Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In Deuteronomium is daar twee tekste wat gaan oor tiendes: Deuteronomium 14:22-29 en 26:1-15. Beide tekste help ons om te verstaan wat die doel moet wees van enige bydrae wat ons tot ons gemeentes maak. Sias Meyer vertel meer.
Beide tekste verwys na die weerloses in antieke Israel. Deuteronomium 14:27-29 en 26:12 verwys na ʼn derde jaar waar alle tiendes gedeel moet word met die Leviete, die vreemdelinge, die vaderloses en weduwees. Al hierdie kategorieë van mense word beskou as weerloos. Niemand van hulle kon land besit nie en daarom was hulle in ʼn baie kwesbare posisie. As Deuteronomium dus aan tiendes dink, word daar dadelik ook aan weerlose mense gedink. Hierdie rol word vandag ook deur kerke gespeel, ook die NG Kerk.
LEES OOK | Verstaan die Ou Testament: God se plan sal bly staan in Josef se verhaal
In albei tekste kry ʼn mens die indruk dat dankbaarheid en vreugde die beweegrede agter die tiende is. In Deuteronomium 26 bely die persoon wat die tiende bring byna Israel se hele geskiedenis. Baie kort gesê: “Ons was swerwers en slawe in Egipte en God het ons gered en vir ons ’n land gegee.” Dankbaarheid is die motivering vir die tiende.
Deuteronomium 14 vat dit nog verder. Waar ’n mens in Deuteronomium 26 die indruk kry dat die tiende vir die Here geoffer word (behalwe in die derde jaar), word die tiende in Deuteronomium 14 vir ʼn fees gebruik. Vers 23: “Jy moet ʼn tiende van jou koring, nuwe wyn en olie, sowel as die eersgeborenes van jou beeste en kleinvee, in die teenwoordigheid van die Here jou God eet …” Die tiende word nie vir God gegee nie, maar word self in ʼn feestelike atmosfeer geëet en gedrink en dit moet dan vir ʼn mens “ontsag” leer vir die Here (v 23). Die woord vir ontsag is in die 1933-vertaling met “vrees” vertaal. Hierdie “vrees” word met kos en wyn bewerkstellig! Dit klink baie jolig en effens eienaardig, maar juis omdat die teks wil beklemtoon dat die tiende eintlik gaan oor dankbaarheid en die gepaardgaande vreugde. God is ʼn God van verlossing en feestelikheid.
LEES OOK | Verstaan die Ou Testament: Wat leer ’n mens uit die Bybel oor die aflê van geloftes?
Deuteronomium 14 is so ernstig oor hierdie feestelikheid dat dit voorsiening maak daarvoor dat iemand wat ver van “die plek wat die Here jou God gaan kies” woon, sy tiende in geld kan omsit (v 24). Wanneer so ʼn persoon dan by die tempel kom moet hy koop wat sy “hart begeer” insluitend “wyn en sterk drank” en dan moet dit voor die Here geëet en gedrink word en die opdrag is: “wees bly, jy en jou huisgesin” (v 26). Vir Deuteronomium moet dankbaarheid en feestelikheid as families en gemeenskappe (wat weerloses insluit) gevier word.
Prof Sias Meyer doseer Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria.
