Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Volop interaksies met plaaslike inwoners verryk die pelgrims se stapbelewenis.

Pelgrimstog van Hoop: Nuwe roete in Oos-Kaap lok reeds navrae 

Heléne Meissenheimer berig uit die ruwe Baviaans. 

 

Hy het ontdek die mense van die Baviaanskloof help mekaar. Só vertel Trevor Philander wat 15 jaar gelede as boekhouer uit Gqeberha hierheen gekom het en deesdae sy lyf “gasvryheid-preneur” hou.

Hy en ‘n vennoot se padrestaurant Klip Kafee skep vir ses mense werk in ‘n omgewing waar werk soos skaars is soos die winterreëns vanjaar was. Onlangs was hy op RSG om meer hierdie gemeenskapsprojek te vertel. 

Dis ‘n moeë dog sielstevrede groepie dominees wat op Maandag 6 Oktober by hom ingestap het vir middagete van geroosterde toebroodjies op dik snye tuisgebakte brood.

Trevor Philander (regs).
Pieter Kruger (regs) kén sy wêreld en sy mense.

LEES OOK: Meer oor kostes en roetes van die Pelgrimstog van Hoop

Vyf dae gelede het hulle onder ‘n reënboog in Jeffreysbaai weggespring om ‘n opwindende sewende toevoeging tot die Pelgrimstog van Hoop (PvH) te verken. Kerkbode stap saam tot die stap se eindpunt op Uniondale in die Klein Karoo. As als verloop maak die stappers op Saterdag 11 Oktober klaar. 

Buffels en loeries

Ons voetspore lê reeds kilometers ver op grondpaaie deur lemoenboorde, ‘n wildsplaas en boomryke klowe. Dis lang dae van stilstap, lag én diep gesels met middagetes en slapies onder skaduryke wildevy en geelhoutbome. Ons het bokmakieries en kraanvoëls gehoor, Knysna-loeries en ‘n buffel gesien en ‘n visarend hoor roep. Die Baviaanskloofnatuurreservaat geniet immers wêrelderfenisstatus vir sy ryke natuurlewe  – drie van die 34 sogenaamde hot spots in biodiversiteit kom hier voor.

En ons geniet die mense. By ons groepie stappers hoor mens ewe veel plesier in wat ons sien as die mense wat ons ontmoet. By elke herbergier sover ‘n hartlike ontvangs.

Martiens Mapoe (links) se donkiekar.

Ontmoet die locals 

Voor Trevor was daar landbouers en hul vroue. Een van hulle was gasplaaseienaar Pieter Kruger. Dié 71 jarige boer kén sy wêreld en sy mense. Sondagaand oor ‘n hartlike aandete van stampmielies, skaapvleis en soetpampoen het hy vertel van die keer toe ‘n renoster uit die Baviaanskloofnatuurreservaat pad afgestap het. Ook sy waardering vir hoe mense mekaar hier bystaan. Die twee NG gemeentes van Willowmore en Patensie sê hy trotseer elke jaar die ruwe kloof se paaie om mekaar se basaars te ondersteun.

Hy het ook eerwaarde Allan Hendrickse geken toe dié predikant was in dié vallei voor hy ’n bekende anti-apartheidleier geword het.

Sulke interaksies met plaaslike inwoners verryk die pelgrims se stapbelewenis. Logistieke uitdagings is daar wel, maar die geloof is sterker dat die oplossings sal kom. Daar is reeds PvH-pelgrims met navrae oor wanneer hulle vir hierdie staproete kan bespreek.

Ons kom ook agter dat die rooihoedpelgrims herkenbaar raak. Maandag na ‘n vinnige donkiekar lift saam met Martiens Mapoe (met Spogter en Ligman in die teuels), hoor die stappers padlangs onverwags van voor “Hallo Elders!” ‘n Groepie Gautengse onderwysers op hulle eie Camino was tog te bly om die pioniers te ontmoet en het die assosiasie gemaak met die TV-program Elders met aanbieder en stapperskrywer Erns Grundling. 

Volg gerus Pelgrimstog van Hoop se Facebookblad vir nog foto’s en inligting.

 

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top