Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Vir 43 dae vanaf Aswoensdag was U2 se “Days of Ash” vir my 'n Lydenstyd-klankbaan. “Easter Lily” kom seën ons met Paasfees hoop. Mag die Paaslelie vir jou blom op Opstandingsondag, skryf Francois Mulder.

’n Tyd vir fluistergebede en opstandingsliedere

Die Ierse rockgroep U2 het op Goeie Vrydag 2026 onverwags nóg ’n EP, “Easter Lily,” vrygestel – net ses weke ná hul Aswoensdag-EP “Days of Ash.” Francois Mulder skryf oor hierdie meer intieme versameling liedere wat klink soos fluistergebede, pelgrimspsalms en paasfeesliedere vir ’n stukkende wêreld.

 

Dit is Vrydagoggend, 3 April 2026. Goeie Vrydag. Die dag van hout en spykers. Van stilte en skadu’s. Van “Dit is volbring.”

En toe – ’n WhatsApp in HOOFLETTERS van my Kaapstadse Anglikaanse predikant-vriend David Meldrum: “THERE’S MORE NEW U2!”

Is dit moontlik dat U2 – skaars ses weke ná hul Aswoensdag-EP – nou op die donkerste dag van die kerkjaar terugkeer met…opstandingsmusiek?

Nie net protes nie, maar ook ‘n proeseltjie brood en ‘n slukkie wyn.

Nie net woede nie, maar ook wonde.

Nie net die as van daardie Woensdag nie, maar ook die spykerletsels van Goeie Vrydag, die eggo’s van Stil Saterdag en die jubeling van Opstandingsondag.

LEES OOK: U2 se ‘Days of Ash’: ’n Tyd vir protespsalms en rou klaagliedere

PROPAGANDA

“Jy wag vyf-en-twintig jaar vir ’n nuwe uitgawe van U2 se tydskrif _Propaganda_… en skielik kom daar twee in die bestek van ses weke. Jy wag agt jaar vir ’n nuwe versameling U2-liedere… en skielik binne 44 dae, kry jy twee EP’s.” So begin die nuwe digitale uitgawe van U2 se ikoniese tydskrif. Volgens die vervaardiger Jacknife Lee het hy die hele tyd gedink hy werk aan ’n nuwe vollengte-album, totdat U2 net twee weke voor Paasfees ’n radikale besluit neem: “As ons aan die begin van Lydenstyd – wanneer ’n mens vas en nadink – ’n EP kon uitreik oor die uiterlike wêreld, kom ons reik dan op Goeie Vrydag ’n Paasfees-EP uit, wat meer fokus op die innerlike reaksie op gebeure.”

En so het dit gebeur. Waar “Days of Ash” die wêreld se chaos profeties uitwys, val U2 in “Easter Lily” op hul knieë, arms omhoog in aanbidding en hoof gebuig in gebed. Soos die dissipels wat ná die kruisiging agter geslote deure wegkruip, beweeg hierdie EP weg van die strate en megafone na die stilte van jou binnekamer. Hier kan geloof, hoop en liefde blom.

Hierdie ses liedere is nadenkend, diep en hoopvol. Temas soos vriendskap, verlies, hoop en uiteindelike vernuwing en opstanding word verken. Die donderweer en blitse word aan die einde van Lydenstyd ’n verfrissende donderbui wat die droë aarde verkwik.

Bono (hoofsanger, Paul Hewson) beskryf die liedere as antwoorde op baie persoonlike vrae:

  • Is daar nog sin en betekenis in ons wêreld?
  • Kan geloof oorleef wanneer betekenis deur algoritmes verdraai word?

Dis nie meer net profetiese uitsprake nie. Dis belydenisse.

The Edge (kitaar, Dave Evans) verduidelik: As “Days of Ash” ‘n wêreld in trauma aanskou het, gaan hierdie EP oor waarheen ons gaan vir krag om deur hierdie wêreld te stap.

Adam Clayton (baskitaar) bely: “Daar is ’n geestelike dimensie aan hierdie lewe. Dis dwaas om dit nie vír jou te laat werk eerder as teen jou nie.”

 

DIE PAASLELIE

Die titel van die EP – “Easter Lily” – dra diep simboliek. Die Paaslelie (Lilium longiflorum), lank reeds verbind aan die opstanding van Jesus Christus, verteenwoordig reinheid, nuwe lewe, opstanding en hoop. Waar Aswoensdag se as herinner aan ons sterflikheid, fluister die lelie van herskepping. Van grafte wat oopgaan. Van lewe wat onverwags weer begin.

