Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Elders gesien | Sprekers gesoek met oog op Predikantesaamtrek in Augustus: Wil jy deelneem?

Die konsep en kenmerkende formaat van TED Talks het oor die jare al ‘n kragtige kultuurverskynsel geword … En wanneer Goudini in die Wes-Kaap  van 24-28 Augustus vanjaar gasheer speel vir die NG Kerk se predikantesaamkoms, wil ds Lerisa Meyer die TED-wenresep ook plaaslik vertolk as deel van die uiteenlopende aanbod by dié geleentheid. Hulle noem dit Ideel Ateljee en soek sprekers. 

 

LEES OOK: 5 vrae aan Maartje van der Westhuizen oor Predikantesaamtrek in 2026

Meyer vertel: “Ek is baie opgewonde oor ons saamkoms in Augustus. As ‘n jong predikant het ek egter ook al baie keer daaroor gedroom om saam te dink oor innovering en kreatiwiteit. Dit is hoekom een van die geleenthede by die Saamkoms sal fokus op praatjies in kort formaat. Dit is nie ‘n lesing of ‘n preek nie – dit is ‘n geleentheid waar ons idees met mekaar kan deel. Idees wat hoop gee, wat ons uitdaag, ons nuut laat dink – wat ons harte en denke weer opnuut aanraak. By die Idee Ateljee soek ons gefokusde en inspirerende aanbiedings.”

Nou is jou kans

Die inhoudspan nooi predikante wat die geleentheid sal bywoon, uit om hulle te kontak met voorstelle vir só praatjie. Meyer sê: “Ons nooi almal uit om ’n kort, inspirerende praatjie – nie langer as 10 minute nie – op te neem en dit as ’n YouTube-skakel met ons te deel. Die skakel moet met beperkte toegang ingestel wees (unlisted) en gestuur word na lerisastrydom@gmail.com.”

Meyer voeg by dat daar ’n keuringsproses sal wees waar ’n paneel die opnames beoordeel.

Die sprekers wat gekeur word, kry dan die geleentheid om hul praatjie regstreeks by die saamkoms in Augustus aan te bied.

“Hierdie is nie net nóg ’n referaatgeleentheid nie. My hoop is dat hierdie platform nie net inhoud sal lewer nie, maar ook nuwe energie en kreatiwiteit in ons bediening sal ontsluit.”

  • Die finale datum vir Ted Talk inskrywing is 8 April. Die saamkoms is 24 – 28 Augustus 2026

 

 

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top