Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Stefan Roos van Sunwardpark skryf: Die afgelope Lentekonferensie laat my met ’n diep en opregte stuk hoop.
Was dit dalk die insiggewende, relevante sessies? Of, was dit die goeie gros predikante wat ’n konsentrasie jeugdigheid en wysheid ondervang het? Dalk was dit die deel van stories, die praat oor stories en die skep van stories.
Tog bly ek wonder oor die oorsprong van hierdie hoop.
Meer as enigiets is dit die gevoel van die konferensie – tydens sessies, ja, maar veral ook die skouerskuur-geleenthede – wat my sal bybly. Dít, en ’n enkele (geparafraseerde) aanhaling:
“Ons moet liefs met nuuskierigheid, eerder as oordeel, na mekaar kyk.”
Dalk sou ons kon sê: “Ons moet eerder oor mekaar wonder, as om ons opinies oor mekaar as uitgemaakte saak te sien.” In ’n perfekte wêreld sal ons nie net oor mekaar wonder nie, maar ook saam met mekaar wonder!
LEES OOK: ‘Wat ek as lidmaat by ’n leergeleentheid vir dominees en teoloë geleer en ervaar het’
Ons bely ons geloof in ’n God van almagtige barmhartigheid deur ons deernis, sensitiwiteit en, dalk ook ons bietjie wonder. As daar wonder in ons woorde is, is dit woorde wat veilig val. As daar wonder in ons beelde is, skep dit omvangryke, geloofwaardige stories. As daar wonder in ons dade is, skuif ons dade van ’n afstand-charity na ’n intieme community.
Die wyse storievertellers – met hulle beliggaamde geloof – wat leisels opgetel het by vanjaar se Lentekonferensie laat my wonder. Dit laat my wonder oor my plek, my verantwoordelikheid en my deelname as jong predikant en jongmens in ’n kerk en land met ou bagasie. Maar, dit laat my veral ook wonder:
Ek wonder hoeveel mooier ons wêreld kan wees, as hierdie hope wonder en hoopvol wonder in die hart van ons elkeen kan tuis kom – en tuis bly.
In ’n gepolariseerde wêreld waar die wit-of-swart perspektiewe dikwels so koud en onbevredigend is, wonder ek of daar nie ál meer mense is wat stelselmatig ’n bietjie meer wonder nie.
Ek glo so. Ek hoop so.