Elke snit voel soos ’n stil gebed:

“Song for Hal”

Die EP begin met hierdie rou huldeblyk aan Hal Willner (1956–2020) – ’n invloedryke musiekvervaardiger en langtermyn vriend van U2. Die lied is nie net ’n persoonlike klaaglied nie, maar ook ’n dankbare groet aan ’n kreatiewe medereisiger wie se invloed diep in U2 se verhaal verweef is. Anders as gewoonlik, is dit The Edge wat hier voorsing. Geen politieke verklaring. Net verlies. Net onthou.

 

“In a Life”

’n Viering van vriendskap – daardie skaars, brose genadegawe wat in moeilike tye óf verdiep óf verbrokkel.

 

“Scars”

Die evangelie verduidelik met littekens. U2 beweeg hier van ’n algemene lied oor pyn en aanvaarding na iets heiligs – asof die stem self begin skuif na dié van Christus. Die lirieke laat my dink aan die ontmoeting tussen Jesus en Maria Magdalena: ’n vrou met ’n gebroke verlede (Lukas 8:1-3), maar ook ’n draer van genade. Reëls soos “I know, know, know / All that you’ve been through… I know… who you are” klink soos ’n Messias wat deur die skare se veroordeling kyk en haar ware identiteit raaksien. Die uitnodiging “Don’t cover your scars… it’s your scars that give you beauty” eggo die opstandingsverhale waar Jesus nie sy wonde wegsteek nie, maar dit wys as tekens van verlossing. En dan die byna woordelikse Johannes 20 frases in liriekvorm: “Put your hands on my hand / Feel the nails…” en “Put your hand in my side…” – direkte herinneringe aan die opgestane Jesus wat sy wonde wys. In hierdie lig kan “Scars” gehoor word as ’n intieme opstandingsgesprek: nie net oor genesing nie, maar oor herkenning – dat ons juis in ons littekens die stem van Jesus Christus hoor wat sê: Ek ken jou. Ek sien jou. En jy is mooi.

 

“Resurrection Song”

Hierdie pelgrimslied is ’n liefdesreis deur die dood na die ewige lewe. Twee mense op reis, maar met duidelike eggo’s van die opstandingsverhale waar herkenning stadig deurbreek. Die reëls “Road sign, the death and resurrection show / You smile… the next thing you know, we died” plaas die luisteraar binne die Paasdrama self. Jy móét sterf om waarlik te kan leef. Hoop verras: “Next life was waiting through an open door” – ’n beeld wat herinner aan die leë graf en die oop deur na nuwe lewe. Die refrein vra: “Are you holding on? Hold on.”

Hierdie opstandingslied neem 1 Korintiërs 15:26 se woorde en sing dit as “’Til death dies too and love’s its epitaph.” Op die finale grafsteen van die dood sal daar staan: liefde! 1 Korintiërs 13:8 en 13 herinner ons opnuut: “Die liefde vergaan nooit nie… die grootste hiervan is die liefde!”

 

“Easter Parade”

Hier breek die lig deur. ’n Liturgiese lied. ’n Fees van nuwe lewe. Soos klokke wat lui ná Stil Saterdag. Die openingsreëls “I only have one song to bring… a song of devotion” roep die beeld op van ’n offer, ’n eenvoudige gawe wat na God gebring word, soos die vrou wat Jesus se voete salf. Tog lê die hart van die lied in die paradoks van Paasfees self: “Something in me died / But I was no longer afraid” – ’n innerlike kruisiging wat ruimte maak vir bevryding. Die refrein se “Easter parade” voel amper soos ’n stil prosessie – nie triomfantelik hard nie, maar ’n heilige beweging van dood na lewe. Wanneer Bono sing “You speak to the part of me that cannot speak / I can’t see you but I know you’re there / I will always worship what I cannot keep,” raak dit aan die misterie van geloof: ’n verhouding met die onsienlike God wat tog werklik teenwoordig is.

Die vreugde van die woorde “On such a day, such a day as this” is aansteeklik.

En dan, soos in ’n stil nagmaalserediens, sluit die lied af met “Kyrie eleison” – “Here, ontferm U” – ’n eeu-oue smeekgebed wat die hele EP anker in aanbidding. Só word “Easter Parade” nie net ’n viering van opstanding nie, maar ’n nederige oorgawe: dat die ou sondige mens in ons moet sterf, dat ons tot bekering moet kom en moet glo in Jesus Christus, sodat ons sonder vrees kan leef in die lig van die Opgestane.

