Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Kerk waar studente kan behoort en beweeg

In Novembermaand het NG Universiteitsoord twee wonderlike vieringsgeleenthede aangebied: Die eerste was die 2025-legitimasieplegtigheid is aangebied namens die Kuratorium van Transvaal van die NG Kerk, waartydens preekvergunning aan studente, artikulasie van diensleraars asook legitimasie van proponent-diensleraars en proponent-leraars verleen is. Annabelle Lombard doen verslag. 

 

LEES OOK: Beroepbare proponente en diensleraars: Ontmoet UP se klas van 2025

Die tweede was die jaarlikse Klaarkrydiens, waartydens studente wat grade voltooi het, as geloofsgemeenskap gevier word en graduandi gegroet is en simbolies uitgestuur word na hulle volgende avontuur. Die diens was propvol jeugdige energie en opwinding. Die studente beskryf die atmosfeer as ’n bussin’ vibe! Die aand het afgeskop met ds Christian Oberholzer se aansteeklike energie wat elke afkondiging laat klink het soos iets onmisbaars! Daarna het wonderlike musiek gevolg wat die massiewe ruimte gevul het met musiek wat jou hele menswees voed. Dit word gelei deur ’n studente-orkes en voorsangroep wat klassieke en kontemporêre musiek op meesterlike wyse saamgesnoer het.

Elke ding het sy vaste tyd

Ds Anuschka Smit (foto) het Prediker 3 gebruik om oor God se seisoene en God se tyd te preek. “Almal staan nou op ’n manier aan die einde van iets en is effens bekommerd oor die nuwe hoofstuk wat op ons wag. Die wêreld leef in ’n ritme wat God self in plek gesit het. Hy is ook in hierdie seisoen saam met jou. Prediker leer ons om nie bang te wees vir tyd nie, want God is groter as tyd. En Hy het iets van daardie ewigheidstyd ook in jou hart geplant. So as jy in ’n tyd van wag is, vertrou Hom. As jy in ’n tyd van begin is, soek Hom. As jy in ’n tyd van klaarmaak is, dank Hom. En as jy in ’n tyd van soek of onsekerheid is, anker jouself in Hom.”

Tydens die roetemerkerdiens is matrikulante verwelkom as voornemende studente en daar is ook vir hulle volgende hoofstuk gebid. Hulle is ook hartlik uitgenooi na die eerstejaarskamp en al die heerlike gemeenteaktiwiteite wat op hulle wag.

Universiteitsoord is ’n besonderse studentegemeente in die hartjie van Tuks in Pretoria. Die gemeente se mandaat sedert 1960, is om studente te versorg en dit is steeds vir hulle die grootste voorreg om ’n gemeente te kan wees vir ’n spesiale tydperk in jongmense se lewe.

Aan die einde van die diens is die 17 studente wat almal hulle grade voltooi het, vorentoe geroep en ’n geskenkie is aan elkeen oorhandig. Die studente kon sê wat hulle studeer het en wat hulle hoop om volgende jaar te doen. Die studente wat weggaan uit die gemeente is bedank vir die groot rol wat hulle in die kerk gespeel het en die gemeente het die seën oor hulle gesing.

’n Geestelike tuiste vir almal

Universiteitsoord is ’n besonderse studentegemeente in die hartjie van Tuks in Pretoria. Die gemeente se mandaat sedert 1960, is om studente te versorg en dit is steeds vir hulle die grootste voorreg om ’n gemeente te kan wees vir ’n spesiale tydperk in jongmense se lewe. Tydens hierdie studentejare bou hulle in jongmense se lewe, ontwikkel leierskapvaardighede en berei die studente voor vir die rol wat hulle in hulle eie gemeenskappe en gemeentes gaan speel. Die gemeente is nie slegs ’n geestelike tuiste vir koshuis- en dorpstudente nie, maar vir Tuks-studente wat oor die hele land versprei is. Daar is selfs studente van ander akademiese instellings soos Akademia, Varsity- en Vega College, asook Isa Carstens- en Soltech-studente wat by hulle inskakel. Verder is daar ook ’n bediening vir gesinne en ander mense van oor die hele stad waarby dr Arno Meiring veral betrokke is. Die gemeente is veral bekend vir sy kulturele bydrae met gereelde orrelkonserte en musiekuitvoerings deur hulle internasionaal gevierde orrelis dr Isabelle van Rensburg. Universiteitsoord speel ook gereeld gasheer vir Capital Singers wat ’n massakoor-inisiatief is en ’n kultuur van koormusiek uitgebou het in die stad.

