wat die Here as boere dien. JP begin sy skoolopleiding in 1953 aan die Laerskool Pongola en is van 1960 tot 1963 leerling van die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg. In 1964 is hy leerling aan die Hoërskool Piet Retief, waar hy in 1964 matrikuleer. Hy neem in sy skooljare op provinsiale vlak deel aan tennis, atletiek en krieket. Na sy matrikulasie doen hy in 1965 en 1966 sy weermagopleiding en hy sluit daarna permanent by die Suid-Afrikaanse Polisiemag aan waar hy werk tot in 1978.
Hierdie lang tyd in publieke diens bring mensekennis en ervaring wat hom later in sy lewe sou help in die bediening. Hy trou op 31 Desember 1968 met Cornelia Margaretha (Nellie) Moolman. Uit hulle huwelik is twee seuns gebore, Arno en Ian. In 1978 verlaat JP die polisiemag om voltyds te gaan boer, ’n reusesprong wat hy met entoesiasme aanpak. Intussen raak die roeping om predikant te word so sterk dat hy in 1990 die voltydse boerdery vaarwel roep en na Pretoria verhuis om predikant te word. Hier behaal hy in 1992 die BA (Teol) en in 1995 behaal hy die BD-graad. Hy geniet die tyd aan die Fakulteit Teologie aan Tukkies en sy BD-skripsie handel oor: “Die gelowige as priester: ’n Eksegeties-praktiese ondersoek”.
JP Pienaar word op 17 November 1995 as proponent gelegitimeer, in ’n tyd toe beroepe skaars en daar te veel leraars was in die NG Kerk. Hy ontvang ’n beroep na die NG Gemeente Amsterdam, in die bekende wêreld by Amersfoort waar hy die eerste lewenslig aanskou het. Hy werk hard en geniet sy geestelike werk op Amersfoort en in 2010 is dit sy voorreg om sy moeder en vrou as ouderlinge te bevestig in die gemeente waar hy die herder en leraar is. Tydens sy diensjare op Amersfoort studeer hy ook verder en behaal op 22 April 2010 die PhD-graad met die tema: “Die verhouding tussen die Christologie en etiek in die brief aan die Kolossense”. In 2010 skryf die Oosnuus “dat JP die twee-en-veertigste predikant binne die sinode geword het, wat as dr aangespreek word”.
Na dr JP se emeritaat in 2012 word hy vir ’n verdere twee jaar in ’n vastetermynpos aangestel en hy aanvaar in 2014 finaal sy emeritaat. Hy is ’n dekade lank afgetree tot hy op 14 Junie 2024 sterf.
DS STEF SKEEN
(BA, BD)
31 Februarie 1931 – 25 Februarie 2024
Stefanus Octavius Skeen is op 31 Februarie 1931 gebore te Edenburg in die Suid-Vrystaat. Sy vader was Frank Solomon Skeen en sy moeder was Maria Magdalena Malherbe. Sy pa was ’n sendeling op die dorp en het die hele streek geestelik bedien. In 1937 begin hy met sy skoolloopbaan op Edenburg en toe sy ouers in 1943 na die Rand verhuis word hy leerling in Randfontein. Hy is van 1945 leerling aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp, waar hy einde 1948 matrikuleer. Hy voel geroepe om predikant te word en begin in 1949 met sy BA graad aan die Universiteit van Pretoria en kry toegang tot die Fakulteit Teologie (Afd B) waar hy aan die einde van 1955 as proponent gelegitimeer word.
Die jong Stef word sendeling in die Transkei op Rietvlei (NGKA) en word vroeg in 1957 met handoplegging ontvang en bevestig deur sy vader ds SF Skeen. Die dosente aan die Teologiese skool op Decoligny, met name dr Dirk Odendaal, dr Jannie du Preez, dr Bart Wooding en dr Charl du Plessis is ook teenwoordig.
In 1959 word hy sendeling in Krugersdorp, waar hy in 1961 deur die kerkraad van die NG kerkraad van Krugersdorp-Noord aangekla word by die Ring. Hy skryf: “Hulle kla dat ek die landswette oortree het deur voor Sabra en Pro Veritas gesamentlike aanbidding te bepleit, waarna die ring die klag verwerp”.
