Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Waarom bestaan daar ’n LGBTQI+-taakspan?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Jean Koen skryf: In Kaapkerk se VrydagNuus (31 Julie 2026) nooi die nuwe LGBTQI+-taakspan predikante en gemeenteleiers uit om insette te lewer oor bediening aan LGBTQI+-lidmate. Dit laat my, as gewone lidmaat, met ernstige vrae.

My beswaar is nie teen mense nie. Ons almal is sondaars wat die genade van Christus nodig het. Daarom is almal welkom in die kerk. My beswaar is teen die teologiese uitgangspunt dat seksuele identiteit ’n bepalende kategorie geword het waarvolgens die kerk haar bediening begin organiseer.

 

LEES OOK: Meer konteks oor taakspan wat LGBTQI+ gelowiges wil betrek

 

Die NG Kerk is steeds verdeeld 

Die Algemene Sinode het in 2019 en 2023 nie verklaar dat die debat oor selfdegeslagverhoudings afgehandel is nie. Inteendeel, die besluite erken uiteenlopende oortuigings binne die NG Kerk. Waarom tree Kaapkerk dan op asof dié rigting reeds vasstaan? Wanneer hulpbronne vir LGBTQI+-bediening ontwikkel word, ontstaan die indruk dat die gesprek nie meer oor die teologie gaan nie, maar oor die implementering van ’n bepaalde standpunt.

Van gay-debat na LGBTQI+

Die NG Kerk se debat het histories oor selfdegeslagverhoudings gegaan. Vandag gebruik Kaapkerk egter die veel breër term LGBTQI+. Die Taakspan Gendergeregtigheid het reeds in 2023 verwys na die ontwikkeling van ’n Queer/LGBTIQ+/Seksualiteitstaakspan. Op grond van watter sinodale mandaat funksioneer hierdie taakspan? Wat is sy opdrag, en wanneer het die kerk besluit om die breër LGBTQI+-raamwerk as amptelike terminologie te gebruik?

 

LEES OOK: ‘Kerk het ’n roeping tot liefde en geregtigheid’ – Taakspan vir LGBTQI+

 

Wat beteken die ‘+’?

Die “+” verwys in die breër samelewing na verdere seksuele en genderidentiteite. Aanvaar Kaapkerk hierdie betekenis? Indien nie, waar trek die kerk die streep? Volgens watter Skrifbeginsels word bepaal wat wel of nie binne hierdie raamwerk val?

Identiteit in Christus 

Die diepste probleem is teologies. Die kerk behoort nie mense volgens seksuele identiteit te kategoriseer nie. Daar behoort daarom nie “LGBTQI+-lidmate” te wees nie, maar bloot lidmate wat saam onder die Woord leef en Christus volg. Wanneer seksuele identiteit die organiserende beginsel van bediening word, skuif die fokus van identiteit in Christus na identiteit in seksualiteit.

Waarom hierdie taakspan? 

Waarom bestaan daar ’n LGBTQI+-taakspan, maar nie taakspanne vir ander pastorale uitdagings soos egskeiding of pornografie nie? Wat van ’n Taakspan Behoudendes? Indien LGBTQI+-lidmate unieke pastorale behoeftes het, waarom word seksuele identiteit die maatstaf waarvolgens afsonderlike bedienings ontwikkel word? Die kerk behoort alle lidmate met dieselfde evangelie te bedien.

Daarby bly vrae oor deursigtigheid: Wie is die lede? Hoe is hulle aangewys? Hoe word verseker dat die uiteenlopende oortuigings binne die NG Kerk billik verteenwoordig word?

Uiteindelik gaan hierdie gesprek oor die kerk se hoogste gesag. As gereformeerde kerk bely ons steeds Sola Scriptura, Solus Christus, Sola Gratia, Sola Fide en Soli Deo Gloria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Brief: Waarom bestaan daar ’n LGBTQI+-taakspan?”

  1. Dawie de Wet, Strand

    Baie dankie, Jean, vir hierdie uitstekede uiteensetting van die beware teen die LGBTQ++ taakspan en sy werksaamhede.
    Ongelukkig het ek slegte nuus vir jou:
    Kaapkerk en die AS funksioneer volgens woke beginsels en nie volgens die Skrif nie. Daarvolgens word die LGBTQ++ groep as “onderdrukte slagoffers” beskou en sal jou standpunt as dié van ‘n “onderdrukker” gesien word. Woke verbied gesprek met onderdrukkers. Hulle moet “gekanselleer” en “ontplatform” word. Daarom sal jou brief geïgnoreer word – soos ek ondervind het met twee briewe aan “Die Kerkbode” die afgelope twee maande.

    Kommentaar verkort. – Red. Lees Kerkbode se gespreksriglyne hier: https://kerkbode.christians.co.za/kommentaarbeleid/

Comments are closed.

Scroll to Top