Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Wie het vir die kerkgebou betaal?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Daniel Louw van Secunda skryf: Gerhard Ferreira wil dit laat blyk dat gemeentes wat skeur nie hulle bates (geboue) uit die verband kan neem nie.

Het Gerhard al daaraan gedink dat gemeentes wat reeds uit die verband getree het, goeie regshulp geraadpleeg het voordat hulle dit gedoen het? Miskien is dit hoekom dit so stil is uit NG Kerk geledere.

Hierdie idee dat die gemeente se bates nie uit die verband geneem kan word nie, het nog nooit vir my sin gemaak nie. Ek sal verbaas wees as sinodes of ringe enige sent bygedra het tot die bates van gemeentes. Dit was die gemeentelede wat die geld bymekaar gemaak het om die kerkgebou op te rig en vir baie jare in stand te hou. Die sinode of ringe het nog nooit enige van hierdie verantwoordelikhede gedra nie. Hoe maak dit sin dat die bates aan die kerkverband behoort?

LEES OOK | Brief: Waarsku die kerkreg ons nie hierteen nie? 

Die beste vergelyking waaraan ek kan dink is ‘n konsessie, soos Spur. Die besigheid behoort aan die eienaar, nie aan Spur nie. Die eienaar is vir alles verantwoordelik, maar die eienaar betaal lisensiegeld om die reklamevoordele te trek om aan Spur verbonde te wees.

Dit is baie ironies as Gerhard praat van die oortreding van basiese etiese eise terwyl die leiers in die NG Kerk hulleself afvee aan basiese geloofswaarhede en dwaalleer in die kerk inbring.

‘n Verdere baie belangrike feit is dat behoudendes nie vir onbenullige redes die kerk verlaat nie. Dit gaan oor die-evangelie-is-op-die-spel-waarhede.

Die NG Kerk het nou vir Tafelberg gemeente hof toe gevat. Kom ons kyk maar wie is reg.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Brief: Wie het vir die kerkgebou betaal?”

  1. Gerhard Ferreira

    Dit is jammerlik dat hierdie bloot ‘n strooipop-argument van Daniel Louw is, met die doel om die aandag af te lei van een van die hoof ontwerpdoelwitte van die Kerkorde, naamlik om konflik van belange in besluitneming uit te skakel deur die finale aanspreeklikheid van sodanige besluite by ‘n meerdere vergadering te plaas. ‘n Besluit oor verband uittrede, of soortgelyke besluite, deur kerkrade skep ‘n inherente konflik van belange vir amptenare in die kerkraadsvergadering. Dit maak die besluit minstens aanvegbaar, maar waarskynlik ongeldig en individue kan moontlik gesamentlik of afsonderlike aanspreeklik gehou word vir skade.

    Nemo iudex in causa sua (niemand mag ‘n regter in sy eie saak wees nie) — die kerkvaders wat 400 jaar gelede by die Sinode van Dordt vergader het is manne wat hierdie beginsel toe al toegepas het. Dis mense sonder rekenaars, selfone en karre wat die beginsel geken het en kon toegepas.

    Hierdie beginsel word ook in die Skrif ondersteun:
    • Deuteronomium 1:17: “Moenie partydig wees as julle ‘n saak verhoor nie…”
    • Eksodus 20:15–17: Die oortreding van hierdie gebooie ten opsigte van eie belang bly steeds tersake by die aanvanklike besluitneming en besit ‘n duidelike tugwaardige karakter (sondes).

    Kerkorde – “Die vereiste vir ʼn fidusiêre persoon is een wat ʼn vertrouensposisie beklee en verantwoordelik optree met besluitnemingsbevoegdheid met betrekking tot die besigheid van ʼn organisasie” en “Fidusiêre persone
    7.1.2.1 moet konflik van belange vermy;
    7.1.2.2 mag nie die grense van hulle bevoegdhede oorskry nie;
    7.1.2.3 moet deurgaans ʼn onbevange diskresie handhaaf; en
    7.1.2.4 moet hulle bevoegdhede uitoefen vir die doel waarvoor dit toegeken is.”

    Daarbenewens vereis die Gedragskode vir Predikante uitdruklik: vertroulikheid en betroubaarheid, die vermyding van konflik van belange, integriteit, verantwoordelikheid, aanspreeklikheid, asook die beoefening van regverdigheid en billikheid.

    Op wêreldse terrein sien ons dieselfde beginsel in die regspraak, soos in die hooggeregshofsaak Dimension Data Facilities (Pty) Ltd and Others v Identity Property Co (Pty) Ltd and Others, wat gehandel het oor die persoonlike finansiële belange van direkteure by die neem van maatskappybesluite wat hul persoonlik bevoordeel het. Artikel 75 van die Maatskappywet vereis onderandere dat die direkteur homself totaal verskoon van die besluit. In gemeente verband sal ten minste die predikant nie in die kerkraadsvergadering mag wees nie. Dan word konsulent vereis by die vergadering i.t.v. artikel 28.4 van die Kerkorde. Dit bring die RIng onmiddelik in die besluit in.

    Die Kerkorde is ontwerp op beginsels, mense moet egter waak daarteen om ‘n soort dwaallleer toepas op die Kerkorde en net selektief te neem daaruit. Die kerkvolk moet daarom hulself inlig oor hierdie uiters belangrike aspek wat toekomstige generasies affekteer en nie hulle gedagtes uitkontrakteur nie.

    Volgens King 5 (Beginsel 1) moet die gedrag of beweerde wangedrag van kerkraadslede van alle Openbare Welsynsorganisasies gemeet word aan die hand van goeie korporatiewe bestuur. Enige konflik van belange by besluite sal prima facie bewys van wangedrag wees volgens die King-kode.

    Elke dag, in elke hof in hierdie land is 50% van die regslui verkeerd. Ons belei dat ons aanbid egter die enigste Lewende God en ons weet wat reg en verkeerd is deur die Heilige Gees in ons. Handel volgens u moedsoortuigings.

  2. Die pligte van ‘n leeraar is om te vermaan, te bestraf en dwaalinge te bestry. Hy moet die Woord suiwer verkondig, die sakramente bedien en tug toepas. Wanneer die NG Kerk nie meer hou by die Woord van God nie en verkondig wat die vleeslike mens wil hoor is sy op n dwaalweg.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top