Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

My oorlede oupa en ouma het op Hibberdine aan die KwaZulu-Natalse Suidkus gewoon en vakansies wanneer ons by hulle gekuier het, het ons byna altyd eers by die kerk op Pietermaritzburg stilgehou en na oeroupa Coenraad se broek gaan kyk. Foto: Dana Snyman

Dana Snyman: Oor bloedlyne en Bloedrivier


Elke jaar op 16 Desember het ons Geloftefees gedenk.

Oorlede Pa het dikwels die Geloftediens gelei. Of moet dit dalk lei met ’n lang y wees? Gely. Want Pa het op sulke dae dikwels gepreek oor die lyding van die Afrikanervolk. Hoe die Afrikanermense deur die Engelse owerhede van destyds geminag is, hoe daar een grensoorlog na die ander in die Oos-Kaap geveg is. Moorde. Vee wat gesteel word.

LEES OOK: Dana Snyman | Gedagtes by Cottesloe: Kerk moet nooit museum word nie

Hoe party grensboere besluit het om die binneland in te trek op soek na ’n land der ruste. Ooms met Ou Testamentiese baarde en deugsame vroue in lang Calvinistiese rokke.

Hoe Piet Retief en sy manskappe deur Dingaan se impi’s vermoor is.

En toe kom die Slag van Bloedrivier. 16 Desember 1838. Onder leiding van Andries Pretorius en Sarel Cilliers lê die Voortrekkers ’n gelofte voor God af. As Hy die Trekkers sou beskerm en bewaar in hulle stryd teen Dingaan en sy krygers, sal hulle ’n kerk tot eer van sy Naam bou en die dag elke jaar as ’n sabbat vier en Hom prys.

Daar het sowat 470 Trekkers in dié slag geveg – slegs drie is gewond. Nie een is dood nie. Meer as 3 000 van Dingaan se krygers het gesneuwel.

LEES OOK: Dana Snyman: Dink aan al jou woorde in ‘die wolk’

As kind het ek altyd gewonder hoe het hulle geweet 3 000 van Dingaan se krygers is dood. Het van Pretorius se manskappe ná die geveg oor die slagveld gestap en die Zoeloe-gestorwenes getel?

Geloftedag was vir my boonop iets meer persoonlik. My oeroupagrootjie, Coenraad Frederik Wilhelmus Snyman – dieselfde name as my pa – het aan die Slag van Bloedrivier deelgeneem. Hy was ’n baie grootgeboude man en sy broek word steeds in die museum by die Geloftekerk in Pietermaritzburg bewaar.

My oorlede oupa en ouma het op Hibberdine aan die KwaZulu-Natalse Suidkus gewoon en vakansies wanneer ons by hulle gekuier het, het ons byna altyd eers by die kerk op Pietermaritzburg stilgehou en na oeroupa Coenraad se broek gaan kyk.

Doodstil het ons daar voor die uitstalkas gestaan en na oupa Coenraad se broek gestaar asof dit iets heilig was.

Toe ek ouer word het ek vrae daaroor begin vra. Ek het begin oplees oor ons familie, die Snymans, en het ook ’n draai in die Kaapse argief gemaak waar baie ou familiedokumente bewaar word. Die stamvader van die Snymans is Christoffel Snijman, sê die dokumente.

LEES OOK | Dana Snyman: ’n Please-call-me van ’n vriend by ’n begrafnis

Hierdie Christoffel is die seun van Hans Christoffel Schnijder, ’n Duitse soldaat, en Catharina van Paliacatta, wat ook as Groot Catrijn bekend gestaan het, ’n slawevrou. Beide het in Jan van Riebeeck se vesting gewerk: Schnijder as ’n wag en Catharina as ’n wasvrou.

Wie sal weet hoe dit gebeur het? In die jaar 1668 van onse liewen Heer het Hans Schnijder en Catharina mekaar Bybels beken. Nege maande later het Catharina geboorte geskenk aan ’n seun. Christoffel. Omdat daar toe ’n Nederlandse administrasie aan die Kaap was, het die Schnijder in dokumente Snijman geword.

Die heel eerste Snijman was nie wit nie. Hy was ’n bruin man.

Oeroupa Coenraad was ook nie ’n bloedsuiwer Afrikaner nie.

Piet Retief se swart arbeiders is ook deur Dingaan se krygers vermoor.

Tog het ek grootgeword en my verstand gekry saam met mense wat soms praat van “die God van Bloedrivier”. Ook ek het al daardie woorde gebruik en geglo.

Het die Trekkers nie maar net Dingaan se krygers verslaan omdat hulle onder meer beter vuurwapens gehad het nie? Oeroupa Coenraad het glo gehelp om vir Grietjie, die Trekkers se een kanon, te laat vuur.

Is God nie ons almal se God nie?

Ek kan en wil niemand oordeel wat vanjaar weer Geloftedag – deesdae is dit vir my tereg Versoeningsdag – op die tradisionele ou manier gedenk nie. Maar ek glo nie ek gaan dieselfde doen nie.

Wat het van die seun geword wat vol heilige verwondering gestaan het voor daardie glaskas met oeroupa Coenraad se broek in? Wat het van tóé af tot nou met hom gebeur?

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top