Ek kuier by die stigterslid van Skuilkrans NG Gemeente se Brood en Bybels-uitreikgroep. Sy is ’n uitmuntende storieverteller, maar sy weier volstrek dat ek die gesprek opneem of name noem, want die onderhoud mag op geen manier aandag vestig op haar of die spanlede nie. “Dis nie vir ons eie eer nie.”
Sy was jare in die diplomatieke diens en lid van ’n VN-taakspan. Vir ’n lang tyd slaap sy ongemaklik in haar knus bed met die gewetenslas dat desperate werksoekers al donkeroggend begin vergader, slegs ’n paar treë buite haar kompleks. Winteroggende hier in Pretoria ry sy moeilik verby die hoopvolle werksoekers wat wag om opgelaai te word vir ’n piece job en ’n dagloon. One timers – soos hulle hier bekendstaan. sy wens sy kan iets eenvoudig soos ’n toebroodjie en teksversie gee.

Begin by een mens
Ná haar aftrede begin sy in 2017 om een persoon te bederf. Sy oortuig ook haar sussie om saam met haar uit te reik. Die mense se stories gryp hulle aan die hart en dit word ’n maandelikse byeenkoms. Hulle besef die straathoek voor haar kompleks in die gegoede ooste van Pretoria, het een van die armste groepe werksoekers. Van die mense slaap onder ’n brug. Baie van die mense is buitelanders wat alle menswaardigheid verloor het.

Van die werksoekers is waardige mense met professionele kwalifikasies en werksondervinding uit die buiteland, maar hulle word soms onwaardig en hardhandig deur die polisie agter in ’n vangwa gebondel vir ’n omkoopbedrag by die polisiestasie – selfs iemand met ’n Suid-Afrikaanse ID-boekie.
In die begin fynkam die dames winkels vir enige spesiale aanbiedings op eetgoed wat hulle uit hulle eie sak aankoop. Pastoor Steven kom oor hulle pad en hulle vat hom saam om ’n boodskap te bring voor iets vullend uitgedeel word om te eet. Die uitreikprojek is dankbaar vir ’n bakkery wat pasteie teen kosprys en soms gratis verskaf en van die dames maak self toebroodjies.

Kry die gemeente betrokke
Hulle ontdek nog hoeke waar werksoekers uitgehonger is vir die Woord en die span se onverwagse medemenslikheid. Teen 2019 kom pastore Percy en Joseph en nog ’n paar vriendinne by om te help op die uitreike. Hulle besef die nood is groter as waarin hulle alleen kan voorsien. Hulle klop aan vir hulp by hulle gemeente en registreer as een van Skuilkrans se getuienisprojekte. Die gemeente brei truie, musse en serpe, iemand borduur Johannes 3:16 op ’n blokkie wat jy in jou beursie hou, mense dra koekies, lekkergoed, slaapsakke, klere, meubels en geld aan. Bybels in verskillende tale en pamflette word geskenk. ’n Dame in haar 90’s maak die mooiste kinderklere en skenk haar skootrekenaar vir die pastoor.
Teen 2023 neem die hoeveelheid werksoekers geweldig toe en die span verdeel in twee groepe sodat meer mense bereik kan word. In 2024 aanvaar pastoor Joseph ’n pos in Tanzanië.
Tydens elke straathoekuitreik word daar gevra na Bybels. Dit word noukeurig geadministreer, aangekoop en uitgedeel. Net voor hierdie maand se uitreik word die een spanlid se motor gesteel met meer as R10 000 se Bybels, in verskillende tale, daarin. Sy het reeds elke werksoeker wat graag ’n Bybel wou hê, se naam daarop aangebring. Ons kan net bid dat die Bybels hulle pad sal vind na iemand wat dit met vrug kan lees.

