Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

As ons as dissipels van Christus funksioneer, sal ons weer die klanke hoor van Handelinge 5:13: “… die volk (het) hoë agting vir hulle gehad”.

Sekswerk: Dit behandel menslike liggaam soos ’n produk

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Henrietta Klaasing van Randfontein skryf: Die berig oor die wettiging van prostitusie (01.09) het betrekking. Tereg sê regter Andre le Grange dat hierdie saak die hele samelewing raak.

Hierdie aansoek om wetgewing te verander, wys op onrusbarende tendense. Dit weerspieël breër veranderinge in gesinsdinamika, verhoudings en kulturele en godsdienstige oortuigings rakende die huwelik en samelewingsverbande in die hedendaagse lewe. In ’n era van radikale individualisme en onmiddellike bevrediging, moedig die samelewing dikwels praktyke aan wat gerief bo karakter en moraliteit prioritiseer. Prostitusie en ander maniere van minagting van die Bybelse siening van die huwelik word al hoe meer algemeen, maar dit kan met ernstige emosionele en verhoudingsprobleme gepaardgaan. In plaas daarvan om positief of onskadelik te wees, lei verkeerde keuses dikwels tot emosionele afstand, onstabiele verhoudings en mettertyd ’n verlies aan respek vir jouself en ander.

LEES OOK: Regter sê saak oor sekswerkers raak hele samelewing

Boonop sal die dekriminalisering van prostitusie in Suid-Afrika indruis teen die Grondwet se beskerming van menswaardigheid. Dit behandel die menslike liggaam soos ’n produk, wat die Konstitusionele Hof in vorige sake as vernederend beskou het. Navorsing toon dat dekriminalisering nie skade verminder nie – dit verhoog dikwels geweld, uitbuiting en mensehandel. Dit stuur ook ’n skadelike boodskap uit dat dit aanvaarbaar is om vir iemand se liggaam te betaal. Dit raak veral arm en kwesbare mense, wie se regte nie beskerm sou word nie. Die Grondwet voer aan dat waardigheid ’n basiese mensereg is, en omdat prostitusie as skadelik en ontmenslikend beskou word, ondersteun dekriminalisering daarvan nie grondwetlike waardes nie.

In die volkslied sing ons lustig: “God seën Suid-Afrika” en die Grondwet eindig met “mag God ons mense beskerm”. In 2022 het 85% mense as Christen geïdentifiseer. Volgens die Christelike geloof is enige seks buite die huwelik (dus prostitusie ook) strydig met die Bybel se boodskap. Indien anti-Bybelse prostitusie gewettig word, hoe kan ons met vrymoedigheid bid vir God se seën en beskerming?

“As die fondamente ondermyn word, wat kan die regverdige daaraan doen?”(Psalm 11:3).

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Sekswerk: Dit behandel menslike liggaam soos ’n produk”

  1. Francois Deyzel

    In die kol Henrietta. Selfs toe ek die Here nie geken het nie, het ek geweet prostitusie is verkeerd. Geslagssiektes en verslawing aan dwelms en drank het dit bewys. Toe kom VIGS en beaam dit baie sterk.
    Verval en afbreek van Goddelike waardes is deel van die kommunis/ateïs/antichris se plan.

Comments are closed.

Scroll to Top