Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: Waar ons Moeder staan …

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dit was eers na die hoeveelste kospakkie en soveelste “you may go to that table for women and children”, dat ek besef het wat ek doen, sê en beduie. Aan mense van wie ek nie hul naam, nering of narratief ken nie. In die lang, kronkelende ry figure wat stadig na my aangeskuifel kom, nóg en nóg gesigte, vaal van min slaap, klere gekreukel, ander verslete, hier en daar ’n kombers omgedraai teen die koue, ure ingedruk in ’n bus, meer as ’n duisend kilometer agter die rug en veel meer voor. Meestal mans, maar ook baie vroue met klein kindertjies aan die hand. Etlike suigelinge. Opmerklik, nie bejaardes nie – hierdie mense, het (nog) ‘n lewe (gehad). Maar wat nou agter hulle lê, is dae van ontheemding; wat voorlê ’n onseker bestemming.

 LEES OOK: Is Christelike nasionalisme werklik Christelik?

Skielik – op dié Sondagoggend, 5 Julie, langs die grootpad buite Bloemfontein, witgeryp in die hartjie van die winter – is ek “terug” in ’n dokumentêr: die uitmergelende 10-uur lange film van Claude Lanzmann oor die Holocaust, “Shoah” (1985). Treinvrag na treinvrag na treinvrag na treinvrag “ongewenstes” uit alle Europese lande, wat afgelaai word in die hel van Auschwitz-Birkenau. Etlike jare is hulle allerlei name genoem, amptelik én toegesnou, meer en meer blameer vir alles wat skort in Nazi-Duitsland, uiteindelik in ghetto’s ingedwing, toe opgepak in die treine in. Dis hoe haat jou eers ’n “vreemdeling” maak, dan viktimiseer, dan laat verwyder, die “endlösung”. Binne ’n uur of twee in Auschwitz was dit als verby, nadat die Nazi-offisier daar langs die treinperron ook die rye só verdeel het, net met ‘n oogopslag en vingerbeweging: Mans (meestal) wat gelyk het of hul kon werk, na regs; vroue (meestal), alle kindertjies en bejaardes na die ander ry, rigting die gaskamers.

LEES OOK: Zander van der Westhuizen: Op pad terug van Noorweë bid ek ’n vreemde gebed

 

Hierdie Sondagoggend gebeur dit by ons ietwat omgekeerd: Die mans kry ’n beker warm sop, en ’n kospakkie met te ete en drinke daarin vir nou en die pad; die vroue en kinders óók, maar húlle beduie ek dan na die ander ry en tafel waar daar fyngoed is, ’n sepie, ’n pakkie “wet wipes”, iets soets en koesterend, en vrouelidmate uit ons gemeentes wat omgee en vra of die vreemde vrou met die kind dalk ’n hoofpynpil of blikkie Vicks nodig het. Die aand lê ek moeg en dink: Hoeveel van daardie mans sou nie dalk ook ‘n koekie seep wou hê nie? Hoeveel moegheid en bang was daar nie óók in die mans se oë, daardie vlietende moment dat ons mekaar voor in die ry by die tafel “gesien” het nie? Die nie-in-woorde-gesê: “Liewe mens, Gód weet…”

 LEES OOK | PredikanteSAAMkoms 2026: Wat het die vorige massa-saamtrek van dominees ons geleer?

Dit is ’n wêreld ver verwyder, dink ek toe, van die Woensdag twee weke tevore, toe ek gedas-en-baadjie van die Uniegebou se statige trappe af, oor Pretoria uitgekyk het. Die woonstelblokke en Unisa lê in die middagson en bak, en oorkant, die Voortrekkermonument, vesting deserdae van als wat Afrikaans(er) genoem wil word. Op die plaveisel onder die Uniegebou se trappe, roer vier baniere in ’n koel bries. Op die eerste een, die jaartal 1956 gedruk, om die vreedsame optog van 20 000 vroue met hul protesgeskrif aan Eerste Minister JG Strijdom gerig, sewentig jaar gelede te onthou, lui die onderskrif. Die tweede, 1966, ter herinnering aan die sloping van Distrik Ses in die Kaap (onder andere op versoek van ’n NG Kerkraad daar, maar hieroor fluister ons in die kerkgeskiedenis slegs gedemp). Die derde gedenkjaar, 1976: Soweto – daardie wintersoggend toe skoolkinders vryheidsliedere in die strate begin sing het; die rook, die polisiehonde, die skote. Die vierde banier: 1996, ons nuwe Grondwet; Suid-Afrika behoort aan almal wat hier woon. En nou – dertig jaar later, hierdie Winter van ’26 – die vraag oor watter mense in Suid-Afrika mag wees, woon en werk. Moenie vergeet dat diep onder in hierdie March and March-veldtog, dit om ‘n onheilspellende vraag oor ons grondwet gaan. “First, they came for the Communists, and I did not speak out because I was not a Communist. Then they came for the Jews, and I…” het pastor Martin Niemöller verootmoedigend in 1946 bely.