Dit is vir Universiteitsoord kosbaar om ’n baie goeie verhouding met die kuratorium te hê. Die gemeente is waar die NG Kerk en Hervormde Kerk se teologiestudente hulle kerklike opleiding kry, klaspreke en proefpreke lewer en georden word.

Die Fakulteit van Teologie en Religie is in 1917 gestig as ’n fakulteit met volle akademiese status, dus nie ’n kweekskool nie en daarom geag word as die oudste teologiefakulteit in Suid-Afrika. Die fakulteit het ’n samewerkingsooreenkoms met die NG Kerk sedert 1938 in die opleiding van leraars. Tans is dit ook die opleidingsinstelling vir die Hervormde Kerk, die Presbiteriaanse Kerk, die Verenigende Gereformeerde Kerk, Kongregasionaliste (UCCSA),’n Duitse konsortium van teologiese instellings in Duitsland, Skandinawiese lande, Switserland en Rusland asook die Vancouver School of Theology. Hierdie verskeidenheid van denominasies is eintlik sprekend van ’n besonderse ekumene-program. Studente uit 34 verskillende kerkgenootskappe sit saam in die klas en ontvang kwaliteit teologiese opleiding, doen saam navorsing, bou interkerklike netwerke en leierskap wat baie toekomstige brûe kan bou.

Tydens die Lentekonferensie by Universiteitsoord in September vanjaar het die fakulteit se dekaan prof Rantoa Letšosa die diepgaande verbintenis tussen die fakulteit en kerk benadruk: “Ons teologie bestaan ter wille van die kerk. Die kerk gee aan teologie ’n tuiste, ’n konteks, ’n gemeenskap van verantwoording. Saam beliggaam ons die visie van reformerende oortuiging.”

Meiring sê: “Dis vir Universiteitsoord ’n besonderse eer om die veilige ruimte te wees waarbinne ’n verskeidenheid van geloofsleiers se stemme gehoor kan word. Ons wil ’n kerk wees wat eenheid bring vanuit die verskeidenheid van geloofservarings. Dit is vir ons lekker om ook teologiestudente te ondersteun deur mentorskap en hulle gebruik selfs van ons lokale en oefen hulle vaardighede hier en hou van die fakulteit se groot funksies hier.”

 

Kerk ís die antwoord!

Ek kon met twee “klaarkry-studente” gesels oor hulle belewenis van Universiteitsoord:

Kara Herbst het aktuariële wetenskap studeer en ’n onderwysdiploma voltooi. Sy was vier jaar deel van die gemeente as selgroepleier in haar koshuis, uitreikspanlid van die Bosvelduitreik, kampleier en talle gemeenteprojekte en fondsinsamelings. Sy voel sy het baie meer ontvang by Unioord (soos dit onder studente bekendstaan) en sy sal die gemeente baie sterk aanbeveel vir enige skoolverlater.

Wouter du Toit het die vierjaargraad in bedryfsingenieurswese voltooi en hy beskryf die kerk as die perfekte oorgang tussen skool en die studentelewe. “Hier is altyd ‘n lekker atmosfeer tussen die studente en die nommer een ding is: Jesus is sentraal in die kerk.” Wouter was ook betrokke by die leierspan en betrokke by baie kampe en projekte van die gemeente. Op my vraag hoe ’n mens tyd kry vir soveel kerkverpligtinge terwyl jy besig is met so ’n uitdagende kursus, was sy antwoord sonder huiwering: “Dis nie ’n juggle nie. Kerk ís die secret! Vanaand het ek nogal hier gestaan en dink hoeveel keer ek in die laaste paar jaar baie bekommerd was op ’n Sondag, want baie keer skryf jy weer daai Maandag toets. Ek het nou hier aan die einde van vier jaar besef dat dit al daai kere was, wat ek wel kerk toe gekom het wat my gedra het. Elke week kom jy om meer oor Jesus te leer. Jy leer ook jouself ken en hoe om mense van Jesus te vertel. Dis vir my spesiaal en daarom ek dink ek Universiteitsoord doen fantastiese werk. Ek het wonderlike vriende hier gemaak wat saam met jou die Here aanbid. Ek gaan die heerlike praise & worship mis!”

Annabelle Lombard is deel van die bedieningspan van Skuilkrans-Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top