Op 7 Oktober voorverlede jaar toe soveel mense uit Israel gevlug het, was sy een van die min mense wat op ’n vliegtuig geklim en soontoe gevlieg het.
“Ek het oor die TV gesien hoe die Hamasvegters uit die Gasastrook Israel aangeval het. Al die mense wat dood is. Vrouens verkrag. Gruwelik.” Esmari Glinister kyk met sagte, blou oë na my. ”Ek moes net soontoe gaan. Die Here het vir my gesê ek moet.”
LEES OOK: Jammer vir die pyn van Apartheid, sê dominee aan weduwee
Ons sit op my buurman, Rudi du Plessis, se stoep op Kaapsehoop waar ek die laaste drie jaar woon. ’n Koue windjie waai uit die suide.
Esmari het onlangs twee huise van my af ingetrek. Terug van Israel af. Aan die begin was sy baie skugter. Het min buite gekom. So erg dat ek later vir Rudi gesê het ons moet by haar gaan klop en seker maak sy leef nog.
“Party mense vra vir my hoe weet ek dit is die Here wat met my praat. Ek weet dit net.” Daar is iets weerloos aan Esmarie wanneer sy dit sê.” Ek kry sekere gedagtes, baie sterk gedagtes. Ek glo dit kom van Bo af.” Daarmee saam stiplees sy die Bybel.
Voor sy Israel toe is, het sy op Mosselbaai gewoon.
En toe gee sy haar huis daar weg. Gratis.
LEES OOK | Dana Snyman: Oor bloedlyne en Bloedrivier
“Ek weet dit klink of ek dit maklik gedoen het. Dit was nie. My huis was ’n plek waar ek geborge gevoel het. ’n Veilige vesting.”
Dit is ook waar sy saam met haar man, Dereck, gewoon het, tot met Dereck se dood vyf jaar gelede. Kanker.
“Ná Dereck se dood het ek al hoe meer die behoefte gehad om nader aan die Here te kom. Ek het aanhoudend vir die Here gevra ek soek meer van Hom, ek wil Hom meer intiem beleef.
“Toe sê die Here ek moet my huis weggee. Op die ou end het ek net my motor en vyf kratte oorgehou, met persoonlike goed in.”
Sy het die huis vir ’n man en vrou gegee wat sendingwerk doen en al vir hoe lank bid vir ’n huis van hulle eie.
“Ek het nie regtig in Israel belanggestel nie.” Esmari glimlag effentjies. “Maar toe kry ek die geleentheid om saam met ’n toergroep soontoe te gaan. Vir tien dae.”
LEES OOK | Gedagtes by Cottesloe: Kerk moet nooit museum word nie
“Daardie tien dae …” Sy sukkel om die regte woorde te kry. “Dit was … of ek saam met die Here op wittebrood was. ’n Geestelike witterbrood.”
Maar sy was steeds geestelik onrustig toe sy saam met die toergroep terug van Israel af kom. Hoe kom ’n mens nog nader aan die Here?
Toe gebeur dit: Op 7 Oktober 2023, die dag waarop die Hamasvegters Israel binnegeval het, kry sy ’n boodskap van Heidi Barker, ’n vrou wat sendingwerk in die Midde-Ooste doen. En toe kom daardie woorde weer na haar toe: “You need to run into the darkness.”
Skaars twee maande na haar eerste besoek aan Israel, koop sy weer ’n vliegkaartjie soontoe.
Sy kyk my waterpas in die oë: “Ek en jy het gepraat oor God wat die Groot Misterie is. Dinge gebeur met jou wat jy nie kan verklaar nie.”
LEES OOK: Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: Dit is op jóú, die voorletters van Jesus
Tog maak dit wat met jou gebeur soms sin in die konteks van jou lewe. Dit wil ek ook graag glo, al is dit soms moeilik. Of is alles net toeval?
In Jersalem het Esmari gewoon in die Succat Hallel se Huis van Gebed. Saam met drie ander vrouens in ’n beknopte kamertjie.
“Die laaste negentien jaar al …” Sy beklemtoon dit.
Vir NEGENTIEN jaar al is daar dag en nag, 24 uur lank, iemand in die Succat Hallel-huis wat onder meer bid vir vrede in die Midde-Ooste.
“Jy kan gaan vir ’n bidsessie van ’n uur of twee ure.” Dan gaan sit jy in die gebedekamer, met ’n uitsig oor die ou Jerusalem.
Esmari is ook na die gebied naby die Gasastrook waar verskeie kibboetse is om saam met ander vrywilligers te gaan werk op een van die kibboetse.
“Dit is hartseer wat gebeur. Op baie kibboetse het Palestyne gewerk. Op een het die Hamasvegters ’n hele paar van hulle eie mense doodgeskiet.
“Daar is soveel wantroue op die oomblik in Israel en die Gasastrook. Ek weet nie of daar ooit vrede tussen die twee groepe sal wees nie.
“Ek kan net bid vir daardie vrede.
“Ek was bang toe ek in Oktober 2023 alleen soontoe is. Natuurlik was ek bang. Maar ek het ook geweet die Bybel sê op soveel plekke ’n mens moet nie bang wees nie.”
In die Bybel word 365 keer gesê ’n mens moenie bang wees vir bepaalde dinge nie. Is dit waar?
Sy het ook die vertrek in Jerusalem besoek waar Jesus en sy dissipels vir ’n laaste keer saam was – die plek van die Laaste Avondmaal.
“Ek was vir ’n ruk alleen in die vertrek. Terwyl ek daar sit en bid, toe kom ’n kat en klim op my skoot. Net so wil ek ook op Jesus se skoot sit.”
Esmari kom regop en gaan maak vir ons iets om te drink; koffie vir haar en Rudi, tee vir my. Sy bring dit en gaan sit styf teen Rudi.
Sy wil weer teruggaan Israel toe, maar weet nie wanneer nie.
Sy is gelukkig op Kaapsehoop, en ons is gelukkig om haar hier te hê.