In 1963 neem Stef ’n beroep aan as sendeling na Welkom, waar hy in hierdie myndorp werk tot hy emeriteer op 30 April 1994 as sendeling van Merafong op die Vrystaatse Goudvelde. Hy het al die jare gewerk onder trekarbeiders in die kampongs. Sake wat vir hom uitstaan in sy bediening is sy deelname aan die stigtingsvergadering van die VGK uit die NGKA en die NG Sendingkerk. Hy was ook die aktuarius van die NGKA in die Vrystaat, redakteur van die Ligstraal en moderator van die NGKA Vrystaat van 1990 tot 1994.
Ds Stef Skeen sterf op 25 Februarie 2024 na ’n lang loopbaan as baanbrekersendeling in die kampongs.
DS FANIE SPAMER
(BA, BTh)
18 September 1960 – 6 April 2024
Stephanus Spamer is op 18 September 1960 gebore op Kroonstad. Sy ouers was Julius Spamer, ’n boorling van Thaba Nchu en sy moeder Johanna Susanna Cronjé, ’n boorling van Kroonstad. Fanie word groot op die Vrystaatse goudvelde in Welkom. Hy begin sy skoolloopbaan in 1967 aan die Laerskool Dagbreek, waar sy ouma ook ’n onderwyseres was. In 1974 word hy leerling aan die Hoërskool Welkom Gimnasium, waar skoonpa DJ Wolvaardt vir baie jare Afrikaans gegee het. Hy matrikuleer in 1978 en voel geroepe om predikant te word en begin in 1979 met sy studie aan die PU vir CHO in Potchefstroom. In 1980 skuif hy na die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waar hy in 1982 die BA-graad verwerf.
Hy word in 1983 student aan die Fakulteit Teologie op die Bult, ’n jong opleidingsentrum wat in 1981 sy eerste studente begin oplei. Hier ontvang hy in 1985 die BTh-graad en hy word in 1986 as proponent gelegitimeer. Sy skripsie is: “Die plek en die funksie van die koor in die erediens”.
Hierna verrig hy twee jaar lank militêre diensplig en na sy basiese opleiding aan die Leërgimnasium op Heidelberg, voltooi hy sy diensplig by 1 SAI Tempe in Bloemfontein. Hy trou met Annareth Wolfaardt en uit die huwelik is twee kinders gebore, ’n dogter Anel, ’n verpleegkundige en ’n seun dr Stefan Spamer, ’n mediese dokter in Kimberley.
Prop Fanie Spamer word beroep na die NG Gemeente Wilgehof-Wes, later Gardeniapark, in Bloemfontein. Hier word hy op 28 Januarie 1989 met handoplegging ontvang en bevestig. Predikante wat aan die handoplegging deelneem is ds GJ van Dyk, ds ZCP Boshoff, ds G Read, ds JO de Waal, ds PJ Strauss, ds JC Dippenaar, ds JJ Marais, ds M le Roux en ds SJ Sterfontein. Hier werk hy in Gardeniapark met groot vreugde en mooi geestelike dinge vind plaas.
’n Roepstem kom na die NG Gemeente Hartenbos in die Suid-Kaap, waar hy op 1 Maart 1995 ontvang word in die vakansiedorp. Hy beleef goeie tye maar sy hart trek terug na die Vrystaatse boere-adel en gasvryheid, daarom aanvaar hy ’n beroep terug na sy vorige gemeente Gardeniapark in Bloemfontein, waar hy op 27 Junie 1997 weer bevestig word as leraar van die gemeente. Dit is ’n rare verskynsel om terug beroep te word na jou vorige gemeente, waar hy nog 11 jaar lank met groot seën en toewyding werk.
