Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Dieter de Bruin van Pretoria skryf: Dit is tyd om die dubbelsinnigheid te laat vaar.
In die NG Kerk bestaan daar nie iets soos ‘n “Diensleraar” nie. Diensleraars is eenvoudig predikante van die NG Kerk. Buiten dat dit die de facto-posisie is dat diensleraars in gemeentes as predikante funksioneer, is dit ook die teologies konsekwente stand van sake. Waarom sê ek so?
LEES OOK: Diensleraars is geen ‘kortpad’ na die bediening nie
Die wese van die amp van leraar, predikant of presbiter is om georden te word om in die orde van die bediening van die Woord en sakramente voor te gaan en om die pastorale sorg en leiding te behartig wat vanuit hierdie bediening voortvloei en daarna terugkeer. Ofskoon die reglemente en besluite rondom diensleraars aanvoer dat diensleraars, vanweë die feit dat hulle nie die volle opleiding van predikante ontvang het nie, ook nie die volle omvang van die bediening kan hanteer nie, word diensleraars, soos enige ander predikant, gelegitimeer om later georden te word as bedienaars van die Goddelike Woord – insluitende die sigbare Woord, die sakramente (VDM). Daar kan nie ’n bediening van voller omvang as dít wees nie.
LEES OOK: Diensleraars oor hulle ander beroepe, die waarde van mentors en ’n kultuur van begeleiding
In antwoord hierop sou ’n mens seker kon aanvoer dat daar twee kwalifikasies (of beperkings) vir hierdie bediening bestaan. Die een is dat diensleraars slegs in die konteks van hulle toegespitste bediening die Woord en sakramente kan bedien. Hierdie beperking is prakties onuitvoerbaar en teologies onsinnig. Waar anders hoort die bediening van die Woord en sakramente as in die gemeenskaplike byeenkoms van die gemeente? Die ander beperking is dat ’n diensleraar “onder toesig” van ’n gemeenteleraar of ’n ringskollega moet bedien. Dit geld natuurlik vir alle predikante dat hulle onder die toesig van die ring bedien – en hier lê een van die geleenthede wat die nuwe ampsbedeling kan ontgin. Dat hierdie institusionele toesig en begeleiding meer verpersoonlik word, kan ’n aanwins wees.
LEES OOK: Hoe lyk die impak wat diensleraars op gemeentes en gemeenskappe het?
Dit is belangrik om konsekwent oor die ampte en die ordening tot die bediening van Woord en sakramente te dink omdat die implikasies van die besluite wat geneem is, ’n daadwerklike impak op die teologiese opleiding en bediening in die NG Kerk het. Ons moet erken dat, met die nuwe ampsbedeling van die NG Kerk, die akademiese vereiste om ’n bedienaar van die Woord te word nie meer ’n ses jaar teologiese opleiding met Grieks en Hebreeus op tweedejaarsvlak as voorvereiste is nie. Die akademiese vereiste is nou ’n drie jaar teologiese kwalifikasie sonder Grieks en Hebreeus, of in sommige gevalle ’n een jaar nagraadse kwalifikasie as die kandidaat reeds ’n ander graad verwerf het. Ek beklemtoon hier dat dit die akademiese vereiste is, juis omdat dit nie die enigste vereiste vir legitimasie is nie, maar dat intensiewe kerklike vorming van hoogstaande gehalte en die bereiking van kernvaardighede en -kapasiteite van die kandidate verwag word.
Hiermee word ook nie ’n oordeel oor diensleraars se opleiding en kapasiteite gevel nie. In my eie ervaring, en soos ook in hierdie bladsye van getuig is, lewer diensleraars in hulle persoon en bediening ’n wonderlike bydrae tot die kerk. Die pleidooi is bloot dat die NG Kerk nugter te werk gaan met die gegewens binne die bedeling waarin ons ons nou bevind, sodat die Woord en sakramente “suiwer bedien kan word”, en dat die nodige aanpassings gemaak word indien nodig.
Waar laat dit dan die “gewone” of “vol” predikante wat die “tradisionele” opleiding ondergaan het? In die toekoms gaan die begeleiding van en toesig oor predikante, wat in die ring gesetel is, al hoe belangriker word. En hier sou ’n mens kreatief kon nadink oor die ekumeniese en gereformeerde tradisie rondom die besondere ampte. Miskien het dit tyd geword dat daar ’n vereiste sal wees dat daar in elke ring ’n “doktorsamp”, à la Calvyn, moet wees: ’n predikant met verdere opleiding wat in die besonder die verantwoordelikheid het vir die teologiese begeleiding van die predikante in die ring. En miskien kan die voorsittende presbiter van die ring selfs iets soos ’n biskoprol inneem om die presbiters namens die ring pastoraal te versorg en te “oorsien”.

“Verder, wat die bedienaars van die Woord betref: hulle het, op watter plek hulle ook al mag wees, een en dieselfde mag en gesag omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is – die enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die kerk” NGB artikel 31.
M.a.w. nee vir enige biskop wie nie “oorsien” vanaf die regter hand van die Vader in die hemel nie. #Blygereformeerd
Dankie Dieter,
Vir eens ‘n helder en klinkklare argument wat van die wollerigheid ‘n netjiese trui brei.
Dr. De Bruyn is heeltemal korrek. Die huidige onderskeid is verwarrend en in die praktyk van kerkwees onsinnig. Daar moes baie beter gedink gewees het oor die praktyk hiervan voor dit geimplimenteer is. Die probleem is dat hierdie meestal uit die akademiese kringe bedink is, nie soveel vanuit die kerklike praktyk nie.
Dit maak nie die poging sinneloos nie. Die praktyk moet eerder opvang om seker te maak dat die wins hiervan vir die kerk beskikbaar word.