Dit is vir my gepas dat die Lydenstyd by ons in die herfs val. Soos nou.
Op ’n oggend word jy wakker, stap by die voordeur uit, en weet dit net: Herfs is hier. Jy sien dit in die goudbruin blare wat onder die plataanboom op die sypaadjie lê; en daar is iets in die lug – iets wat jy sukkel om voor woorde te kry. Dit is ’n koudheid, ’n kilheid; en dit is asof die son helderder skyn, witter.
LEES OOK: Vrou se Israelbesoek: Ure se gebed te midde van jare se stryd
En kyk hoe sit die swaels op die ongesteelde telefoondrade, hulle vertreksaal onder die blou hemel, gereed om Europa toe te vertrek.
Verlede jaar het ek besluit om in die Lydenstyd nie styselkosse te eet nie. Maar dit help nie ek hou op brood en rys eet, en weeg myself elke oggend om te kyk of ek nie dalk gewig verloor nie. Is dit nie dan maar net ’n dieet nie? ’n Ego-ding.
Toe lees ek die volgende aanhaling van Richard Rohr in ’n boek raak.
“There are two moments that matter,” skryf Rohr. “One is when you know that your one and only life is absolutely valuable and alive. The other is when you know your life, as presently lived, is entirely pointless and empty. You need both of them to keep going in the right direction. Lent is about both.”
Eers is ek nie mooi seker wat Rohr bedoel nie.
In my bakkie op pad Nelspruit toe sit ek ek aan Rohr se woorde en dink – en toe kom die insig saam met ’n jakkalsvoël wat op ’n kragpaal naby die Barberton-afdraai sit: Probeer Rohr nie onder meer sê in Lydenstyd moet jy as ’t ware leer om meer bedag te wees op wat rondom jou gebeur, om die alledaagse weer as heilig te beleef. En al hoe jy dit kan doen, is om te besef jou lewe is buitengewoon waardevol.
Daardie jakkalsvoël gaan ook binnekort na die noordelike halfrond toe vlieg, ’n stippeltjie doer bo in die lug. Duisende kilometer ver. ’n Klein wonderwerk.
LEES OOK: Oor bloedlyne en Bloedrivier
Oral langs die pad verbruin die gras tussen die rotse.
In Nelspruit hou ek eers by die Engen-vulstasie stil, die diesel in die tenk is byna op. Die petroljoggie kom staan by my deur. Temba, sê sy naamplaatjie. Ek laat sak die venster. “Maak vol, asseblief, Temba,” vra ek. “Diesel.” Gewoonlik sê ek net: “Maak vol, asseblief.” Laat dit Temba nie meer mens voel as jy hom op sy naam aanspreek nie? (Ek maak ’n nota in my kop: Noem ’n petroljoggie in die vervolg op sy naam.)
Rohr se woorde draai steeds in my kop. Ek klim uit die bakkie en knoop ’n geselsie met Temba aan. Opeens tref iets my: In ’n gemiddelde jaar kry ek meer met petroljoggies as predikante of dokters te doen.
By die ander motors is Temba se twee kollegas besig om hulle petroljoggiedinge te doen.
LEES OOK: ‘Jy is meer ’n mens as ’n orrelis wanneer jy op ’n begrafnis speel’
By elke vulstasie is ’n soort kantoortjie vir die petroljoggies. Ek stap soontoe. Binne-in die kantoortjie is van die petroljoggies se besittings: twee Tupperware-kosblikke, ’n stapeltjie Lotto-kaartjies, ’n botteltjie Vaseline, ’n pakkie Grandpa-hoofpynpoeier. Teen die muur ’n koerantfoto van die Kaizer Chiefs-sokkerspan. Aan ’n silwer kabinetkas hang ’n hemp en broek netjies aan ’n hanger.
Daardie woorde kom weer by my op: die heiligheid van die alledaagse. Een van die joggies wil dalk nie in sy joggie-uniform in die taxi klim nie, daarom kom hy in gewone klere werk toe en verklee hier. Watter een van die joggies se Grandpa sou dit wees? ’n Mens kan aan Grandpa verslaaf raak? Dit kan nie altyd lekker wees om elke dag brandstof te gooi in die motors van mense wat haastig is en jou nie op jou naam aanspreek nie.
Van die vulstasie af ry ek na die Spar toe. Ek het nie veel goed nodig nie. Ek kry dit en stap na die kasregister toe. ’n Vrou in ’n stywe denimbroek skuur by my verby en druk voor my in. Eers wil ek haar op die skouer tik en vir haar sê: “Ek was voor jou hier, mevrou.” Maar ek bedink my. Die vrou se hare is deurmekaar, het duidelik vanoggend nog nie ’n kam of borsel gesien nie. Dalk is een van haar kinders siek en moes sy heelnag by hom of haar in die hospitaal waak.
Ek ry na nog ’n paar plekke op die dorp en by elke plek word ek vriendelik bedien. In nie een van die strate is ’n slaggat nie.
LEES OOK: Militêre diens: Ek het vrae vir daai kapelaan
Hoe kan mense sê ons land is heeltemal in sy maai in? Dit is wat mense so maklik sê. Tog klop dit nie vanoggend met wat ek rondom my sien nie. By die Hoërskool Nelspruit is die speelterrein vol netjies aangetrekte kinders. Nuwe motors oral. Winkels oral.
Die verkeerslig by die Belladona-kruising werk steeds nie. Ek probeer genade in my hart vind vir die amptenaar wat oor die dorp se verkeersligte heers.
Op pad berg-op luister ek na Beethoven se laaste strykkwartette. Loof die Here, o my siel, en alles wat binne en buite my is. Die son sal in die somer weer die aalwyne se fakkels kom aansteek.
’n Uur of twee later is ek terug by my huis. Albert Nkosi, die tuinwerker, is besig om die roesbruin blare onder die plataanboom op te hark en in ’n kruiwa te gooi.
Ek stap nader met my selfoon en neem ’n foto van die dooie blare in die kruiwa.
Dit is vir my gepas dat Lydenstyd by ons in die herfs val.