Met sy vertrek in 2008 na die NG Gemeente Heuwelsig, is dit ’n groot afskeid en tranedal in Gardeniapark. Hier werk hy met groot vrug tot hy op 11 Maart 2021 sy emeritaat aanvaar. Hy skryf met sy sestigste verjaarsdag: “Hoe vinnig het die jare nie verbygegaan nie! Die afgelope maande met die Corona-virus is ons almal gekonfronteer met ons eie sterflikheid en dit waarmee ons ons elke dag besighou. In ’n sin was dit ’n groot gelykmaker. ’n Kollega van my, ds Gerhard Botha, het eendag gepreek daaroor dat ons moet leer om “lig te reis”. Ons dra swaar aan bagasie, veral die aardse goed wat ons tog so kan bymekaarmaak. Ons kan met baie minder klaarkom”.
In 2022 kom ’n roepstem na die NG Gemeente Reddersburg, waar hy op ’n deeltydse basis werk in die gemeente met sy mooi klipkerkgebou. Op 2 April 2024 tydens huisbesoek op ’n plaas in die distrik Reddersburg kry hy ’n ernstige beroerteaanval en sterf op 6 April 2024 in die hospitaal in Bloemfontein. ’n Huldigingsdiens word op 11 April 2024 in die NG Kerk op Reddersburg gehou.
DS DANIËL VAN DER MERWE
(BA Honneurs)
8 Januarie 1929 – 27 Februarie 2024
Daniël du Toit van der Merwe is op 8 Januarie 1929 gebore in die distrik Ladismith, Kaap. Sy ouers is Pieter Guthelmus van der Merwe, ’n boer en sy moeder is Elizabeth Helena du Toit, ’n onderwyseres. Hy begin sy skoolloopbaan in 1935 op Hoeko, ook die geboorteplaas van CJ Langenhoven. In 1942 is hy leerling aan die Hoërskool Sir De Villiers Graaff op Villiersdorp, waar hy in 1945 matrikuleer.
Daniël het die begeerte om sendeling te word en vertrek in 1946 na Wellington waar hy aan die Hugenote Universiteitskollege die BA-graad verwerf. Hierna studeer hy aan die Sendinginstituut, waar hy in 1952 as sendeling gelegitimeer word. Hierdie eerwaardes verwerf die erenaam “donkies”, want dr Andrew Murray het met die stigting van die opleidingsentrum vir sendelinge gesê dat hulle die evangelie Afrika moet binnedra soos die donkie Jesus in Jerusalem ingedra het. Met die Algemene Sinode in 1961 het hulle leraars geword en ds Daniël van der Merwe was toe reeds sendeling in Nigerië. Hy trou op 15 November 1958 met mej Dorothea Regina Grabe en uit die huwelik is twee kinders gebore, Dalene en Pierre.
Dit was ’n groot oomblik toe proponent Daniël du Toit van der Merwe op 7 Februarie 1953 met handoplegging bevestig is in die NG Gemeente Ladismith, Kaap vir sendingwerk in die land wat nou Nigerië heet. Hy begin in 1953 as sendeling te Turan in Nigerië en vertrek in April 1954 na die sendingstasie op Shanger, waar hy tot 1964 werk. Hy werk sedert 1957 aan die hersiene vertaling van die volledige Bybel in die Tiv-taal, ’n taak wat in 1964 afgehandel is. Toe die spanning wens die Uhuru-beweging in Nigerië sake bemoeilik, vertrek hy in die lente van 1964 na Jichidza in die destydse Rhodesië.
Hier werk hy tot hy in 1966 na die sendingstasie Nyashau in Rhodesië vertrek en toe in 1967 gesekondeer word om aan Bybelvertaling in die Tivtaal te werk. Hy en sy vrou Doreen woon in Pumashana en Zimotu. Intussen bepaal hy hom by die hersiene vertaling van die Bybel en skryf ook geestelike literatuur in Sjona en is ook betrokke by die hersiening van die Sjonabybel. Hy en twee swart medewerkers werk ook aan die Evangelie van Johannes in die Karaga-dialek.
Ds Daniël verwerf in 1978 ’n BA Honneursgraad in linguistiek aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy is ook betrokke by die vertaling van die Afrikaanse Lewende Bybel en verhuis in 1975 na die Republiek om eers die Lewende Bybel in Nuwe Testament in 1978 en die volledige Lewende Bybel in Afrikaans in 1982 te help verskyn. Hierna gaan hy terug na Zimbabwe, waar hy tot met sy aftrede op 30 April 1994 werk op die hersieningskommissie van Sjona en die vertaling van Christelike lektuur.
