Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

"Daar is sekerlik niks fout daarmee of onchristelik daaraan om te praise en te worship nie, maar vir my voel dit net nie reg dat ’n kind nie meer weet van ’n kerkgebou met ’n preekstoel met ’n kanselkleed waarop staan: 'God is liefde' nie. Of: 'Die Here kom'," skryf Dana Snyman. Foto: Verskaf

Dana Snyman: Verandering, ook in die kerk, is nodig, maar verarm die verdwyning van sekere rituele uit die erediens ons nie geestelik nie?


Die kinders ken nie meer die kerk soos ons die kerk ken nie, sê Louis en skuif sy beker cappuccino in ’n kring voor hom op die tafeltjie in The Argentinian in Linden.

Louis is ’n Afrikaans-onderwyser by ’n bekende skool in die stad.

Wat bedoel jy? wil ek weet.

LEES OOK: Kollig-podsending 11: ’n Verhaal van omkeer uit die Paarl

Hy behandel vanjaar ’n Pieter Fourie-drama met die matrieks. Een van die karakters in die stuk is ’n ouderling in die plaaslike gemeente.

Baie van die leerders het hom bot aangestaar: ’n Ouderling? Wat vir ’n ding is dit?

Vir my en Louis en dié ouer en effens jonger as ons is ’n ouderling so deel van ons lewe soos die portrette in ovaalrame van ons voormense teen die sitkamermuur.

LEES OOK: ‘Dis nou méér as oorlog’ – SA kerkleiers luister na noodkreet van Christene in Midde-Ooste namate dodetal klim in Gasa

Elkeen van ons het sy of haar eie beeld van ’n ouderling. Vir my is dit gewoonlik ’n man, ’n oom met ’n stroewe gesig, in ’n swart pak, wit hemp en wit das. ’n Gesagsfiguur wat toesien dat dinge ordelik in ’n gemeente verloop.

Dit is lankal nie meer só nie. ’n Vrou kan nou ook ’n ouderling word, en dit is mooi en goed so. Maar dit is nie vir my lekker om te hoor baie kinders weet nie meer wat is ’n, wel … tradisionele kerkdiens nie. Weet die jonges nog wat is nagmaal?

Jy sit die Sondagoggend in die kerk. Die koster lui die klok ’n laaste keer, net ’n kort sarsie dong-dong-dongs. Die deure weerskante van die preekstoel swaai oop en die ouderlinge en die diakens kom in twee rye uitgestap en gaan sit onderskeidelik in die ouderling- en die diakensbanke.

LEES OOK: Kerk wat werk-reeks | ‘Missionaal wees’ is deel van hulle DNS, vertel gemeente in die Vrystaat

Die dominee in sy toga gaan staan op die preekstoel se derde trappie van onder en buig sy hoof in stil gebed.

Die orrelis kyk in die spieëltjie bo-op die orrel en die waardige note word stil.

Daardie ritueel ken die meeste kinders nie meer nie, sê Louis. Baie gaan saam met hulle ouers na kerke toe waar die preekstoel vervang is met ’n lae verhoog. Die ouderlinge en die diakens sit by hulle mense in die gewone banke.

Ander kinders gaan op ’n Sondag na ’n gebou wat meer soos ’n teater as ’n kerk lyk. ’n Plek waarin die klanke van ’n pyporrel verdwyn het, waar daar nou ’n orkes is en die gemeente praise en worship. Hande in die lug, kom ons prys die Here!

Daar is sekerlik niks fout daarmee of onchristelik daaraan om te praise en te worship nie, maar vir my voel dit net nie reg dat ’n kind nie meer weet van ’n kerkgebou met ’n preekstoel met ’n kanselkleed waarop staan: “God is liefde” nie. Of: “Die Here kom”.

En voor die preekstoel is die nagmaalstafel en die doopvont.

LEES OOK: Brief | Wie doleer nou eintlik – die kerkraad of die gemeente?