Individue se stories motiveer ons
Een van die jong mans was baie vuil en het homself eenkant gehou. Die pastoor behandel almal met die grootste eerbied en gaan praat met hom. Hy erken dat hy reeds in die week vooraf gepoog het om sy eie lewe te neem. Hy het as klein seuntjie onder die brug beland, leef uit asblikke en het geen hoop op ’n toekoms nie. Sy lewe word net daar omgekeer. Sommige werksoekers begin inskakel by gemeentes en wil self ook bydra tot die projek. Die span sien elke keer wonderwerke en vra dan hoekom was die persoon juis vandag, op hierdie tyd, op hierdie hoek? Hoe ongelooflik is God se tydsberekening om die regte mense en dinge se paaie te laat kruis! Dit gebeur dikwels dat die span kos begin uitdeel sonder om te weet hoeveel mense daar is en dan kry die laaste persoon in die sirkel, presies die laaste item! Sonder dat mense weet waarvoor, gehoorsaam hulle ’n opdrag om ’n sekere bedrag in te betaal en dit is “toevallig” presies dit wat die span nodig het om ’n uitgawe te dek.
Vanjaar reik die span een keer per maand uit na 200 tot 300 mense wat teen 09:00 nog nie opgelaai is nie. Werksoekers kry ’n boodskap, gebed, persoonlike gesprekke, traktaatjies en Bybels in hulle eie taal en iets om te eet. ”Daardie besoeke beteken vir ons uitreikspan baie meer as wat ons vir die werksoekers beteken,” erken hulle elke keer. Hulle bou verhoudings, deel in die mense se lief en leed en beleef selfs hoe mense vaste aanstellings kry en genees word van siektes.
“Dit is ver buite ons begrip hoe die Here harte ken, in mense werk en in die fynste besonderhede voorsien.” Hy het haar een toebroodjie gevat en voed nou maandeliks ’n hele skare na liggaam en gees.
Pastoor Percy se pad
Pastoor Percy is ’n jong Christenleier wat dien as senior pastoor van Power of Christ Ministries, in Mamelodi, Pretoria. Hy is bekend vir sy prediking op die strate, by skoolbyeenkomste en in tronke en gemeenskapsuitreikprogramme. Hy bid graag vir die siekes in hospitale.
Hy is gebore in Thabong in die Vrystaat, en het op ’n baie jong ouderdom na Mamelodi in Pretoria verhuis. Hy het laerskool by Bajabulile “Joyful” bygewoon en hoërskool by Gatang “gee ’n tree” voortgesit.
“Ons was ’n gesin van ses. My pa het in my vroeë twintigs gesterf, ek is geseënd met twee broers, ’n suster en ’n moeder. My Christelike reis het in 2008 begin en ek het my roeping ’n paar jaar daarna, in 2015, ontvang. Die studie van die Woord van God en onderrig wat ek van onderwysers van die Woord ontvang het, het my geïnspireer om by die kerk betrokke te raak.
“Ek is ’n baie skaam persoon, ek het myself nooit voor mense sien staan nie, wat nog te sê vir hulle preek nie! Toe ek by die kerk betrokke geraak het, het die Heilige Gees dit deur drome aan my geopenbaar. Ek het myself sien preek vir menigtes en ek sou hierdie guns by God hê, dat wanneer ek vir mense bid, hulle genees sou word. ’n Ander keer het ek die stem van God gehoor wat sê: ‘Ek stuur jou om hulle te vertel van die gevaar wat kom,’ en ook: ‘Ek red jou om hulle te red.’”
Pastoor Percy het in 2019 by die Brood en Bybels-uitreik betrokke geraak deur sy pastoorsvriend, omdat hy daarvan hou om mense met die Woord van God te bereik. Hy is ook iemand wat nood sien en iets daaraan móét doen. Deur die uitreikgroep se hulp begin hy ’n weeklikse sopkombuis en kinderbediening in sy gemeente in Mamelodi. Hy reik ook uit na Lesotho twee maal per jaar. Daarheen word ook skenkings gestuur, die Jesus-film en die opvolgfilm: Walking with Jesus, word vertoon.
Vanjaar het sy droom waar geword toe Brood en Bybels dit vir hom moontlik gemaak het om sy teologiese studies te kon begin. Na ’n reeks wonderwerke kon hulle vandeesmaand inskryf vir ’n puik tweejaarkursus met prof Piet Meiring as sy mentor.

Baie dankie. Ek wil graag op hoogte bly met wat in die kerk aangaan en waar behoeftes is.