Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Pride: ’n ‘Uitnodiging tot luister, begrip en deernis’

Pride word gewoonlik in Februarie in Kaapstad gevier, met die jaarlikse optog wat vanjaar op Saterdag 28 Februarie plaasvind. Stefan de Klerk, Celeste Meyburgh en Laurie Gaum vertel meer.

Vir baie mense bring die woord “Pride” egter gemengde gevoelens op – nuuskierigheid, ongemak, weerstand of selfs vrees. Tog is dit juis in hierdie spanning dat ’n belangrike gesprek vir die kerk en geloofsgemeenskappe lê.

Maar waar kom Pride vandaan?

Pride het sy oorsprong in die laat 1960’s in New York, toe gay en transgender mense – wat gereeld aan polisiebrutaliteit en diskriminerende klopjagte onderwerp is – begin terugpraat het teen onreg. Hierdie protes, bekend as die Stonewall-opstande, het veral deur die deelname van transgender persone en mense van kleur momentum gekry. ’n Jaar later, in Junie 1970, is die eerste Pride-optog gehou om hierdie gebeurtenisse te herdenk. Wat begin het as ’n protes teen geweld en uitsluiting, het mettertyd wêreldwyd versprei – ook na kleiner gemeenskappe.

LEES OOK: Sinode van Wes-Kaapland: Meer konteks oor taakspan wat LGBTQI+ gelowiges wil betrek

In Suid-Afrika is die eerste Pride-optog in 1990 gehou, in ’n tyd toe ons samelewing self besig was om oop te breek ná dekades van uitsluiting en onderdrukking. Oor die jare het Pride vir baie mense ’n manier geword om hulle menswaardigheid en outentieke bestaan te bevestig – veral vir dié wat lank moes hoor dat hulle nie welkom is nie, ook binne geloofsgemeenskappe.

Dit is waar Pride soms bots met die persepsies en vrese van gelowiges. Die uitbundigheid en openbare aard daarvan kan vir sommige ontstellend wees. Tog is dit belangrik om te onthou dat Pride, op sy diepste vlak, ’n reaksie is op skaamte, verwerping en stilte. Dit moedig mense aan om nie hulle bestaan as ’n “probleem” te sien nie, maar as deel van hulle menswees. Vir baie gay gelowiges is dit nie ’n verwerping van geloof nie, maar ’n poging om eerlik voor God en ander mense te leef.

Pride het egter nie net ’n simboliese of vieringsdimensie nie; dit het ook ’n ernstige sosiale en politieke kant. In Suid-Afrika bly lesbiese vroue van kleur en transgender persone besonder kwesbaar vir haatmisdade, insluitend die gruwelike praktyk wat as “korrektiewe verkragting” bekendstaan, veral in townships. Hierdie realiteite herinner ons daaraan dat gesprekke oor seksualiteit nie net teoreties is nie, maar lewens raak – soms op noodlottige wyse.

In die oploop tot Kaapstad Pride vanjaar word hierdie pynlike werklikheid verder beklemtoon deur die herdenking van die moord op imam Muhsin Hendricks, wat byna ’n jaar gelede in Gqeberha vermoor is. Hendricks was ’n openlik gay imam en die geestelike leier van ’n klein, inklusiewe Moslemgemeenskap. Vir baie was hy ’n seldsame veilige hawe binne ’n konteks waar oordeel en uitsluiting dikwels oorheers. Sy sogenaamde “deernisvolle Islam” het mense oor geloofsgrense heen geraak – ’n ironie wat des te skerper uitstaan teen die agtergrond van sy gewelddadige dood.

LEES OOK| 2025: Jaaroorsig by monde van uiteenlopende onderhoude

Op 15 Februarie word ’n byeenkoms by St George’s-katedraal in Kaapstad gehou om sy lewe te herdenk en om aandag te vestig op die ontstellende gebrek aan vordering in die ondersoek na sy moord. Hierdie stilte is tekenend van ’n breër geweldsmisdaadkrisis in Suid-Afrika, maar raak minderheidsgroepe besonder hard. Ná die diens sal mense van verskillende geloofstradisies in ’n stille waak hulle solidariteit betoon met Hendricks se queer Moslemgemeenskap, wat steeds in vrees leef, en ’n memorandum by die Buitenkantstraat-polisiekantoor oorhandig.

Vir Christene – ook binne die NG Kerk – bied hierdie oomblikke ’n uitnodiging: nie noodwendig om alle vrae of oortuigings op te los nie, maar om te luister, om raak te sien waar mense seer kry, en om onsself weer te vra wat dit beteken om Christus se liefde, geregtigheid en deernis in ’n gebroke wêreld te beliggaam.

Die gesprekke en inisiatiewe rondom Pride vra nie van die kerk om haar geloof prys te gee nie, maar wel om naby mense te bly – veral dié wat te lank gevoel het dat daar vir hulle geen plek is nie. Miskien begin ware getuienis juis daar waar ons bereid is om saam te staan, saam te luister en saam te waak.

 

  • Di Stefan de Klerk, Celeste Meyburgh en Laurie Gaum is lede van die LGBTQ+ Taakspan van die diensgroep Navorsing en Toerusting binne die Sinode van die Wes-Kaap. Die taakspan se doel is om inklusiewe geloofspraktyke te bevorder en gemeentes by te staan in die ontwikkeling van ’n veilige en verwelkomende omgewing vir LGBTQ+ lidmate, predikante en kerkraadslede. Dit sluit in navorsing en die begeleiding van alle lidmate, gemeentes en kerkrade wat hulp in hierdie gesprek benodig.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top