By die Lentekonferensie hoor Le Roux Schoeman die storie agter hierdie leergeleentheid uit die mond van die 86-jarige stigter en luister na ’n dominee wat glo die kerk kan die eerlikste plek op aarde wees.
Isaac Mogale is doenig met ’n tuinslang in die beddings rondom NG Universiteitsoord se baksteenmure en voor die waenhuisagtige deur by die hoofingang. Op sterkte van die eerste blomme kan ’n mens sê Mogale laat die lente een-een in.


’n 1967-Gedenkteken op die parkeerterrein vertel die storie van “al die ouers wat oor baie jare deur hulle voorbidding en bydraes” die gemeente hier teen die kampus van Universiteit van Pretoria help vestig het. En die kerk se argitek wou glads met die vorm van die gebou die storie vertel van ’n bruid wat in die rigting van die preekstoel kyk. “Vanuit die Woord is die gemeente, bruid van Christus,” verduidelik die gemeente se webblad.



Maar een keer per jaar – vir die afgelope 20 jaar – word die stories wat blomme en bakstene en ’n tuinier van Brits vertel, aangevul deur die storie van ’n samekoms van mense gegrond op Princeton Universiteit in die VSA se konsep van somerprogramme.

Bly leerbaar
Die Lentekonferensie is ’n geleentheid vir leraars om kennis en vaardighede op te skerp. Prof Malan Nel het vanjaar kom vertel hoekom hy twee dekades gelede sterk gevoel het oor voortgesette teologiese opleiding vir predikante en hoekom dit nie los van die universiteit mag ontwikkel nie. “Ek is opgelei in hierdie fakulteit deur, op sy tyd, die beste (Karl) Barth-kenner in hierdie land, prof AB du Preez. Oom Abie het altyd vir ons gesê, toe ons by hom begin klas loop het, ‘menere, ek sal vir julle uitvat, in ’n bootjie tot in die middel van die see, en ek sal hom op julle omkeer, maar dink sal julle dink.’ En vir my is dit wat ’n teachable spirit beteken … Jy is net nooit klaar gedink nie,” aldus Nel. “Maar daar is hierdie dialektiese spanning wat vasgehou moet word. Jy gaan in ’n kansel in met ’n diep beskeie onsekerheid. Sekerheid oor waaroor jy onseker is. Maar as jy die dag by die kansel ingaan met ’n diep onsekerheid oor waaroor jy seker is, moet jy liewer buite bly,” het Nel in ’n afsluitwoord op die laaste dag van die konferensie, wat 16-18 September plaasgevind het, gesê. Op 86 sê Nel: “Ons is opnuut geroepe om opnuut te ontdek, hoe volg jy Jesus, nóú?”. Dit lê volgens hom aan die hart van voortgesette bedieningsontwikkeling: “Dis net ’n oopgaan vir ’n werklikheid wat soveel groter is as ek.”
LEES OOK: ‘Wat ek as lidmaat by ’n leergeleentheid vir dominees en teoloë geleer en ervaar het’

Nel het uit die Bybel gelees, voorgegaan in die geloofsbelydenis en gebid saam met sowat 160 afgevaardigdes wat vanjaar se konferensie bygewoon het. “Iemand wat twyfel oor my liefde vir die NG Kerk, twyfel onnodig. Maar as die NG Kerk, enige kerk, nie nou herontdek dit gaan oor die Here Jesus die Christus nie, het ons ons noord verloor. As dit nie in ’n gemeente gaan oor Jesus, die Here, die Christus nie, soos wat God hom bekend gemaak het nie, dan is dit nie lente nie. Dan is dit een van die warmste somersdae in Navada-woestyn se Death Valley,” het Nel gesê.
Vanjaar se Lentekonferensie-tema was hoe om te bely met woord, beeld en daad. Dit is ’n vol program en deelnemers kies as ’t ware hulle eie leerplan in terme van watter lesingreekse hulle bywoon.

Wees dapper met stories
Die dominee en skrywer Jaco Strydom het gepraat oor stories. “Mense wil weet of Jesus-beginsels vandag werk,” het Strydom deur die loop van sy praatjie gesê met die uitdaging aan sy gehoor om die radikaliteit van die tekste oor Jesus dapper te vertel. “Miskien verreken ons nie dapperheid genoeg as Christenwaarde nie.”
Strydom lê klem daarop dat jongmense nie die toekoms van die kerk is nie maar die hede. Sy jongste boek (Eendag is te ver) sinspeel juis daarop en Strydom meen storievertellers moet die waarde van eerstehandse ervaring besef in ’n wêreld wat toenemend kunsmatig intelligent word. “As jy die voorreg het om gereeld mense te hê wat na jou luister, het jy ’n verantwoordelikheid om die tipe lewe te lei waar jy die stories kan hoor van mense wie se stories min vertel word,” het Strydom gesê. “Jesus het stories vertel … Oor en oor en oor.” Strydom meen daar is plek vir mooi stories, maar ook moeilike stories omdat lesers/hoorders juis kan identifiseer met tekortkominge in karakters. Dit is iets wat hom opgewonde maak. “Die kerk kan eintlik die eerlikste plek op aarde wees. Om eerlik te wees oor twyfel en vrae … Om ’n omgewing te skep waar ons die minste pretensieus is.”

Gesoek: Eerstehandse ervarings en kennis
Strydom het met konferensiegangers gedeel waar hy dink die perke van kunsmatige intelligensie (KI) lê wat stories betref. “Waar kry ons goeie stories? Jy kan op ChatGPT iets cute kry om te sê … Maar daar moet substance wees.” Strydom gebruik die idee van eerste- en tweedehandse kennis. “Jy kry ’n jong outjie en hy kan praat oor alles, maar alles kom deur ’n skerm of podcasts waarna hy luister. Baie min is rou, eerstehandse ervarings. Ek dink daar is ’n behoefte aan rou, eerstehandse ervarings,” sê Strydom as deel van sy uitdaging aan homself en ander om die gemaksone te verlaat. Dit is nou daardie plek wat hy omskryf as die mooi plek waar niks groei nie.
