Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In ’n reeks gesprekke tussen die sanger Nick Cave en die joernalis Sean O’Hare – gepubliseer met die titel Faith, hope, and carnage (2022) – praat Cave openlik oor die dood van sy seuns Arthur en Jethro, sy dwelmverslawings en donker tye in sy lewe, sy familielewe en huwelike, en hoe dit wat hy glo, hoop, en liefhet sou vorm. Hy meen ons leef deurentyd tussen desperaatheid en skoonheid, tussen rou en vreugde, tussen vertwyfeling en verwondering:
LEES OOK | Nadia Marais: Die geskenk van egtheid
“I think in a way my work has become an explicit rejection of cynicism and negativity. I simply have no time for it. I mean that quite literally, and from a personal perspective. No time for censure or relentless condemnation. No time for the whole cycle of perpetual blame. Others can do that sort of thing. I haven’t the stomach for it, or the time. Life is too damn short, in my opinion, not to be awed.”
Vir Cave is om met verwondering te leef ’n doelbewuste keuse: dit behels om die kosbaarheid van oomblikke en mense en verhoudings te waardeer, en om die tyd met mekaar wat aan ons gegun word, te geniet. Ons is nie vir ewig hier nie en ons het ’n keuse hoe ons deur die lewe wat ons wél gegun word, beweeg. Hoe ons ons dra en gedra, wat ons uitdra en verdra, daaroor het ons wel ’n sê. Daarmee kan ons heelwat doen.
LEES OOK | Nadia Marais: Geseënd is die geborenes
Adventstyd, Kerstyd, is dalk ’n goeie tyd om ons sin van verwondering te herontdek. Die Evangelies gebruik juis die taal van verwondering om oor Jesus se geboorte te praat: diegene wat hoor wat die herders vertel oor die kindjie wat gebore is, is verwonderd (Lukas 2:18); Maria en Josef is verwonderd oor wat Simeon oor die kind sê (Lukas 2:33); en later – wanneer Jesus vir die eerste keer preek – is die mense verwonderd (Lukas 4:22). Dit is, trouens, die geval regdeur Jesus se lewe en bediening – dat mense verwonderd staan oor sy woorde en optrede – en uiteindelik ook die reaksie op die opstanding: Petrus (Lukas 24:12) en al die dissipels (Lukas 24:41) verwonder hulle oor Jesus, die Opgestane. Telkens word die Griekse woord thaumatzo (θαυμάζω) hiervoor gebruik.
LEES OOK | Nadia Marais: Die geskenk van stories
Karl Barth sou – volgens die Amerikaanse teoloog Steven Guthrie – na die einde van sy lewe daaroor skryf dat ’n teoloog se werk bepaal behoort te word deur die logika van verwondering (eerder as ’n verwondering oor die logika). Ook hier sou ’n mens kon dink aan hoe sentraal die woordeskat en dissipline van verwondering vir talle teoloë sou wees. Dink maar aan die kerkvader Augustinus, wie se Belydenisse (Confessiones) deurspek is van die logika van verwondering; of aan die vader van die moderne teologie, Friedrich Schleiermacher, wie se Kersfeesdialoog (Weihnachtsfeier) juis vir ons wys dat die vleeswording van Christus verwondering kan en behoort te kweek.
Dit is vreesaanjaend maklik om in ’n groef van onvergenoegdheid te verval. Dit is werklik nie moeilik – veral teen hierdie tyd van die jaar – om ons oor te gee aan foutsoekerigheid en kleinlikheid nie. Ons kán pal ontevrede en teleurgesteld wees; en met reg: daar is heelwat wat ook in ons lewe en verhoudings en land verkeerd loop. Dikwels is ons bloot net te hartseer of te moeg om verby onsself te kyk en ons sin vir verwondering te herwin.
In Antoine de Saint-Exupéry se Die klein prinsie (vertaal deur André P Brink), word daar opgemerk dat ons (grootmense) verleer het om ons te verwonder oor dit wat belangrik is: “As ’n mens hulle van ’n nuwe vriend vertel, dan vra hulle nooit uit oor die dinge wat regtig belangrik is nie. Dink jy hulle sou vra: ‘Hoe klink sy stem? Wat se speletjies speel hy graag? Maak hy skoenlappers bymekaar?’ O nee. Wat hulle wil weet is: ‘Hoe oud is hy? Hoeveel broers het hy? Hoeveel weeg hy? Wat verdien sy pa?’ Eers dan dink hulle hulle ken hom.”
LEES OOK | Nadia Marais: Die geskenk van neurodiversiteit
Dalk bied Advent aan ons juis die geleentheid om, soos wat die Latynse adventus suggereer, ’n nuwe begin te omarm: die inbraak wat genade in ons wêreld en lewe maak; die aankoms van Christus – die kind oor wie die mense hulle sou verwonder – in ons midde. Verwondering vereis ontvanklikheid: om verras en verander te kan word deur dit wat ons nie verwag of voorsien nie, om te besef dat ons verkeerd kan wees in ons sienings, en om te erken dat ons ons soms blindstaar aan nietighede en kleinlikhede.
Dalk is dit juis kinders, die kundiges van verwondering, wat ons hiermee kan help.
Mag ons in hierdie dae die geskenk van verwondering ontvang. Mag ons bereid wees om dit uit die mees onverwagse oorde, en van die onwaarskynlikstes en kleinstes onder ons, te ontvang. Mag dit ons so aan die einde – en begin – van ’n jaar herinner aan wie ons is.
Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as predikant gekoppel aan die NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen.