Na sy emeritaat gaan woon hulle ses jaar lank in die Paarl, waar hy steeds met sy skryfwerk voortgaan. Hy bly werk, want vertaalwerk is in sy bloed en hy doen dit met oorgawe tot in sy tagtigste jaar. Na ses jaar in die Paarl verhuis hulle na Pretoria, waar hy as konsultant met sy lewenstaak as vertaler van die Bybel in Afrikatale voortgaan. Na die dood van sy vrou trou hy weer, hierdie keer met Hilda. Hy sterf in sy 95ste jaar op 27 Februarie 2024 en sy dogter Dalene onthou haar vader se toegewydheid aan die werk van die Here.
DR WILLEM VAN ZIJL
(BA, MA, BTh, DTh)
3 Augustus 1932 – 12 Julie 2024
Met die dood van dr Willem van Zijl (91) op 12 Julie 2024, groet ons ’n leraar wat in sy leeftyd bekendheid verwerf het as uitvoerende voorsitter van die NG Kerk-Uitgewers. Dr Willem en die briljante ds Norval Geldenhuys (1918-1964), is na my mening twee leraars wat die afgelope eeu in Suid-Afrika, meesters was om die Christelike boek in studeerkamers en huise van lidmate te bring. Elkeen se invloed in die boekewêreld en uitgewersbedryf is onbeskryflik groot, wat elkeen ’n legende in hulle leeftyd maak.
Willem Jacobus van Zijl is op 3 Augustus 1932 gebore in die distrik Albertinia en studeer op Stellenbosch waar hy einde 1956 gelegitimeer word. Hy bedien die NG gemeentes Robertson en Port Elizabeth-Sentraal en word in 1966 besturende direkteur NG Kerk-Uitgewers en in 1979 uitvoerende voorsitter van die NG Kerk-Uitgewers. In 1992 raak hy betrokke in die tentmakerbediening by Ebenhaeser, waar hy in 1996 sy emeritaat aanvaar. Hy verwerf ’n doktorsgraad in die teologie op Stellenbosch met die tema: “’n Kerkhistoriese bibliografiese studie van die boek as draer van die Nederduitse Gereformeerde belydenis in Suid-Afrika, 1652-1965”. Dit word in 1992 uitgegee in boekvorm, Van seepkis na wakis na boekrak.
Ds Willem van Zijl het in die 1970’s en 1980’s die NG Kerk-Uitgewers uitgebou tot ’n sterk uitgewery met kleinhandelafsetpunte in al die groot stede. ’n Depot is ook by die Kweekskool op Stellenbosch geopen, wat verseker dat in die hoogbloeityd van groot klasse studente boeke kon koop. Talle teologiese handboeke word uitgegee en verkoop, terwyl boeke van ds Solly Ozrovech en ds Izak de Villiers soos soetkoek verkoop. Die NG Kerk se 1978-Gesangboek, is onder leiding van ds Willem uitgegee en het bygedra tot die finansiële sukses van die uitgewery. Die NG Kerk-Uitgewers en sy sustermaatskappy Lux Verbi, leef as ’n druknaam van NB Uitgewers.
Na dr Willem se aftrede is hy opgevolg deur ds Stephan Spies, ’n boorling van Schoemanshoek waar ons grootouers kerklik meeleef in die NG Gemeente Kangovalleie. Met sy entoesiastiese wakker sakebrein, is hy as jong leraar ’n waardige opvolger van ds Willem van Zijl.
Prof Johannes Froneman skryf: “Willem van Zijl was ’n vernuftige sakeman wat sy leserspubliek goed verstaan het. Met ’n Bertha Smit as redaksiehoof aan sy kant, kon hy ’n wesenlike bydrae maak tot die Christelike boek in Suid-Afrika. Daarvoor kan hy gerus onthou word”. Hy was ’n merkwaardige man met ’n eiesoortige uniekheid in die boekebedryf. Prof Pieter Potgieter onthou ds Willem as ’n briljante strateeg en voorsitter, ’n innemende mens met waardes wie se ingebore liefde vir boeke legendaries is. ’n Merkwaardige mens met ’n eiesoortige uniekheid.
