Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Brief: ‘God gee om vir mense wat ly’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Neels Jackson van Nelspruit/Mbombela skryf: Ek reageer op Tinus Diedericks se brief “Die kerk is nie ’n galery vir politieke solidariteit nie” van 29 Oktober 2025.

Lees ook: Kaapse gemeente poog om solidariteit te toon deur gasheer te speel vir Francesca Albanese in brandpuntgesprek oor Israel en Gasa

Teen die agtergrond van die verskraalde evangelie waarmee die NG Kerk baie jare lank gewerk het, verstaan ek iets van Tinus se ontsteltenis. Ek dink egter daar is ’n paar sake waaroor ons moet duidelikheid kry.

  1. Mense, en veral mense wat swaarkry, is vir Jesus belangrik. In die verlede het ons die evangelie verskraal sodat Jesus slegs die Verlosser geword het wat kom sterf het sodat ons sonde vergewe kan word. Jesus ís dit, maar Hy is ook die een wat vir ons kom leer het hoe om te lewe. En ’n kerndeel daarvan is dat hy ons kom leer het om om te gee vir mense wat ly. Die evangelies is vol daarvan, maar Matteus 25:31-46 waar Jesus praat oor die laaste oordeel, is ’n besonder duidelike teks wat wys watter belang Jesus heg aan die besorgdheid oor mense wat ly. Daarom is dit gepas dat ’n gemeente ook besorg is oor die lyding van die Palestyne.
  2. Ek dink Tinus maak ’n fout deur die Palestynse vlag te sien as “die simbool van ’n geloof en ideologie wat die Godheid van Christus ontken”. Die vlag is eerder die simbool van die Palestynse mense, en onder hulle is daar nie net Moslems nie, maar ook ’n minderheid Christene. Daar is nie net Hamas nie, maar ook gewone mense wat net ’n rustige en stil lewe wil lei, maar wat slagoffers geword het van ’n oorlog wat deur ekstemiste aan beide kante gevoer word.
  3. ’n Kerkgebou vervul in ons tradisie nie dieselfde funksie as die tempel in die Ou Testament nie. Die gebou is nie ’n heilige plek waar God woon nie. In ons tradisie is ons liggaam nou ’n heilige tempel waar God woon. Die gebou is ’n gerieflike bymekaarkomplek vir eredienste en ander geleenthede. Ons hoef nie die “heiligheid” van die gebou te probeer beskerm nie.
  4. Toe Jesus die tafels in die tempel omgekeer het, was dit omdat die godsdienstiges van die tempel ’n rowersnes gemaak het. Wie was dit wat beroof is? Dit was die armstes wat hulle “sondige” Romeinse munte teen ’n premie by geldwisselaars moes omruil vir “aanvaarbare” geld – dít terwyl die godsdienstiges self met Romeinse geld in hulle sakke rondgeloop het (vergelyk Markus 12:13-17). Jesus verwys ook in Markus 12:38-40 na die skrifgeleerdes wat die huise van die weduwees inpalm. Die tempelreiniging is Jesus se protes teen die uitbuiting van arm mense. 
  5. Dit ís so dat ons grondig van die Moslems oor die kern van ons geloof verskil. Dit maak hulle nie ons vyande nie. Ons kan met vriendelikheid ’n mooi kant van ons geloof vir hulle wys. Watter beter getuienis is daar vir die liefdevolle God wat ons aanbid, as om vir Moslems te wys dat hierdie God ook vir die Palestyne omgee?

Die Groote Kerk is die tuiste van die oudste NG gemeente, die moedergemeente waaruit al die ander mettertyd ontstaan het. Ek is dankbaar dat ons moeder vir ons ’n voorbeeld is van hoe God se besorgdheid oor lydende mense beliggaam kan word.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Brief: ‘God gee om vir mense wat ly’”

  1. Sleutelbordkryger

    Vraag: “Watter beter getuienis is daar vir die liefdevolle God wat ons aanbid, as om vir Moslems te wys dat hierdie God ook vir die Palestyne omgee?”
    Antwoord: Die beter getuienis van die liefdevolle God is om die Evangelie van God ook aan Moslems oor te dra, soos geopenbaar in Christus.

  2. Dries Coetzee

    Ek het nogal met vrees en bewing die hele aangeleentheid van Grote Kerk en die Moslem wêreld teenoor die Israeliese wêreld gelees. Ek was nie self daar nie, was nie deel van die besluutnemingsproses of uitvoering daarvan nie. Ek verstaan dus die motiewe daarvan glad nie. Wat ek wel raaklees is die idee van gasvryheid en getuienis. Die enigste bron waaraanbek dit kan beoordeel is die Bybel. van ‘n gesamentlike erediens tussen gelowiges (Ou en Nuwe Testament) vind ek geen spoor in die bron nie. Ons kan daarvoor mooi name en mooi motiewe formuleer soos wat Neels huerbo doen. Een feit bly vir my egter vassstaan. Dit stry met alle ander getuienisse wat ek oor evangelieverkondiging in die Bybel vind. Dit is dus eenvoudig onbybels en daarom nie deel can die uitvoering can God se geopenbaarde waarheid nie.

  3. Andre Badenhorst

    Wat sê die Groote Kerk van die dade van verkose owerheid van die Palestyne in Gaza? Sou daar ruimte vir ‘n gesamentlike diens wees, saam met die plaaslike sinagoges, met die vlag van Israel teen die mure gedrapeer, en spreekbeurte vir die oorlewendes van 10/7, asook familielede wat sien watter onmenslikhede onder dieselfde Palestynse vlag in hierdie tyd van vrede plaavind as wat skaars ‘n week terug in die kerk gehang het?
    https://youtu.be/-Qvc3iI2HiU?si=Z1iXHDvmpUVVMiIx

Comments are closed.

Scroll to Top