Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Heléne Meissenheimer besoek NG Gemeente Colesberg en ontdek 'n storie van 200 jaar van genade, gemeenskap en getrouheid. Foto's: Adriaan Labuschagne

Gemeente in die Karoo vier 200 jaar: Hoe lyk ‘Leef Jesus se liefde’ op Colesberg?

Wat maak ’n 200 jaar oue Karoo-gemeente anders? By die NG Gemeente Colesberg lyk dit asof die antwoord vir baie lidmate lê in hulle gemeente se leuse: “Leef Jesus se liefde”. Dr Christo Herbst is nou drie jaar en 11 maande deel van hierdie gemeente. Hy verduidelik dit so: “Hoewel eredienste steeds die fokuspunt bly word ons gemeente al meer missionaal, bedoelende dat alles wat ons doen, gerig is op die gemeenskap en ook na binne”. Heléne Meissenheimer vind meer hieroor uit tydens die gemeente se feesnaweek gehou van 8-9 Augustus. 

In kort:

  • NG Gemeente Colesberg is gestig in 1826 en is ouer as die dorp. Die eerste huise is gebou op erwe wat die kerkraad verkoop het om hulle eerste kerkgebou op te rig.
  • Nege gemeentes op buurdorpe het vanuit hierdie gemeente ontstaan.
  • Die gemeente is een van drie wat nog ’n voltydse predikant het in ’n ring met nege.

‘As jy moeilikheid het is hulle hier’

Riaan Stoop, ’n jarelange ouderling van die NG Gemeente Colesberg, vertel dit gebeur baie dat mense op die dorp aankom en nie slaapplek het nie of moeilikheid met hulle voertuie het. Dan is daar iemand in die gemeente wat sal help. “As jy moeilikheid het, is hulle hier,” sê hy. Vir hom is dit hoe hulle gestalte gee aan die uitleef van liefde. “Ek dink dit is die kern van omgee,” voeg hy by.

Riaan was een van die akteurs in die toneelopvoering wat oud-skoolhoof Emmerentia Pretorius vir die feesnaweek geskryf het. Sy vertel sy wou so die gemeente se ontstaan soos ’n storie vir lidmate vertel. Sondagaand 9 Augustus was die groot aand hiervoor.

Saterdagoggend is komberse uitgedeel om knieë warm te hou tydens die musiekoptrede van sangerpredikant Koos van der Merwe.

Riaan Stoop (regs) was een van die akteurs in die toneelopvoering. Die toneelstuk het begin waar hy nuwe intrekkers op die dorp verwelkom en nooi vir koffie. Dan vertel hy en ander op kleurryke wyse vir hulle hoe eers die NG gemeente en toe ook die dorp ontstaan het.

In die loop van die naweek hoor ons telkens hoe lidmate mekaar en ook vreemdelinge bystaan wat moeilikheid het of swaar tye beleef. Colesbergkoppie is ’n welkome baken al jarelank vir reisigers wat vanaf die Kaap of Gqeberha na of van die Vrystaat of Gauteng ry en kan 40 km ver gesien word. Die dorp en omliggende plase het heelwat gastehuise. Sommige is in die historiese eerste huisies wat boere gebou het om in te bly tydens nagmaalsdienste. Hulle word tuishuise genoem.

Lees ook: Kerkspieël 2026: Ses tendense uit jongste kerklike opname

Naaste predikant was vier dae te perd ver

Die toneelstuk het begin waar Riaan nuwe intrekkers op die dorp verwelkom en nooi vir koffie. Dan vertel hy en ander op kleurryke wyse vir hulle hoe eers die NG gemeente en toe ook die dorp ontstaan het.

Colesbergkoppie was eers bekend as Toverberg (Nederlands vir Toorberg). Naby die koppie was daar twee sendingstasies, maar hulle werk is rondom 1818 deur die Kaapse regering gestop. In 1824 het ’n groepie boere in ’n brief aan die Kaapse goewerneur toestemming gevra om ’n gemeente te mag stig met ’n eie predikant. Hy het ja gesê en in Desember 1826 is die gemeente gestig.

colesberg
Colesbergkoppie was eers bekend as Toverberg (Nederlands vir Toorberg). Die eerste NG gemeente se kerkraad het in 1830 die koppie, hulle gemeente en die dorp vernoem na die Kaapse goewerneur sir Lowry Cole.