Dr Willem van Zijl se herinneringsdiens in die Strand, word waargeneem deur sy vriend ds Kobus van der Westhuyzen. Hierdie begenadigde man van God en voorheen van die Groote Kerk in Kaapstad, bring die trooswoord uit die Heidelbergse Kategismus, oor ons enigste troos in lewe en dood. Dit bring groot troos aan dr Willem se vrou Arina, familie en vriende.
By geleentheid is ons by ’n kerklike dinee in Kaapstad wat deur die NG Kerk-Uitgewers aangebied word. Saam aan tafel is ds Solly Ozrovech, prof Pottie Potgieter, prof Tobie Hanekom, prof Johan van der Merwe (Hugenote Kollege) en argivaris ds AP Smit. Na ’n gesprek oor of daar boeke in die hemel sal wees, voel ons ongemaklik in die teenwoordigheid van Johannes Calvijn se regterhand in Suid-Afrika, die alomgeliefde oom Pottie Potgieter van Stellenbosch.
Op daardie oomblik sluit die sjarmante gasheer, ds Willem van Zijl, by ons aan en herinner ons dat daar in Maleagi, die laaste Bybelboek in die Ou Testament en in Openbaring, die laaste boek in die Nuwe Testament, geskryf word oor die gedenkboek wat geopen word en oor die boek van die Lewe met ons name daarin. Die spanning is gebreek. Wens ek kon vir oom Willem van Zijl vandag vra: Is daar boeke in die hemel?
DS NEELS VAN ZYL
(BA, BD)
30 Julie 1952 – 26 Julie 2023
Hermias Cornelius van Zyl is op 30 Julie 1952 gebore te Calvinia in die Hantam. Sy vader was Stephanus Christian van Zyl, ’n senior rekenmeester by die Ongevallekommissaris en sy moeder Clasina Jacoba Walterina Lighart, die sekretaresse van die saakgelastigde van die NGKA in die Sinodes van Noord- en Suid-Transvaal. Neels begin sy skoolopleiding aan die Laerskool Calvinia en matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Hy ontvang sy militêre opleiding aan die Leërgimnasium in Heidelberg in Transvaal.
Neels begin in 1972 met sy studies aan die Universiteit van Pretoria, waar hy die BA-graad in 1975 verwerf. Hy word toe student aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tukkies, waar hy in 1978 die BD-graad verwerf. Die skripsie was: “Athanasius se denke aangaande die Heilige Gees en die invloed daarvan op verdere denke”. Hy word op 16 November 1979 as proponent gelegitimeer.
Op 9 Februarie 1980 word hy met handoplegging in die NG Gemeente Eshowe ontvang en bevestig met standplaas Mandini en hy verhuis op 29 November 1981 na Mandini. Hier werk hy tot in 1984 toe hy demissie ontvang om verder te studeer. In 1987 word hy leraar van die NG Gemeente Olifantsfontein, waar hy met groot seën werk. Hy beleef ’n hoogtepunt met die opvoering van die Passiespel in 1994 in die gemeente. Neels het sy doktorale eksamens in Kerkgeskiedenis afgehandel en sy studie het gehandel oor die versoeningsleer van Ambrosius van Milaan. Hy was daarom ook lid van die Vereniging van Patrisiese en Bisantynse studies en ook van die Kerkhistoriese Werkgemeenskap van Suid-Afrika.
Op 30 September 2011 aanvaar hy sy emeritaat maar keer in 2014 weer terug na die amptelike bediening, toe hy leraar word van die NG Gemeente Wierdapark-Suid. Hy het diep spore in die Ring van Lyttelton getrap, in besonder by die CMR en Barmhartigheidsdiens. Hier werk hy met groot seën tot hy finaal in 2022 emeriteer, ’n welverdiende rustyd vir hom en sy vrou Carina. Ds Neels van Zyl sterf op 26 Julie 2023 en die kerkgemeenskap van Wierdapark-Suid is baie aangedaan toe afskeid geneem moes word van hierdie dienskneg van die Here.
Wat van Ds Hennie Strydom in Robertson?