Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Lag is ’n wonderlike ding. Dit laat ons beter voel, en help ons om moeilike dinge te verwerk. Soms lag ons vir die dinge waarvoor ons bang is en soms vir dinge wat ons absurd vind. ’n Bekende voorbeeld van laasgenoemde is Abraham en Sara se gelag in Genesis 17 en 18. Sias Meyer vertel meer.
Die meeste van ons is dalk meer bekend met Sara se gelag in Genesis 18. Maar eintlik het Abraham eerste gelag in Genesis 17.
LEES OOK: Verstaan die Ou Testament: Wat leer hierdie Bybeltekste ons oor tiendes?
In Genesis 17 sluit God ’n verbond met Abraham om die beloftes wat hy aan Abraham gemaak het soort van “vas” te maak. Die verbond gaan oor twee goed: nageslag en land. Die grootste probleem is eersgenoemde, want Abraham is al 99 en Sara is ook al 90. Nadat God die besnydenis as teken van hierdie verbond gee, herhaal Hy in verse 15 en 16 dat Sara vir Abraham ʼn seun gaan gee. Abraham se reaksie is om in vers 17 op sy gesig te val van die lag en aan God voor te stel dat Ismael dalk eerder sy erfgenaam moet wees. God sê nee; Sara gaan sommer volgende jaar ’n kind kry en God gee ook sommer die naam. God lewer nie kommentaar op Abraham se laggery nie.
In Genesis 18 kom besoek drie “manne” vir Abraham en hy bied vir hulle ruim kos aan om te eet. Terwyl hulle sit en eet vra een van die “manne” na Sara. Wanneer Abraham antwoord dat sy in die tent is, sê die “man” dat hy volgende jaar weer ʼn draai sal maak en dan sal sy ʼn seun hê. Sara lag in haar binneste en wanneer die Here, wie se identiteit nou bekend is, vir Sara oor die lag aanvat, ontken sy dat sy gelag het.
Oor twee hoofstukke in Genesis herhaal die Here twee maal sy belofte, maar die ontvangers van die belofte glo dit eenvoudig nie meer nie. Niemand kan hulle verkwalik nie, want biologies klink dit nie realisties nie. Maar wat doen God? Trek hy sy belofte terug vanweë ongeloof? Kan Hy net optree as daar genoeg geloof is? Nee, Isak word inderdaad in die volgende jaar gebore. God se mag is nie afhanklik van menslike geloof nie.
Die kind se naam is “Isak”. Dit beteken: “Hy het gelag.” ʼn Mens wonder waarna die naam verwys. Dalk na Abraham wat in Genesis 17 gelag het? Dalk na God wat in sy mou lag?
Prof Sias Meyer doseer Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria.
