Kort voor tienuur hou Hester Bezuidenhout in haar motor voor die NG kerkgebou op Stella anderkant Delareyville stil. Die son is vandag weer woedend hier in die ou Wes-Transvaal.
Op met die galery se trappe stap sy, deur die kerkgebou se skemerte en stilte, na die orrel toe. Sy laat gly die houtkoepel oop wat die note bedek, asof dit ’n altaar is. Op die vloer regs van die orrel staan haar orrelskoene. Sy trek haar gewone skoene uit en trek die skoene met die plat sole en dun punte aan.
Dit alles lyk baie gewoon, maar vir haar het dit al ’n soort ritueel geword.
Orrelis in dieselfde kerk vir 53 jaar
Vir meer as 50 jaar al – 53 om presies te wees – is sy die orrelis in hierdie kerk, en klokslag op ’n Woensdag kom oefen sy die liedere wat op ’n Sondag gesing gaan word.
Is daar ’n orrelis in die land wat al langer as tannie Hester in een gemeente die orrel speel?
LEES OOK: Militêre diens: Ek het vrae vir daai kapelaan
“Nou en dan gaan ons met vakansie, dan sal ek vir so twee Sondae nie hier wees nie.” Tannie Hester skuif voor die orrel in.
“Ek kry ook een Sondag per kwartaal af, maar verder is ek maar hier. Ek is nie een van daardie orreliste wat net Saterdag gou ietsie kom speel nie. Ek wil speel en ek wil mooi goed speel. Sondagoggende kom ek so agtuur kerk toe, dan speel ek alles gou weer voor die diens deur, anders voel ek nie op my gemak nie.”
Sy glimlag net as jy haar vra hoe oud sy is. “Sê maar net ek is ouer as sewentig,” sê sy.
LEES OOK: Vroeëre bekerings en ware bekerings
Toe sy ’n bietjie meer as 53 jaar gelede as ’n jong onderwyseres uit Bonnievale in die Wes-Kaap se omtes op die dorp kom woon het, het die predikant – wie was hy nou weer? – haar gevra of sy nie soms op ’n Sondag kan kom orrel speel nie.
“Ek het eintlik maar klavier op die orrel gespeel.” Sy lag. “Daardie eerste dag wat ek gespeel het, was ek nog onkundig. Ek trek die orrel se knop en die hele diens speel ek hom op volsterkte. Daarna het ek moeite gedoen. Ek het Hartswater toe gery om lesse te gaan neem, toe Klerksdorp toe een keer per maand. Na Susan Engelbrecht toe.”
Sy het orreleksamens afgelê en as ’n orrelis gekwalifiseer.
Sy is nooit terug Kaap toe nie. Sy het met Jan, ’n boer in die distrik, getrou en het hulle vier kinders grootgemaak en ook klavierlesse op die dorp gegee.
LEES OOK: Verdeeldheid – As die pole juig en die middel swyg
Die nuwe Liedboek bring nuwe ritmes
“My kindertjies was nog klein, dan moet hulle hier by my by die orrel kom sit. Jan was op die kerkraad, hulle kon nie by hom sit nie. Een oggend toe klim klein Peet op die orrel en toe sy sussie aan hom pluk, toe trek sy sy broekie af.”
In die eerste jare was dit die tyd van die ou Koraalboek. ’n Tyd toe elke lied in die kerk vir iemand jonger soos ’n begrafnislied geklink het.
“Ek moet dit seker nie sê nie, maar hier is mense wat vreeslik trekkerig gesing het – trekkerig en hard. En die ou Koraalboek was vol lang note. Dit was nie lekker om te speel nie. Maar toe kry ons mos die nuwe Liedboek. Toe is die regte ritmes daar. Minder wit note. Toe kon ek laat waai.”
Sy skud haar kop as jy haar vra oor die gemeentes waar daar nie meer ’n orrelis is nie, waar ’n orkes die sang lei.
“Dit is jammer. Ek glo steeds vir gemeentesang is die orrel die beste. Maar dinge verander. Min mense trou nog in ’n kerk. Hulle gaan na trouplekke toe. Dit is senutergend om op ’n troue te speel. Dit maak jou op jou senuwees om te sit en wag vir die bruid.
“’n Begrafnis vat aan ’n mens. Jy is meer ’n mens as ’n orrelis wanneer jy op ’n begrafnis speel. Ek het nogal iets agtergekom: In die Covid-tyd – hier is nogal heelwat mense daarvan dood – het mense al hoe meer begin vra dat Psalm 23 gespeel word. Dit is asof al meer mense Psalm 23 op ’n begrafnis wil hoor.”
Sy raak vir ’n paar oomblikke stil en begin dan die aantal predikante op haar vingers aftel wat in haar tyd hier gedien het: Nieman, De Kock, Nel … “Daar was twaalf.”
Snaakse oomblikke tydens ’n diens was daar ook
“Een Sondag toe is hier ’n voëltjie in die kerk. Ek speel en speel en die gemeente sing en die voëltjie vlieg in sirkels bokant almal se koppe. En toe die voëltjie weer ’n slag oor my gaan, toe mis hy, en dit val op die note, en dis glibberig, maar ek moet maar voort speel.”
KYK OOK: ‘Mense noem dit die bomb shelter’ | Argitek verduidelik hoekom dié Vrystaatse kerkgebou hom bekoor
Soos op soveel ander plekke in die land het ook hierdie gemeente se lidmaatgetal gekrimp. Die oumense sterf, die jonges verlaat die dorp.
“Maar ek het hoop vir die kerk. Die Here sê Hy sal die kerk in stand hou en ek glo dit.”
Wanneer tree ’n orrelis af?
“Sê vir my hoe tree ’n orrelis af.” Sy kyk stip na my. “As hier iemand anders is … Aan die ander kant, ek is nog fiks. En dis nog lekker vir my om orrel te speel, ’n voorreg.”
Haar vingers begin oor die note te gly. Sy speel een van die liedere wat sy die graagste speel: “Die Here Jesus lewe …” Sy speel al vir by die 50 jaar met daardie selfde paar orrelskoene. Die sole is byna deurgeskuur, en toe die skoene haar op ’n kol begin druk, het oom Jan gate hier voor in gesny.
Opeens is tannie Hester nie net meer die vrou van oom Jan en die ma van vier kinders nie. Sy laat die klanke uit die rye pype agter die orrel opstyg. Net ná tien op ’n doodgewone Woensdagoggend laat sy die land en die wêreld na ’n meer genadige plek voel.
Susan Engelbrecht se diep spore word in Baie gemeentes volgestaan. Haar nalatenskap is verruklik