Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die penskets ‘The Virgin and Child’ – deur die Hollandse kunstenaar Gerbrand van den Eeckhout (1638) – beeld die sagtheid tussen Maria en Jesus op ’n treffende wyse uit.

Nadia Marais | Die geskenk van sagtheid

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


what

massacre

happens to my son

between

him

living within my skin.

drinking my cells.

my water.

my organs.

and

his soft psyche turning

cruel.

does he not remember

he

is half woman.

In Vrouemaand mag dit dalk juis gepas wees om hierdie aangrypende gedig van Nayyirah Waheed – getitled “from” – van nader te bekyk, want dit vra aan ons elkeen wat bereid is om daarmee gekonfronteer te word ’n belangrike vraag. Wat gebeur binne die sagte binnewêreld van ons kinders dat die sagtheid en sorg wat hulle binne die baarmoeder – volledig afhanklik van ’n vrou se liggaam – ontvang, later vergeet of ontken sou kon word?

Lees ook: Die fees van die ongenooides: Genesing as teken van die koninkryk, nie voorwaarde vir toegang – Marius Nel

Dit is meer as net ’n onvermoë of ’n onwilligheid om te onthou dat haar seun uit haar gebore is, en daarom die helfte vrou is, meen Waheed: dit is ’n slagting en ’n wreedheid. Die verkleinering, veragting, en haat van vroue het immers nie net op vroue ’n verwoestende effek nie. Patriargie sypel ook in die sagte psige van kinders in, waar dit verwoesting saai en uiteindelik wreedheid kweek – aldus hierdie gedig.

Hoe pleeg ons geweld teen vroue – ook in ons talle klein, oënskynlik onskadelike wreedhede – wanneer ons elkeen gebore is uit ’n vrou? Onthou ons dan nie …? vra Waheed.

In haar boek Rediscovering friendship (2000) skryf die Duitse feministiese teoloog Elizabeth Moltmann-Wendel oor die herinnering aan die eerste veiligheid wat ons almal – vroue én mans – van ons versorgers (en vroue spesifiek, in haar boek) ontvang: naamlik, sagtheid of teerheid. Ons onthou hierdie sagtheid as ’n baie spesifieke vorm van aanraking: naamlik, aanraking wat gerus stel en genees. Sagtheid is veel meer as net om sag te wees: dit is ’n herinnering aan ons oorsprong, ons eerste ervaring van ons medemenslikheid, en die kultivering van ’n gevoel van tuiskoms. Sonder hierdie vroeë ervarings van sagtheid kan ons nie werklik sin maak van wie ons is nie.

Tog maak sagtheid – veral die sagtheid wat ons ongevraagd en onverdiend van ander ontvang – min sin binne ’n wêreld wat magsvertoon, onafhanklikheid en ongetraaktheid prioritiseer. Sagtheid werk immers met ’n heel ander logika: Ons word herinner aan ons hulpeloosheid, weerloosheid en broosheid eerder as aan eie energie, inisiatief en vryheid. Dit is deur die aanvaarding en beskerming van ander – eerder as ons eie keuses en kragte – wat ons groei en volwassewording moontlik gemaak word. Sagtheid is ’n geskenk van onvoorwaardelike en genesende liefde wat ons ontvang, maar waardeur ons ook genoop word om liefde aan ander – veral die mees weerlose onder ons – te gee.

Ons sou op hierdie punt die fout kon maak om sagtheid af te skryf as die domein van vroue en moeders; as iets privaat en apolities en mak. Maar sagtheid het juis ’n publieke gesig, meen Moltmann-Wendel: Dit behels ’n omwerping van onreg as deel van die toewyding aan aanraking en weerloosheid. Sagtheid vra daarom ook om protes teen dit wat rigied, droog en rasionalisties is. As ‘dogter van God’ bied sagtheid ’n alternatief tot patriargie en oorheersing, en staan dit in diens van alles wat lewegewend is.

Lees ook: Nadia Marais: Die geskenk van stories

Die penskets ‘The Virgin and Child’ – deur die Hollandse kunstenaar Gerbrand van den Eeckhout (1638) – beeld die sagtheid tussen Maria en Jesus op ’n treffende wyse uit. Jesus, gebore van ’n vrou, is nie net die skenker van sagtheid – insluitend aan diegene soos Judas wat binne ons logika dit dalk die minste sou verdien – nie, maar ook die ontvanger van sagtheid. Jesus ontvang die geskenk van sagtheid sy lewe deur, veral vanaf vroue – van sy ma Maria, maar ook van ander vrouefigure, soos Maria Magdalena.

Maria Magdalena is trouens juis binne Moltmann-Wendel se argument die beskermheilige vir sagtheid – nie omdat sy vrou of ma is nie (sy is dit juis nie), maar eerder omdat sy die lojale vriend en sagte gesellin van Jesus is. Hierin lê haar krag en haar voorbeeld vir ons: In haar sien ons hoe die kultivering van sagtheid (kan) lyk. Sy gee die geskenk van sagtheid – ook aan Jesus – as ’n uitdrukking van liefde. Daarom is Maria Magdalena ’n heenwyser na die sagtheid van God, wat belangstel in ons welwese en florering. Sagtheid is nie net liefde vir die groot en ingrypende sake nie, maar ook ’n liefde vir dit wat klein en onbelangrik blyk te wees.

Wanneer ons ons geloof bely, onthou ons die sagte God. As die belydende gemeenskap lê hierdie oomblik van onthou – waarna Waheed se gedig vra – aan die hart van die kerk se geloofsbelydenis. Ons bely – ons onthou – immers dat Jesus Christus gebore is uit die maagd Maria. Dit wil sê: Jesus, ons verlosser en saligmaker, is gebore van ’n vrou. Hiersonder is daar geen vleeswording, geen kruisiging, geen opstanding, geen verlossing nie. Hiersonder is daar geen goeie nuus van die evangelie nie.

Mag ons in hierdie harde dae sag word. Mag ons onthou.

Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is predikant by die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.