Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Reggie Peace is ’n sensitiewe gees wat dikwels diep ontsteld raak oor al die hartseer, armoede en geweld in ons land. Hy weet hoe dit voel om blootgestel te wees hieraan. Vir lank was hy self aan die ontvang kant en baie van die mense vir wie hy lief is, is steeds daar. Foto: Verskaf

Gee ons meer vredemakers soos Reggie Peace

Die meeste Suid-Afrikaners ken Reggie Peace as akteur en sanger. Deesdae word hy toenemend ook geken as skrywer. Sy eerste draaiboek is in 2021 verfilm en hy het ook al verhoogstukke geskryf. Sy boek, Vredemaker, het pas die lig gesien.

En Vredemaker is ’n goeie titel. Reggie het ’n manier om die vreemdste en eienaardigste mense bymekaar te bring – by sy boekbekendstelling in Melville was ek saam met Schalk Van Heerden en Willie Esterhuizen aan tafel! Mense uit elke moontlike kultuur en subkultuur het saam gekuier asof dit die mees natuurlike ding in Suid-Afrika is. Iets waarmee die kerk vandag steeds té dikwels sukkel in hierdie toenemend verdeelde land. Ons kan doen met meer vredemakers!

Reggie Peace is sy verhoognaam, hy het self gekies. Sy eintlike naam is Reginald Julius Hufkie.

Sy verhoognaam en sy nuwe boek se titel sê iets van sy voortdurende soeke na vrede binne homself, maar ook sy droom om ’n vredemaker te wees in Suid-Afrika.

Reggie sê die nuwe generasie jongmense gee hom hoop. “Wat ek sien is die unity en die togetherness en vrede waarna die meeste mense eintlik smag. Hulle gaan ’n groot rol speel in die unity van die land – hulle doen dit al klaar.”

Hy was al te siene in films en TV-produksies soos Spreeus, Huis Lelieveld, Generations, 7de Laan, High Rollers en meer onlangs in Vetkoekpaleis. Foto: Liza Coetzee uit Argief

Hy het die boek geskryf om ook sy deel te doen om hoop te bring. Dit is sy lewensverhaal. Hy vertel van sy moeilike jare as kind, van armoede en swaarkry. Sy ma is dood toe hy twaalf was en sy pa kort daarna, met die gevolg dat hy en sy broer in ’n kinderhuis in Gqeberha grootgeword het. Maar hy skryf ook oor geleenthede, oor goeie mense op sy pad, nuwe ontdekkings en heelwat oor twee groot draaipunte in sy lewe: “Die jaar 2005 land ek in ’n kinderhuis op. MTR Smit-kinderhuis het ’n massive rol gespeel in my ontwikkeling. En dan 2019, dit was die jaar toe ek baie meer begin leer het oor die krag wat in stilte lê.”

Toe ek hom vra wat min mense van hom weet sê hy: “Dat ek eintlik ’n stil ou is.”

Min mense weet dit, want akteurs moet baie praat. Dis hulle werk. Hy was al te siene in films en TV-produksies soos Spreeus, Huis Lelieveld, Generations, 7de Laan, High Rollers en meer onlangs in Vetkoekpaleis.

Reggie Peace is ’n sensitiewe gees wat dikwels diep ontsteld raak oor al die hartseer, armoede en geweld in ons land. Hy weet hoe dit voel om blootgestel te wees hieraan. Vir lank was hy self aan die ontvang kant en baie van die mense vir wie hy lief is, is steeds daar.

“Ek leer nou eers om die emosies te voel en te express, anders borrel ek op. Waaraan hou ek vas as ek moedeloos en depressed raak? Definitief my journey met God! Jy pak elke dag die journey aan. En al val ’n mens baie en skiet jy dikwels tekort, leer ek om meer vas te hou aan God.”

Die seuntjie wat hy destyds op kinderhuis was, sou moeilik kon glo hoe sy lewe uitgedraai het. Die Here was goed vir hom tot hier. “Ek dink daai klein Reginald op skool sou baie trots wees, en dit sou hom hoop kon gee,” sê hy. Juis daarom het hy besluit om sy lewensverhaal neer te pen. Hy wil jonk en oud hoop gee. Lux Verbi het die boek gepubliseer.

Luister ook: Kollig-podsending | ‘Lidmate en gemeentes is die hart van die NG Kerk’ – Maartje van der Westhuizen met Barnard Beukman

Hy is lief vir die kerk. Na skool het Reggie vir ’n tyd lank in een van ons Echohuise by ’n NG Kerk in Melville genaamd Kruisgemeente, gewoon en daar by die studentebediening ingeskakel. Dit is waar ek hom die eerste keer ontmoet het.

Hy kry toenemend uitnodigings om op te tree by kerke. Die afgelope paar maande vandat sy boek uit is was hy onder andere al by NG Fontainebleau en ’n paar gemeentes in die Oos-Kaap.

Reggie is ook bekend as sanger. Sy musiekvideos is oral op sosiale media en op YouTube te sien. Soos sy boek, vertel sy musiek stories, veral oor worsteling en die soeke na vrede.

Lees ook Jaco se 2020-gesprek met Reggie :  Reggie Peace: Die kreatiewe vredemaker

Hy is ’n talentvolle man. Een van die dinge wat min mense van hom weet is dat hy ook ’n sportman is.

“Toe ek agt jaar oud was het ek begin hardloop. Ek kon nooit iets vir my ouers gee nie, maar as ek ’n medalje in ’n wedloop wen, kon ek dit huis toe vat en vir hulle gee”. Via sy prestasies in atletiek het hy by die Universiteit van Johannesburg beland. Hy vertel van die belangrike rol wat mentors in sy lewe gespeel het. Veral mense soos Chris Dirks van Athletes in Action.

Vandag hardloop hy steeds, nie meer kompeterend nie, maar om fiks te bly. En dit is goed vir sy kop, sê hy.

Sy toekomsdrome? “Om aan te hou stories vertel, deur film, musiek en skryf … en om aan te hou groei as mens. Ek dink dís die heel belangrikste ding,” sê Reggie Peace.

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top