Al verdwyn die tradisionele manier van nagmaal vier uit die kerk, sal ek in my kop altyd só nagmaal kan hou. Die nagmaaltafel staan op die wynrooi tapyt voor die kansel, met ’n wit net daaroor getrek. Die dominee lees die nagmaalsformulier: “… Die nagmaal is in die eerste plek ’n gedagtenismaaltyd. Die Here het by die instelling van die nagmaal gesê: “Gebruik dit tot my gedagtenis …”

Die dominee trek die wit net af, vou dit op, en daar staan die gedekte tafel: groot, ronde silwer bord met stukkies gebreekte brood in en silwer kelkiestaanders op mekaar gestapel, met die kelkies wyn in. Eenkant een of twee silwer bekers.

Twee of drie ouderlinge neem saam met die predikant by die tafel plaas.

Van die gemeentelede is ook welkom om by die tafel te kom sit.

’n Gebed volg.

Die diakens kom kry elk ’n silwer skinkbord en stap in die gangetjie tussen die banke af en gee ’n skinkbord vir die gemeentelid aan die punt van die ry. Van hand na hand word die skinkbord in die ry af aangegee en elkeen neem ’n brokkie brood.

Dan sit jy daar in die gemeenskap van flenters heiliges met die flentertjie brood in jou hand, en die orrel speel, en jou siel voel ’n bietjie minder flenters. Dit is asof jy vlugtig deel is van iets groter as jy, iets ouer as die aarde, iets anderkant woorde. Die numineuse.

Dan kom die kelkie wyn. Jy sit die stukkie brood op jou tong en sluk dit met die effens te soet wyn af en tussen al die onsekerhede in jou gemoed voel jy iewers is genade, iewers Goddelike liefde.

LEES OOK: Podsending | Jaco Strydom gesels met Sharaine Steenberg oor die lewe in Nieu-Seeland

Daarna kry mense wat uit die nagmaalsbeker wil drink, die geleentheid daarvoor. Een of twee diakens stap deur die kerk, met die beker in die een hand en ’n wit lapservet oor die voorarm. Met een van sy growwe boerehande neem oom Gert die beker by die diaken en neem ’n gewyde sluk uit die beker. Stadig, alles gebeur stadig in só ’n nagmaalsdiens.

Soveel mense wil hê jy moet alles op aarde wetenskaplik kan verklaar en verduidelik. En vir veral die jonges moet dinge vinnig gebeur – vinnig, kort en vermaaklik, soos in ’n TikTok-videotjie. ’n Tradionele kerkdiens pas nie mooi hierby in nie: die stadige, waardige manier waarop die verrigtinge verloop. ’n Viering wat jy nie met die druk van ’n selfoonknoppie of ’n TV-stel se afstandbeheer kan verander nie.

Ek besef verandering, ook in die kerk, is nodig en ’n noodwendigheid, maar verarm die verdwyning van sekere rituele uit die erediens ons nie geestelik nie?

Hy verduidelik maar vir sy leerders al hierdie ou maniere van glo en doen, sê Louis. Dit is immers wat ’n onderwyser behoort te doen.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Dana Snyman: Verandering, ook in die kerk, is nodig, maar verarm die verdwyning van sekere rituele uit die erediens ons nie geestelik nie?”

  1. robert lawrance barrie

    Pragtig! Jy het geweet wie die dominee; hoof oudeling; hoof diaken; Koster; orrelis; sondag skool leier was … jy het gekyk of hulle in die kerk is.
    In die sondag skool klas het jy ‘n punt vir teenwoordigheid gekry; ‘n punt dat jy in die kerk was; ‘n punt as jy die gesang / psalm in die boekie geken het en ‘n punt vir die bybel versie. Dit het seker gemaak dat jy die sertifikaat of die seels gekry het aan die einde van die jaar. Asjy die beste was in die klas het jy ‘n versie kaartjie gekry.
    Die dominee het die katkisasie klas saam met ‘n ouderling gelei. Die grys katkisasie boek en die kort begrip is behandel jy is ondervrae oor jou kennis. Voor dat jy as lidmaat voorgestel is het jy voor die kerk raad verskyn waar ouderling besluit of jy reg of weg was.
    Mens het tog waardering vandag vir daai proses al was dit intens met gesag en beheer …

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.