Wat is kerknuus? Dié vraag mag eenvoudig klink, maar respondente in ’n onlangse peiling het getoon hoe genuanseerd die antwoord kán wees.
“Updates oor wat in die kerk aan die gang is, maar ’n diep refleksie oor hoe die kerk en Christus omgaan met die komplekse wêreld waarvan die kerk deel is – dis nie ’n eiland nie,” het een leser gesê.
Kerknuus is “basies alles wat ’n spesifieke geloofsgroep as hulle kerk en hulle manier van glo, omskryf en in dade uitleef,” het ’n ander laat hoor.
Lees ’n keur van respondente-bydraes oor dié vraag hieronder.
Ons het einde verlede jaar lesers uitgenooi om ’n aanlyn opname te voltooi wat kyk na hoe hulle die betroubaarheid van die media beleef en watter tendense hulle in hulle eie mediagebruik waarneem. Sowat 103 respondente het deelgeneem.
Kunsmatige intelligensie en nuusbeïnvloeders is van die nuusbronne wat mense die minste vertrou. Nuusvermyding is ’n groot faktor, met tot 75 respondente wat nuus soms oorweldigend vind. Oor versigtigheid en vertroue in die media, sê die meerderheid van mense hulle let wel op die nuusbron wanneer iemand vir hulle ’n nuustorie via sosiale media aanstuur.



Hoewel slegs 23 mense sou oorweeg om vir kerknuus te betaal, is Kerkbode by name uitgelig toe hulle gevra is waar hulle die meeste van hulle kerknuus lees. Sinodale nuusbriewe was tweede (28) met agt wat hoofstroommedia se webblaaie gekies het. Op die vraag ‘Sal jy betaal vir kerknuus?’ het net 23 ja geantwoord.
Só reageer lesers op die vraag: Hoe verstaan jy die begrip kerknuus?
- Miskien beter vir my om te sê wat ek NIE van kerknuus verwag nie. Dat dit nie sal handel oor onnodige negatiewe beriggewing oor, en veroordeling van die kerk nie. Dat die nuus nie bevooroordeeld sal wees nie. Ek verwag van kerklike beriggewing dat dit eerlik en hoofsaaklik opbouend sal wees.
- Weeklikse terugvoer oor huidige gebeure en toekomstige byeenkomste in die NG en geaffilieerdes van die NG Kerk se netwerk.
- God moet altyd deel wees daarvan.
- Nuus wat die (NG) kerk direk raak.
- Nuus wat gedeel word oor bewegings in die kerk, keuses gemaak, uitdagings gevind / opgelos, kerke geplant, herlewings, geloofgemeenskappe wat ondersteuning van die wyer kerke benodig.
- Dis geheel en al té wyd om te definieer of te omskryf. Basies alles wat ’n spesifieke geloofsgroep as hulle kerk en hulle manier van glo, omskryf en in dade uitleef.
- Nuus oor wat in die kerk aangaan, maar dan is daar ook klomp soetsappige “Stories van hoop” by wat ’n eensydige prentjie van die kerk skets.
- Enige waarhede wat vertel word oor gebeure binne die kerk en wat die kerk kan help met sy werk.
- Inligting mbt die kerkbeleid, struktuur, gebeure of besluite.
- Gebeure, opinies wat uit die kerk ontstaan.
- Sal graag die mooi stories lees van gemeentes.
- Relevante en betroubare, kontekstuele uitlatings.
- Kerknuus is wat gebeur in kerke en hoe Christene in die wêreld hulle geloof uitleef.
- Breedweg, allerhande gebeure van verskillende kerke/denominasies. Kerknuus egter as bode van die kerk moet na my mening homself deurlopend toets aan die Woord en gereformeerde belydenisskrifte. Om net bv te sê “dit is die skrywer se eie mening” bevorder miskien vir sommige ’n oop gesprek, maar die nuusbron self staan later op losse skroewe.
- Jou hoofaandeelhouer sal bepaal watter teologie / ideologie die basis vorm. Maar binne die Kerkbode en NG Kerk-opset is kerknuus alles van ’n organisatoriese vlak (sinodaal), tot mikronuus vanuit gemeentes, en ’n teologiese verslagdoening (universiteite, nuutste nasionale en internasionale strominge).
- Kerknuus is tans wat in die kerk gebeur, ek dink dit moet ook eenvoudiger wees en vrae wat gewone mense mee worstel in eenvoudige verstaanbare taal aanspreek.
- Gebeure binne die geloofsgemeenskap asook hulp met perspektief op die verstaan van die groter wêreld.
- Alles wat oor die NG Kerk/ Gereformeerde kerke gaan.
- Nuus uit die Christelike omgewing gerig op Christene.
- Nuus oor die NG Kerk en haar mense, maar ook nuus wat van direkte belang vir kerke is.
- Feite oor gebeure gedurende georganiseerde byeenkomste.
- Algemene stories oor kerkwees en inligting deurgee. Maar dit moet ook die kerk uitdaag en soms ’n gewete wees vir die kerk.
- Hou lidmate op hoogte van verwikkelinge binne die kerk en gee geleentheid vir goeie interaksie.
- Vertel van dinge wat in die kerk gebeur het of waarmee die kerk besig is.
- Enige nuus verbandhoudend met kerksake. Nie skindernuus oor predikante nie.
Die peiling is in September 2025 gepubliseer. Kerkbode.co.za kry sowat 21 250 unieke gebruikers per maand, gemeet vir 2026.