 LEES OOK: ‘Die Bybel bly tydloos’: Gesprek met skrywerpredikant wat eeue-oue Bybelorganisasie deur uitdagende tye moet lei

Waaroor ek dankbaar was in die ontmoeting met President Ramaphosa die Woensdag vóór 30 Junie, was die reaksie van swart kerkleiers uit die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, wat gesê het, “nee, Meneer die President, u regering se eerste stappe in die hantering van hierdie krisis behoort nie te wees ‘to enforce laws’ en ‘secure our borders’ nie – nou skielik nie – maar ‘to crack down on corruption in government’, ‘to strengthen our immigration system’, ‘to work with our sister African countries addressing the underlying factors that drive migration’…” “Cohesion, not coercion.” Dít is hoe die stem van “ons Moeder” moet klink: Sag, maar ferm; “speaking truth to power”! Dit is ’n ontsaglike voorreg om as NG Kerk ons publieke stem in dié ekumeniese familie terug te mag vind! Want was ons nie self deur eie toedoen vir lank “vreemdelinge” daar buite in die koue nie? Kyk – sien ek toe daar voor die Uniegebou – hier is nie eens ’n banier vir 1986 nie! Daardie uiters betekenisvolle jaar toe ’n beleidstuk getiteld “Kerk en Samelewing” en ’n Belydenis genaamd “Belhar” ná veertig jaar in die woestyn, die harte en gedagtes in ons kerkfamilie begin draai het!

Nou’s dit alweer veertig jaar later, en wát ‘n geweldige tyd beleef ons nie? Waar staan “ons Moeder”, hoe klink haar stem, waarmee is sy besig? Op die eiland Patmos het die gryse Johannes haar in ’n visioen gesien: Uit die vloedgolf geweld van die draak van die Duistere Ryk geruk, word sy in die onherbergsaamheid van die woestyn versorg, sy en haar nageslag (Openbaring 12:6, 17). Aan die Galasiërs skryf Paulus oor haar, die “hemelse Jerusalem” wat vrý is, “ons moeder!” (4:26). En daarom ook Ciprianus – en ná hom, Calvyn – wat na haar verwys: “God is ons Vader, die Kerk ons Moeder.” Dit is aan háár boesem dat ons toevertrou is, die dag van ons doop. Dit is aan háár tafel dat ons die Woord en die Brood ontvang, al ís ons ook dié van gemengde bloed. Sy ken geen onderskeid. Miskien is dit hoogtyd dat ons wat só twis aan tafel – want ja, beskamend: in hierdie selfde afgelope Junie en Julie was daar alweer ‘n oormaat geklae, foutvindery, afranselings van mekaar in koerante en sosiale media en is dit boonop ook nog op KykNET “onthul” hoe “die susterskerke skeur” – miskien is dit hoogtyd dat ons “ons Moeder” weer leer respekteer vir wie sy regtig is. En raaksien waar Gód haar laat staan. Vir ál haar kindertjies. Sý wys nie lotsbeslissend met die vinger links of regs nie.


Ds Jan Lubbe is predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.

 

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: Waar ons Moeder staan …”

  1. Hoffie Hofmeyr

    Nogal grootliks ‘n eie-ek verhaal dws nie veel ruimte vir ander se insigte nie. En dan weer eens ‘n paar klappe na diegene wat nie alles van die AS(M) vir soetkoek opeet nie: daar word opnuut blaam uitgedeel oor “‘n oormaat geklae, foutvindery, afranselings”. Daar is dus waarskynlik ‘n onvermoe om na die eie ek te kyk, selfondersoek te doen en onkreukbaar eerlik te wees, dinge waaroor ek persoonlik kan getuig. In hierdie selfde elektroniese uitgawe van KB stel Dr Frikkie Coetzee besonder betekenisvol en rigtinggewend: “Ons het leiers nodig wat polariteite kan hanteer sonder om verder te polariseer”. Intussen is polarisasie en ‘n gebrek aan versoening aan die orde van die dag. Daar is dus nie so baie om oor fees te vier by Goudini as die polarisasie en skeurings-narratief by die AS(M) voortgaan nie….

Comments are closed.

Scroll to Top