Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die eerste martelare vir Christus in Suid-Afrika

Ook in Suid-Afrika het mans en vroue hulle lewe vir hulle Here op die spel geplaas, skryf Piet Meiring.

 

“Die bloed van die martelare is die saad van die kerk,” het Tertullianus, die Noord-Afrikaanse teoloog in die tweede eeu na Christus geskryf. Ook in die geskiedenis van ons land het sy woorde waar geword. Mans en vroue het hulle lewe vir hulle Here op die spel geplaas en deur hulle voorbeeld ’n getuienis gelewer wat baie na Christus gelei het.

In die annale van die kerk is die name met dankbaarheid opgeteken: Maqhumusela Khanyile wat in 1877 in opdrag van die Zoeloekoning Cetswayo doodgemaaak is, Manche Masemola, die jong meisie wat in 1928 in die omgewing van Polokwane met haar lewe geboet het, en – meer onlangs – Benedict Daswa wat in 1990 ter wille van sy geloof gesterf het.

Jakob Links: eerste martelaar in ons land 

Maar ’n halfeeu voor Khanyile, wat gewoonlik as die eerste martelaar in ons land vereer word, het ’n jong begaafde Griekwa-prediker, Jakob Links, reeds die prys vir sy geloof betaal. Dit het presies tweehonderd jaar gelede gebeur, in Junie 1825.

Jakob Links se verhaal vra om vertel te word. Hy was maar sewentien jaar oud toe die bekende Metodiste-sendeling Barnabas Shaw hom na die Here gelei het. Die jong Namakwa se hart het vir die Here gebrand. Hy het Shaw op verskillende ekspedisies vergesel. Hy het van tyd tot tyd op sy eie na die San-mense gegaan, saam met hulle rondgetrek om ook aan hulle die evangelie te verkondig. Die Metodiste-sending het Jakob Links aangemoedig om as predikant opgelei te word en in 1822 is hy as eerste Suid-Afrikaans-gebore én as eerste bruin leraar in die Metodiste-kerk georden.

Die mense anderkant die rivier

In 1825 het Jakob links met ’n jong sendeling W Threfall en sy helper deur Namakwaland gereis om die evangelie te verkondig. Toe hulle by die Oranjerivier kom wou die drietal die water dadelik oorsteek, om vir die mense van Jesus te vertel. Lede van die Basterstam in die omgewing het hulle sterk afgeraai. “Die mense anderkant die rivier is vyandig, julle stel julle lewe in gevaar!” Maar Jakob en sy kollegas se hart het gebrand. Hulle wou nie wag nie! Hulle het ’n plaaslike gids gekry om hulle oor die rivier te neem.

Dié aand het hulle met hulle ryosse en besittings op die anderkantse oewer uitgekamp. In die donker het die gids, Naugaap, iemand gekry om hom te help – en die drie sendelinge vermoor. Die misdadigers is twee jaar later gevang en is vir hulle wandaad veroordeel. Die nuus het die sendinggemeenskap geskok én ook geïnspireer. Die werk het voortgegaan. Peter Links, ouer broer van Jakob, het ook tot bekering gekom en vir baie jare saam met Barnabas Shaw op sendingreise deur Namakwaland gegaan. Die sendingaksie in die Noord-Kaap het gegroei.

Weer ’n keer was die martelare se bloed die saad van die kerk.


Prof Meiring is emeritus professor van Missiologie aan die Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Die eerste martelare vir Christus in Suid-Afrika”

  1. en my voorouers , die Franse Hugenote , was ook in hul duisende doodgemaak deur die Rooms-Katolieke in frankryk destyds…en tog geniet ek dit vandag om katolieke kerke soms te besoek vir ‘n erediens.

    geen bitterheid (mal Malema)…

    ons hugenote-afstammelinge dreunsing nie ‘kill the catholics’ op die herdenking v. die slagting tydens Bartolomius Nag , spelling verkeerd dink ek..

    vergifnis maak vry (Nelson Mandela se wyse woorde…net jammer ‘n jong dwaas soos Malema is te blind om dit in te sien !)

  2. ek onthou nog die woorde v. Eerwaarde Richard Wurmbrand in ‘n kerk op besoek aan Suid-Afrika , in die 1980’s…”God beware South Africa if the Communists come to power here…rivers of blood will flow.”

    vanjaar sal daar 27 000 moorde in S.A. gepleeg word , want ANC-SAKP Alliansie het doodstraf (wat 100% Bybels is !) afgeskaf…wel wetende dat hulle daarmee die honde loslaat…het seker gehoop baie wit Christen-boere word ook vermoor – en uit vrees van hul grond af gedryf , sodat dit dan vir ‘herverdeling’ aan swartes gegee kan word (maar staat bly eienaar v.d. gro

Comments are closed.

Scroll to Top