Dit was 30 jaar gelede, en ek is bang om dit te vertel. Ek is bang ek onthou dit verkeerd.
Dit was in die tyd toe ek in die berugte saal 22 in die ou 1 Militêre Hospitaal op Voortrekkerhoogte was. Die psigiatriese saal.
Ek was 19 jaar oud en besig met my 2 jaar verpligte militêre diens. Maar gou het alles vir my te veel geword: die geskreeu en gevloek van veral die korporaals omdat hulle jou eers geestelik wou afbreek en verkleineer en dan van jou ’n man en ’n eerbare, gedissiplineerde soldaat wou maak. Dit is wat hulle gesê het.
LEES OOK: Bekroonde rolprent ‘Oppenheimer’ skets ’n tragiese held en genie met voete van klei
Ek het ook al hoe meer vrae oor apartheid en die oorlog in die noorde van Suidwes-Afrika en in Angola begin vra.
Een middag het ek ’n gillende stafsersant in ’n basis op Voortrekkerhoogte met die skouer gestamp. Toe is dit nag vir my.
Op die ou end het ’n ambulans my by die basis kom haal en na saal 22 toe geneem. Toe was ek in die hande van psigiaters en sielkundiges.
Saam met my in die saal was jong outjies wat geestelik geknak was of aan een of ander geestesiekte gely het. Party van hulle is van die grens af soontoe gestuur nadat hulle ernstige trauma ervaar het in kontaksituasies met die Swapo-magte.
Een ou, onthou ek, het die hele tyd heen en weer in die saal gestap, heen en weer, heen en weer. Hy was glo in ’n Buffel-voertuig wat ’n landmyn afgetrap het en van sy kamerade is dood.
Daar was ook heelwat homoseksuele outjies in die saal wat nie vir oorlog bedraad was nie.
LEES OOK: Teologiese navorsing: Oor leierskap en toekomsvisie
In saal 22 het jy nie beheer gehad oor wat met jou gebeur nie. Jy kry allerhande pille om te drink en tussendeur praat ’n psigiater en sielkundiges met jou. Dit was asof hulle ’n rede gesoek het om jou terug te stuur na jou basis of jou uit die weermag te ontslaan.
Een oggend het ’n kapelaan langs my bed verskyn. Hy het ’n uniform gedra. Hy was ’n kolonel, dink ek. Ek was nie seker of ek hom kolonel of dominee moes noem nie.
Ek onthou toe ek klein was, het Ma vir my gesê ek moet ’n soldaatjie vir Jesus wees. Hierdie is ’n ware soldaat vir Jesus, het ek gedink. ’n Kolonel vir Jesus.
“My liewe vriend,” het hy my genoem.
Ons het in ’n leë vertrek gaan sit.
“Die weermag is maar ’n aanpassing vir baie, my liewe vriend,” het hy vir my gesê. Of so iets. “Ek besef die korporaals gaan soms te ver, maar jy moet onthou dit gaan oor dissipline. Ek sê maar altyd vir die troepe: ‘Onthou dis nie die korporaal wat jy respekteer nie. Dis die uniform, sy amp.”
“Kan ek vir kolonel iets vra?” het ek vir hom gevra.
LEES OOK: Kerkbode Kollig Episode 4: Op reis met God
“Vra gerus, my liewe vriend,” het hy gesê.
“Die Bybel sê ons is na die beeld van God geskape en ons moet ons naaste liefhê soos onself. Hoekom wil die weermag my dan geestelik afbreek tot niks en herskep na sy eie beeld?” wou ek weet.
“Hoe oud is jy, my liewe vriend?” het hy gevra.
“Negentien, kolonel.”
“Vir iemand so jonk soos jy dink jy diep oor die lewe.” Hy het vaderlik vir my geglimlag. “Kom ek verduidelik dit vir jou só, my liewe vriend. Die kerk het ’n dure plig om sy lidmate in ’n krisissituasie by te staan. Daarom is ek hier by jou.”
“Dominee sê dus ’n mens moenie vrae oor die weermag en oorlog vra nie.”
“Dis nie wat ek sê nie, my liewe vriend. Maar ons weet daar is magte wat ons land bedreig, magte wat nie getrou is aan die Woord van God nie, wat ons God verag. Jy weet seker hoe die Christene in Rusland en op ander plekke vervolg word. Ons het gedissiplineerde soldate nodig om daardie magte te oorwin. Onthou, God is ons Vader, Hy is altyd met ons.”
Dit is hoe die gesprek min of meer verloop het.
LEES OOK: Dana Snyman: Oor Bybels met ritssluiters
Dit was vir my moeilik om aan God as ’n vader te dink wanneer ek na die outjies saam met my in saal 22 gekyk het.
Is dit nie maar altyd die vaders wat oorloë begin en wil begin nie en die moeders en kinders wat daaronder ly nie?
In dieselfde saal 22 het ’n spesifieke psigiater die sogenaamde konversieterapie toegepas. Dit was voor ek daar was. Dit was ’n poging om party jong mans van hulle homoseksualiteit te genees. Eenvoudig beskryf: die jong man is aan ’n skoktoestel “gekoppel”. Dan is ’n foto of foto’s van ’n mooi meisie vir hom gewys. Daarna is ’n foto van ’n mooi man of mans vir die outjie gewys en terwyl hy na daardie foto of foto’s van die man kyk, is elektriese impulse deur sy lyf gestuur. Hy is geskok.