Hulle naaste predikant was ds Andrew Murray (pa van die bekende dr Andrew Murray van Wellington). ’n Mens gebruik ‘naaste’ versigtig, want hy was sowat 200 km ver op Graaff-Reinet. Dit het hom vier dae te perd gevat om elke paar maande by hulle uit te kom om nagmaalnaweke te hou. Dan het honderde ossewaens saamgetrek en is onder bokseile kerk gehou. In 1830 het die kerkraad by sir Lowry Cole, die nuwe goewerneur, toestemming gekry om erwe te mag verkoop vir fondse om ’n eie kerk te kan bou. Hulle vernoem toe die nuwe dorp en hulle gemeente sowel as die koppie na hom.

Die huidige agtkantige kerk, hulle derde kerkgebou met sitplek vir 850, is op 9 Augustus 1866 ingewy. Dit is die rede hoekom die feesnaweek op dieselfde datum 160 jaar later gehou is. Tussendeur was daar allerhande dramas soos die eerste predikant wat lidmate gedwing het om die gesange te sing en hy is toe later gevra om te bedank. Drie bouers het ook geval tydens die bouwerk aan die kerk en een is later aan sy beserings dood.

Die gemeente se agtkantige kerk is hulle derde kerkgebou met sitplek vir 850 en is op 9 Augustus 1866 ingewy. Dit is die rede hoekom die feesnaweek vanjaar 160 jaar later op dieselfde datum gehou is.

‘200 jaar van genade’

Ds Japie Taljaard, die gemeente se vorige predikant wat vanaf 1987 tot met sy aftrede in 2022 daar bedien het, het ook die naweek saam met sy vrou Lizeth bygewoon. Sy het saam met ander die feesboek, ‘Colesberg: 200 jaar van genade – 1826-2026’ (sien onder) saamgestel.

Hierdie boek is bekendgestel na afloop van die toneelopvoering. Die hele dorp se krag was af, maar die kerk se kragopwekker het die aand gered.

Die oggend het ds Bennie van As, die oudste oorlewende oud-leraar van die gemeente, die boodskap gebring uit Psalm 90. “God het hierdie gemeente gedra tot vandag toe en sal my en jou en ons kinders en kleinkinders tot aan die einde dra,” het die 80-jarige emeritus-leraar gesê. Hy was van 1971-’73 die gemeenteleraar op Colesberg.

Oud-matrone Martie Hattingh (links) vertel sy voel sy het op 78 “nog genoeg petrol in die tenk” om ’n verskil te maak. Sy is klashulp vir Hannerie van der Walt (regs) wat vir Graad 1’s skoolhou. “’n Mens raak soms moedeloos, want jy wil die beste hê vir jou dorp, maar jy besluit maar elke dag om hoop te hê,” sê Hannerie.
Jan Jacobs, ’n byna afgetrede skaap en beesboer, neem elke ses maande ’n nuwe groep van vyf jongmans deur ’n kursus wat hulle praktiese vaardighede leer in sweis, elektriese bedrading, bouwerk, loodgieterwerk ens.

Dr Christo Herbst het spesiaal vir die geleentheid sy toga aangetrek. Hy het die diakens met nagmaal bedien na hulle die sowat 240 mense bedien het wat die diens bygewoon het. Volgens koster Fanie Vorster was dit ’n buitengewone goeie opkoms met baie besoekers.

Lees ook: Kerkspieël 2026: Gemeentes trek weer laer, maar maak nie mure hoër …

Op hierdie spesiale Sondag het hy meer as gewoonlik die dik tou in die voorportaal gaan trek om die kerk se klok te lui – tweekeer die oggend en ook weer die aand. Binne en buite die kerk was groot wit baniere met groot rooi harte waarop die kerk se leuse staan ‘Leef Jesus se liefde’ asook ’n kruis en die getal 200.

