Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Dit was Vrouedag en dit is Vrouemaand. Soms wonder ek waarom ons vrouens gelukwens daarmee – veral gegewe dat hierdie publieke vakansiedag ’n herdenking is van die 1956-vroueprotes teen apartheidswetgewing, en daarmee vanuit ’n baie spesifieke geskiedenis gebore is. Is gelukwensing ’n herinnering daaraan dat vrouens waardeer (moet) word? Is dit ’n uitnodiging om opnuut na te dink oor wat dit beteken om ’n vrou te wees vandag? Is dit nodig om vrouens spesiaal of gekoester of belangrik te laat voel?
Vrouens het egter groter probleme as om ondergewaardeerd te voel.
In ’n onlangse veldtog op sosiale media, met die titel “How to not get unalived as a woman in SA today,” word tien adviese – met tien voorbeelde van Suid-Afrikaanse vroue wat vermoor is – gegee: (1) moenie die poskantoor besoek nie (Uyinene Mrwetyana), (2) moenie op ’n afspraak gaan nie (Olorato Mongale), (3) moenie uitgaan nie (Hannah Cornelius), (4) moenie huis toe gaan nie (Lindiwe Chibi), (5) moenie universiteit toe gaan nie (Zolile Khumalo), (6) moenie na jou lewensmaat gaan nie (Tshegofatso Pule), (7) moenie na die badkamer gaan nie (Reeva Steenkamp), (8) moenie uitgaan op straat nie (Noxolo Nogwaza), (9) moenie ’n taxi neem nie (Gabisile Shabane), en (10) moet eerder glad nie bestaan nie (Nosicelo Mtebeni).
Die veldtog eindig met ’n skrikwekkende herinnering; ’n aanhaling van die Suid-Afrikaanse vrouedigter Koleka Putuma se gedig “every / three hours”:
every 3 hours one of us does not make it
Bykans 30 jaar gelede al skryf die Suid-Afrikaanse feministiese teoloog Denise Ackermann dat daar ’n oorlog woed teen die liggame van vroue en kinders in hierdie land. Suid-Afrikaanse teoloë – en veral vroueteoloë – behoort nie weg te skram van die werklikheid van seksuele geweld teen vroue en kinders nie, maar moet dit juis baie ernstig en dringend aanspreek.
Vroueteoloë bied ’n ryke verskeidenheid van voorstelle vir hoe geweld, en veral seksuele geweld, teen vroue en kinders uitgewis kan word. So argumenteer Isabel Phiri, die Malawiese feministiese teoloog wat ’n senior leierskapsrol binne die sekretariaat van die Wêreldraad van Kerke beklee, byvoorbeeld teen oplossings wat vroue se alleenverantwoordelikheid is, en vra eerder na gemeenskaplike transformasie: ’n taak wat vroue én mans – ’n ganse samelewing, die hele kerk – opgelê word.
LEES OOK | Nadia Marais: Die geskenk van eenheid
Vir die Kanadese feministiese teoloog Grace Jantzen lê die uitdaging ook veel dieper as om oppervlakkige, kosmetiese veranderinge aan te bring wat indrukke van veiligheid vir vroue skep. Dit vra na ’n totale, radikale houdingsverandering: van contemptus mundi (haat vir die wêreld) na amor mundi (liefde vir die wêreld); die kultivering van respek vir alle mense, alle geborenes (oftewel natals), en vir die wêreld waarin ons gebore word, ons tuiste. Dit behels ’n opsetlike keuse: om liefde vir die ander te kultiveer, in woord en daad en taal en ook verbeelding.
LEES OOK: Wat beteken dit tog om gelukkig te wees?
Hiervoor benodig ons ’n ander manier van sinmaak, meen Jantzen in haar boek Becoming Divine. Die Westerse gesekulariseerde wêreld is behep met die dood: met oorloë en magstryde en sterflikheid – of wat sy noem ’n duur belegging in nekrofilie, ’n liefde vir die dood. Daarteenoor staan lewe en geboorte en florering. Jantzen beroep haar op die politieke filosoof Hannah Arendt vir haar gebruik van die begrip natality (teenoor mortality). Natality, dalk kan ons dit ons geborenheid noem?, is ’n aanduiding dat elke lewe spesiaal is en gevier behoort te word, en dat daar oor elke lewe ’n storie vertel kan word – aldus Jantzen.
Geboorte is egter, vir Hannah Arendt, veel meer as die eenmalige, unieke gebeurtenis waarin ons ons opwagting maak in ons wêreld en in hierdie lewe. As geborenes (oftewel natals) beskik ons oor die kapasiteit vir nuwe moontlikhede en die vermoë om nuut te kan begin: om ander keuses uit te oefen, om anders te leer dink en optree, as waaraan ons gewoond is of wat ons dink die norm is. Die kapasiteit vir ’n nuwe begin is ingebed in wie ons is as geborenes, skryf Jantzen.
LEES OOK: Die geskenk van sagtheid
Hierin speel vroue ’n belangrike rol, want hoewel nie alle vroue geboorte skenk nie, is elke persoon wat nog ooit geleef het gebore uit ’n vrou, volgens Jantzen. Om gebore te word is selfs meer fundamenteel as om te sterf, aangesien ons dood ons geboorte veronderstel.
Lewe en florering is moontlik omdat ons elkeen geborenes is.
Meer nog: ons verlossing is moontlik omdat Jesus Christus self ’n geborene is. Gebore uit die maagd Maria, bely die kerk oor die eeue heen by monde van die Apostoliese Geloofsbelydenis. Sonder die geboorte van Christus is daar geen kruisiging, geen dood, geen opstanding, geen hemelvaart nie. Aan die hart van die evangelie word hierdie geloofsoortuiging verwoord: God is gebore van ’n vrou. Maria is die theotokos, die draer van God. Jesus ontvang die geskenk van geborenheid, van vleeswording, van ’n vrou.
Sonder ’n vroueliggaam is Jesus Christus nie gebore nie.
Geseënd is die geborenes.
Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is predikant van die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen.