In daardie tyd het elke dienspligtige ook ’n Bybel ontvang met ’n persoonlike, gedrukte boodskap van mnr PW Botha, eers minister van verdediging en later die staatspresident, voorin: “Hierdie Bybel is die belangrikste deel van jou militêre mondering.”
Die kapelaan het daardie dag vir my gevra of hy vir my kan bid.
Moontlik onthou ek die gebed verkeerd. Maar dit was iets soos: “Vader, wees met hierdie jong vriend. U verstaan sy onsekerheid. Gee hom krag om sy onnatuurlike geneigdheid te oorkom sodat dit nie langer in sy pad sal staan van groei as Christen nie. Laat hom besef dat hy deel is van ’n groter plan om u koninkryk op aarde te vestig. Moenie dat sy innerlike wonde tussen hom en u koninkryk staan nie. Lei hom en bewaar hom op sy pad vorentoe, as mens en soldaat. Amen.”
Anderdag het ek weer deur Voortrekkerhoogte gaan ry. Die ou 1 Militêre Hospitaal is afgebreek, asof dit nooit bestaan het nie. Net die drie palmbome wat voor die hospitaal gestaan het, is nog daar.
Ek kan nie onthou wie die kapelaan was en of hy nog leef nie.
As hy nog leef, sal ek graag met hom wil gesels. Daar is vrae wat ek hom graag sal wil vra.
Ek Stem saam met jou. Ek is ook gebreek deur die vele ongeredde mense wat daardie tyd ( 1980 tot 1981) in die Lugmag was nie.
Jy kon nie met die RSM praat nie want sy assistant was kop in een mus met die ongeredde mense.
Die Kapelaan daardie tyd was volgens my nie ‘n geredde persoon nie maar net ‘n werker in die Lugmag.
Danksy die groot Genade van Jesus Christus het ek staande gebly en ek die Hom nogsteeds bly dien want Hy is my as nietige mens my Skepper en Vader.
Sjoe Dana, nou slaan jy ʼn spul spykers op hulle koppe. Ek het na skool gaan teologie swot op TUKS en eers daarna met my weermagopleiding begin. Ek was so 25 jaar oud. Die woorde – ons sal julle breek en van julle manne maak lê nog vlak in my geheue. Ons het afgestudeer en was ouer as baie van die korporaals en sersante wat ons dikwels verskreeu en gevloek het. Die groot indoena kapelaan was wat my ervaring aan betref, meer soldaat as dominee. Ek het my twee jaar voltooi en ek het baie vrae gehad. Tydens een van my kampe na die voltooiing van my twee jaar, het ek eendag ʼn vraag gehad, of ʼn opmerking gemaak oor die absolute onmenslike behandeling van iemand wat aangehou is. Hy was heeltemal kaal en aan die middelste paal van ʼn tent vasgemaak. Kort daarna is ek deur ʼn kolonel van Intelligensie geskakel te word met die opdrag om my neus uit sake van belang te hou. Ek het myself nog altyd beskou as trots Afrikaans, trots Suid-Afrikaans en ʼn ware patriot, maar in die eerste plek is ek ʼn Christen.
Ek het jou brief – soos al jou ander briewe en ander bydraes met aandag gelees. Ek is nou in die skemer van my bediening, maar daar was dinge wat teologies begrond is waarmee ek vandag nog worstel.
Dana Middag.
In Grootfontein moes ek PW min v Verdediging luister hoe Suidwes ñ 5de provinsie gaan word. Toe dit vraetyd was vra ek, SA kan nie met die Beste Weermag vir SWAPO oorwin,hoe gaan die Nasionale Party ,Suidwes ñ 5de Provinsie maak. dit was in 1979. Sulke groot RooiHoed MP’S het my uit die stoel gelig,my buitentoe gedra. Jy kom nie weer in die saal in nie!!! Vandag sien ,beleef ons wat in die Army moes wees die vrug van “”Net Nasionale Party”” is reg !!! Dankie Dirk Mudge en SWAPO dat ons vandag in ñ Vreedsame Namibië mag leef. Groete Roelf v Wyk
Goed dat Dana praat maar dink daar is baie ander wat se menings ook in ‘n rubriek die kand gegee moet word. Die ervarings verskil ook as gevolg van die agtergrond waar uit jy kom. Daar was baie wat ‘n moeilike kinder lewe gehad het wat baie sterk na vore getree het; min gepraat het en baie gedoen het; partykeer meer as ander wat heel dag net wou sit en dink aan die verkeerd wat aan hulle gedoen word. Persoonlik was die regering van die dag met sy sterk Broederbond affiliasie wat op sekere aande in kampe Duitse mars musiek laat speel het vir my siek en kinderagtig. Die boodksap van ongeag wat met jou gebeur dat jy altyd in die hand van die Here is bly die sterkste. Ek glo daar was baie goeie soldate wat sonder kla hulle deel gedoen het en vandag nie met die klip van haat, nyd, jaloesie en veral van uitgestelde terug kry loop nie. Hulle het vrede en gaan aan in ‘n wereld waar daar nog steeds verkeerd is en gedoen word…