 

“COEXIST (I Will Bless The Lord At All Times?)”

Bono verduidelik hierdie lied as ’n wiegelied vir ouers en kinders in oorlogsones. Sag. Breekbaar. Heilig.

U2 waag hier met ‘n eerlike en ontstellende gebed. Hier is geen maklike antwoorde nie, maar ’n wiegelied wat déúr oorlog, trauma en gebroke onskuld fluister. Die openingsbeeld is van ’n kind “without armour… only loveliness.” Dan hoor ons: “someone’s stolen what was beautiful.” Dit is ’n aangrypende beskrywing van hoe geweld die weerlose tref. Die refrein herhaal hierteenoor Psalm 34:2 se woorde: “I will bless the Lord at all times.” Dit word ’n worsteling, ’n geloofsdaad téén alle sigbare bewyse. Die spanning bereik ’n hoogtepunt in die woorde: “Drones hover without any consciousness over war crimes” – ’n kil-koue beskrywing van ons era. In ‭‭Jesaja‬ ‭49‬:‭15‬ kom die vraag “Kan ‘n vrou haar suigeling vergeet, haar nie ontferm oor die seun van haar moederskoot nie?” U2 se hoopvolle antwoord hier is: “Any child is every child in any mother’s eyes.”

 

PAASFEES HOOP

Bono haal inspirasie uit sangeres Patti Smith se 1978 album “Easter.” Die hoop wat hy as 17-jarige daaruit gekry het, deel hy nou, dekades later, met ’n wêreld vasgevang in geraas en verdeeldheid.

Waar “Days of Ash” soos die profeet Amos klink – skerp en ontstellend – klink “Easter Lily” nader aan die Psalms van Dawid: persoonlik en breekbaar.

In ’n wêreld waar almal skree – kan ons nog fluister?

In ’n tyd van menings – kan ons nog luister?

In ’n era van algoritmes – kan ons nog glo?

“Easter Lily” is nie ’n album wat jou op straat laat betoog nie. Dit bring jou op jou knieë. Die leë graf bring eers verwarring. Dan hoor jy ‘n Stem wat jou naam sê. En in verwondering aanbid jy.

Vir 43 dae vanaf Aswoensdag was U2 se “Days of Ash” vir my ‘n Lydenstyd-klankbaan. “Easter Lily” kom seën ons met Paasfees hoop.

Mag die Paaslelie vir jou blom op Opstandingsondag.


Francois Mulder vier in Desember 2026 sy 20ste jaar as leraar in Blancogemeente, George.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

6 thoughts on “’n Tyd vir fluistergebede en opstandingsliedere”

  1. Wilhelm van der Vyver

    Pragtige artikel, met jou aansteeklike entoesiasme en warm empatie wat prikkel, maar ook inspireer.

    Jy bring ook ‘n tydige besinning oor die betekenis, ook die belangrikheid en relevansie, van hierdie Pase, hier, nou.

    Dankie!

  2. Nico Mulder

    ‘n Raakvat met metaforiese woorde, kom Francois Mulder navore met ‘n kraakvars beskrywing van U2 se belydenis van hul geloof in ‘n Lewende Opgestane Jesus.
    Dankie Francois vir jou begeleiding van ons begrip vir ‘n groep wat die meeste van ons as sekulêr beskou het. Jou hermeneutiese bril is briljant. Baie dankie, nou begin ek om die musiek te verstaan.

  3. Jô dominee, nog ń uitstekende uiteensetting van die nuwe liedjie met stawings uit die Woord. Nooit gedink dat U2 so diep groep in nie.
    Dit verseker dat die Paasboodskap deur miljoene gehoor word.

  4. Corli Lodder

    Corli Gravett
    Hoe besonders verwoord U2 en jy in jou beskrywing van hulle lerieke, menswees en lewe in die hier en nou teenoor die waarheid van die Woord en die Hoop in Christus met die volle impak van Pase! Dankie vir deel Fancois!

  5. Francois Mulder

    Baie dankie vir jul mooi, aanmoedigende woorde, Wilhelm, Alwyn, Nico, oom Charles en Corli! Ek waardeer!

Comments are closed.

Scroll to Top