Die vorige dag is twee musiekoptredes gehou. Riaan Stoop het die oggend, toe hy vir die sangerpredikant en liedjieskrywer/digter, Koos van der Merwe bekendgestel het, vertel van die uitdagings wat hierdie gemeenskap al moes hanteer soos sprinkaanplae, droogtes, die Anglo-Boere-oorlog, plase wat minder word, ens. “Maar dit is nie hoekom ons hier is nie, ons is hier omdat ons dankbaar is vir 200 jaar van genade,” het hy bygevoeg.

‘Ek wil ’n verskil maak’

Toe die gemeente se kerkraad die dorp gestig het was daar maar ’n paar duisend inwoners. Vandag woon hier meer as 17 000 mense volgens die plaaslike munisipaliteit wat ook uitlig dat armoede, werkloosheid en ongeletterdheid groot uitdagings bied. Hierdie is ook die wêreld van die nomadiese skaapskeerders, die Karretjiemense wat tussen die 1950’s en 1990’s die Karoo deurkruis het tot die boere opgehou het om van hulle dienste gebruik te maak, soos berig deur rolprentmaker Timothy Gabb in ’n 2024-artikel vir Weg!.

Petro Pretorius hou al vir 10 jaar vir Graad 3’s skool by Lowryville Primêr. Sy vertel sy is twee jaar terug met kanker gediagnoseer as ma van ‘n baba van drie maande. Lidmate het haar die meer as 200km na Bloemfontein geneem vir chemoterapie en haar uitgehelp met haar baba se sorg. “Dis ’n wonderlike village,” sê sy.
Fanie Slabbert is al 52 jaar deel van die gemeente. Hy sê: “Ek glo as jy mense wil motiveer dan moet jy hulle aktiveer. Dit gaan nie net oor die finansies nie, maar oor die saamwees, saambind. Die koinonia. My hart is dat ons ’n gemeente sal wees wat bekend is as ’n omgeegemeente in die gemeenskap.”

Die gemeente het ’n lang saamloop met die stig van skole en plaasskole in en rondom Colesberg. Talle van die gemeente se 340 belydende lidmate is of was onderwysers by hierdie skole. Riaan se vrou, Ettorina, gee al 23 jaar skool op die dorp. Dit sluit onder andere in plaasskole wat nog puttoilette het. Sy vertel op ’n keer toe sy hoërskoolmeisies na ’n wetenskapekspo vergesel het, was van hulle opgewonde omdat daar lakens op hulle beddens was. “Soms klop die armoede hard,” sê sy.

Ons het ook vir Jan Jacobs, ’n byna afgetrede skaap- en beesboer op sy plaas besoek. Hy neem elke ses maande ’n nuwe groep van vyf jongmans deur ’n kursus wat hulle praktiese vaardighede leer in sweis, elektriese bedrading, bouwerk, loodgieterwerk ens. Sy suster Estelle Jacobs is projekleier by ’n plaaslike inisiatief, die Hantam Community Education Trust, en sy het hom betrokke gekry. Hy wou al ophou, maar hy hou aan om so hierdie jongmans, wat deur die skoolsisteem gefaal is, ’n kans op ’n beter toekoms te bied. “Dit is hoe ek ’n verskil maak,” sê hy.

Lees ook: Kerkspieël 2026: Is die NG Kerk besig om jongmense vir die kerk te vorm, maar nie vir die wêreld nie?

By een van die dorp se oudste skole, Hoërskool Colesberg, het ons gesels met Hannerie van der Walt wat ’n Graad 1-klas het. Die kinders was huis toe want die dorp se watertoevoer was af. “’n Mens raak soms moedeloos, want jy wil die beste hê vir jou dorp, maar jy besluit maar elke dag om hoop te hê,” sê sy. By haar was oud-matrone Martie Hattingh wat vertel sy voel sy het op 78 “nog genoeg petrol in die tenk” om ’n verskil te maak. Sy is klashulp vir die Graad 1-klas waar sy kinders help met somme maak en leer lees, en dan rig sy ook nog die Pienk Voete-rugbyspannetjie vir dieselfde ouderdomsgroep af. By haar hoor ’n mens dit is vir haar belangrik dat hulle gemeente se leuse nie net mooi woorde is nie.

