Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Albin Bowler van Bellville skryf: Neels Jackson se brief van 30 Okt 2025 verwys na verskeie Bybelse waarhede, asook verkeerde sienings wat sommige NG lidmate huldig. Die vernaamste waarheid is dat God omgee vir mense wat ly.
Ons kan nog vele ander tekste aanhaal waar Jesus self onreg en lyding sterk aanspreek, Dan is daar nog nie eens verwys na OT-tekste nie.
Die Bybelse opdrag is dus duidelik: Christene, veral leraars, het die plig om o.a. onreg en lyding skerp aan te spreek. Daaroor kan daar geen debat wees nie. Ons in SA moet dus nie die staatskerk-benadering, waar die NG Kerk en ander kerke die Apartheidstaat gesteun of stil gebly het oor wandade, herhaal nie.
Lees ook: Kerknuus in 2025: Namibië, Vrystaat, Gasa en Groote Kerk
Die vraag is egter: Behoort ’n leraar vandag in SA stil te bly oor die onreg en lyding deur die ANC-geleide regering veroorsaak of moet die leraar ander lande se onreg en lyding wat hulle veroorsaak (bv. Israel), aanspreek? Wat leer die Bybel en die geskiedenis?
Ons sien duidelik dat Jeremia en ander OT profete, Jesus, Beyers Naudé, Desmond Tutu en Thabo Makgoba gebruik hulle platforms (bv. kansels) om die onreg aan te spreek daar waar hulle geplaas is.
Jesus het nie teen die onreg van die keiser in Rome, ens. geprofeteer nie, maar teen on-Skriftuurlike houdings van die sinagoge-leiers, gewone mense en politieke leiers in Sy landstreke waar Hy beweeg het.
Mandela, nie ‘n leraar nie, het by geleentheid genoem dat as die ANC onreg pleeg (= nalaat om reg te doen), moet die ANC verwerp word.
Tutu en Makgoba preek destyds teen onreg en lyding onder Apartheid, maar ook in die na-Apartheid era. Ek glo as Naudé vandag sou geleef het, hy ook soos hulle vir die ANC se val sou gebid het. Hulle volg nie ’n staatskerk benadering nie!
Wanneer gaan ons as gelowiges begin bid dat die ANC (ook sy meelopers soos die SAKP en COSATU, asook sy uitlopers soos die EFF, MK, ens.) val of begin om onreg en lyding te staak? Hierdie gebede moet plaasvind in ons binne-kamers, maar ook in die openbaar.
Iemand soos ds. Riaan de Villiers het drie opsies:
a. Gebruik die Groote Kerk om die onreg en lyding in SA aan te spreek en bid vir Gasa in jou binnekamer.
b. As ’n persoon die roeping het om onreg en lyding in ’n ander land aan te spreek, word ’n sendeling / profeet in daardie land, m.a.w. verhuis daarheen soos derduisende ander sendelinge.
c. Versoek die gemeente, ring en streeksinode om in die ander land geplaas te word, m.a.w. gaan werk daar vir twee of drie maande op ’n keer en kom terug vir ‘n maand en volg jou roeping op die wyse tot jy aftree, soos baie ander Suid-Afrikaners
Ds Riaan de Villiers, en ander, vermy politieke onreg in sy eie land deur te profeteer teen onreg van ander lande – daar ver. Hy weet dat dit is ook veilig, want Israel sal nie teen hom optree nie. Die ANC wat onreg bedryf, mag hom selfs prys. Hierdie is ook ‘n staatskerk-benadering.
