Mias Nortier van NG Kerk Jacobsdal skryf: Die Ring van Fauresmith strek vanaf Springfontein in die suide van die Vrystaat tot Jacobsdal aan die weste. Hierdie string dorpies beskik oor gemeenskappe met diverse boerderye, toerisme-attraksies en mense met groot harte. Ongelukkig ook, deel hierdie dorpies die werklikheid van munisipaliteite wat verval en infrastruktuur wat verkrummel onder korrupsie en wanadministrasie. En dit is in hierdie konteks dat die NG Kerk se gemeentes al vir ’n geruime tyd dink oor wat die rol van die kerk hierin moet wees.

LEES OOK: Stories dryf soeke na aansteeklike hoop vir plattelandse dorpe
Op Saterdag 11 Oktober 2025, het daar sewe vanuit die nege ringsgemeentes, asook verteenwoordigers vanuit die NG Kerk in Afrika (NGKA) en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA), byeengekom op Jacobsdal vir die werkswinkel van Dorpe Floreer. In aanloop tot en met die beplanning van hierdie dag, was die fokus op die praktiese uitvoerbaarheid en volhoubaarheid van alles wat na hierdie dag moet gebeur. Te veel al in die verlede het hierdie tipe werkswinkel op niks uitgeloop nie, telkens net nog ’n Saterdag wat opgeoffer word en lekker kos wat geëet is terwyl daar heeltyd geluister word na teorie en lesings. Hierdie inisiatief is ondersteun deur die NG Kerk in die Vrystaat se Diens van Barmhartigheid.
Die program was ’n mengsel van stilword en luister, geweef in teorie en praktyk. Laasgenoemde het stelselmatig meer en meer konkreet geword. Jeremia 29 het as basis gedien oor hoe die kerk kan dink oor die rol van die kerk (gelowiges) in ’n konteks van ’n vyandige regering (Babilon). Al die deelnemers het in voertuie geklim en bo-op bakkies en het ’n skattejag gaan doen in die dorp om te gaan observeer wat alles op die dorp is. Waar daar gewoonlik op die negatiewe dinge gefokus word, soos slaggate en riool in die paaie, is deelnemers aangemoedig om te soek na die onopgemerkte of weggesteekte juwele, hulpbronne wat dikwels misgekyk of ongebruik gelaat word. Twee kenners op die gebied van verandering het ook hulle kennis kom deel en die deelnemers gehelp om nuut te dink oor hulle dorpe. Istell-Orton Nightingale, verbonde aan die NRO Restaurare, het kom vertel oor die littekens van verandering in die verhouding tussen gemeenskappe en munisipaliteite. Hier was die fokus op die belangrikheid van goeie verhoudings wat eers gebou moet word en dat dit nie aangejaag kan word nie. Kobus White, bedryfsielkundige verbonde aan die Stad Kaapstad, het op sy beurt kom deel oor die sielkunde van verandering in gemeenskappe. Hier was die fokus op die feit dat elkeen van ons eers by onsself moet begin en in die spieël moet kyk, voordat ons die wêreld daarbuite wil gaan verander.

LEES OOK: Oos-Kaapse Sinode sê: ‘Hierheen stuur God ons …’
Na middagete het die deelnemers deelgeneem aan ’n lewensgrootte bordspeletjie wat spesiaal ontwikkel is vir hierdie dag. ’n 9×9 Bord is op die kerksaal se vloer uitgelê met groot stukke wat rondbeweeg word en groot dobbelsteentjies wat gegooi word om die volgende stap te bepaal. In kort werk die speletjie soos volg:
- Doel van die spel is om eerste vir jou dorp die meeste hulpbronne/infrastruktuur te bekom.
- Geldstukke en mense word gebruik om infrastruktuur aan te koop.
- Twee spanne (dorpe) speel teen mekaar en hulle begin met ongelyke hoeveelheid spelers, hulpbronne en geld.
- Daar is ook onvoorspelbare gebeure wat plaasvind om die lewe te simboliseer, soos veldbrande en ook bonus geld of mense.
- Tydens hierdie speletjie moet elke span gereeld moeilike besluite maak en vasstel wat die prioriteite vir hulle dorp is.

Na daar gereflekteer is oor die speletjie en wat dit alles behels in die praktyk, is daar oorbeweeg na ’n nog meer konkrete en praktiese oefening: die installasie van ’n watertenk vir die dorp se gebruik. Een van Jacobsdal se uitdagings is om konstant drinkbare water te bekom. Die krane is gereeld leeg, veral in die Ratanang-woonbuurt. Die meeste van die werk is alreeds vooraf gedoen, maar die groep afgevaardigdes moes help om die watertenk op die kerkgronde af te rond deur ’n chloor-‘floater’ in te sit, vrywaringsbord vas te maak en die kraan te installeer. Hierdie was ’n manier om die deelnemers te laat nadink oor wat hulle prakties kan gaan doen op hulle eie dorp.

LEES OOK: Ontmoetings langs die pad wys iets van die pelgrim se etos: oop vir die oomblik, oop vir ander
Aan die einde van die besige dag, is die proses afgerond deur die verteenwoordigers van elke dorp te laat beplan aan ’n plan vir drie weke, drie maande en drie jaar. Hulle het elkeen ’n koffiereisbeker gekry met ’n prentjie op om hulle te herinner aan alles wat op hierdie dag gebeur het en om nooit moed op te gee vir die geleenthede op hulle tuisdorp nie.
Ds Mias Nortier is predikant by die NG Gemeente Jacobsdal.