‘Jy moet mense aktiveer’

Fanie Slabbert is al 52 jaar deel van die gemeente. Hy, Riaan Stoop en Jan le Roux is al drie in 2010 as “preekouderlinge” opgelei in ’n kursus wat deur die Oos-Kaapse sinode aangebied was. Al drie neem preekbeurte by die NG gemeentes op naburige dorpe soos Noupoort, Springfontein, Middelburg en Venterstad wat nie meer ’n voltydse predikant kan onderhou nie. Riaan word ook soms gevra om by die dorp se VGK-gemeente te preek omdat hulle tans sonder ’n voltydse predikant is. “Dit is vir ons ’n voorreg,” sê hy.

Fanie Slabbert het vertel hulle as gemeente het al hulle verskille gehad, maar hulle werk ook goed saam. Een voorbeeld is die jaarlikse Kuier-en-Kletsfees in Mei. Daar was ’n tyd wat hulle basaar “nie lekker wou loop nie”, soos hy dit stel. Toe eksperimenteer hulle met ’n Gospelfees en deesdae werk dit goed as ’n dorpsfees in die straat voor die kerkgebou.

Hy het ook vertel hulle gemeente het verskillende bedieninge. Hy tel op sy vingers af ’n vrouebediening wat funksies reël en aanbied, ’n eiendoms-een wat kyk na die terrein, ’n gemeente-bediening wat kyk na aktiwiteite volgens die kerkkalender, ’n finansiële bediening en ’n omgeebediening. Sy vrou, Cecile, is deel van ’n groepie wat mense gaan besoek wat eensaam is.

“Ek glo as jy mense wil motiveer dan moet jy hulle aktiveer,” slaan Slabbert se eie onderwyservaring deur. “Dit gaan nie net oor die finansies nie, maar oor die saamwees, saambind. Die koinonia. My hart is dat ons ’n gemeente sal wees wat bekend is as ’n omgeegemeente in die gemeenskap,” voeg hy by.

Kykie na die feesboek … Transformasiegebedsgeleenthede gehou

In die feesboek lees ’n mens van Transformasie-gebedsgeleenthede wat in die vroeë 2000’s gesamentlik met die VGK en NG Kerk in Afrika asook ander kerke gehou is. Die samesteller Lizeth Taljaard het by navraag vertel hoe sy en haar man saam met ander gebid het vir versoening “nie net tussen rasse nie maar ook tussen kerke” op die dorp. In die feesboek lys sy verskillende kursusse en evangelisasienaweke wat by hierdie gemeente gereël is. Sy vertel by navraag sy glo hierdie blootstelling asook gebed het gehelp om harte te begin verander. Dit is ook in hierdie tyd dat die gemeente eers die leuse, ‘Christus se liefde is alles en in almal’ aanvaar het wat later verander het na Leef Jesus se liefde. Vandag woon lidmate van Engelse gemeentes soos Susan Bell (96) van die Metodistekerk die Afrikaanse dienste by die NG gemeente by omdat haar kerk nie meer elke Sondag eredienste hou nie. Die afgelope wintervakansie is die Jesusfilm ook in die kerk gewys en is die hele gemeenskap uitgenooi om dit te kom kyk.

Bybel-Media se Kinderbybelstories help met leesvaardighede bou

Kinders wat sukkel om met begrip te lees is ’n landswye krisis. Onlangse studies wys soveel as 80% van kinders in Graad 4 kan nie met begrip lees nie. Kerkbode se uitgewer, Bybel-Media, is voortdurend besig om Bybelgebaseerde leeshulpmiddels te ontwikkel wat gemeentes, skole en huisgesinne kan gebruik om by kinders ’n liefde vir lees en die stories van die Bybel te kweek.

Tydens ons besoek aan Colesberg het ons kleurvolle vouboekies met verhale uit die Ou Testament asook boekies wat Jesus se storie vertel uitgedeel by twee skole. Ons was by Petro Pretorius se Graad 3’s in Lowryville Primêr asook by Hannerie van der Walt, wat ’n Graad-1 onderwyser is by Hoërskool Colesberg.

Dit is gemeentes en individue se ondersteuning wat die druk en verspreiding van hierdie leeshulpmiddels moontlik maak. Só kan jy help: https://bybelmedia.co.za/

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top