Vir Amo Kruger van Randburg het Fontainebleau Gemeenskapskerk se Skhokho-brugjaarprogram vir jong skoolverlaters gevoel soos sy tweede kans.
Hy vertel einde laasjaar het hy gebid dat God hom moet help want hy kon nie meer nie. “My studies waarmee ek na skool begin het, het nie uitgewerk nie. My ma moes my kom haal. Ek het gevoel asof ek my rigting en my vertroue in myself verloor het,” sê Amo.
Kort hierna het hy gehoor van die nuwe brugjaarprogram. “Dit het gevoel na perfekte tydsberekening, ek was 22 sonder vaste planne oor wat volgende,” sê Amo.

Amo is een van vyf jongmense wat die program vanjaar voltooi het. Corinne Botha en Ray van Staden koördineer die program, met verskeie ander medewerkers wat kursusse en aktiwiteite aanbied. By haar hoor ’n mens die program kombineer geloofsvorming, persoonlike ontwikkeling, gemeenskapsdiens en saamleef. Dit is spesiaal geskep vir jong skoolverlaters wat onseker is oor wat om volgende te doen.
Dit herinner ’n bietjie aan die Diensjaarprogramme wat die ACSV jare terug vir jong skoolverlaters aangebied het. Corinne sê hulle idee is om ’n ruimte te skep waarin jongmense nuwe dinge kan probeer, Suid-Afrika se mense oor taal- en kultuurgrense kan leer ken, verantwoordelikheid neem en self ontdek waar hulle eie gawes en passies lê.
’n Ruimte vir leer en diens
’n Paar aspekte van hierdie jaarlange program staan uit. Die program verbind teorie met praktiese toepassing. Van verhoudings bou tot gate regmaak in paaie.
Die groep bly byvoorbeeld vir die volle duur van die program, van middel-Januarie tot middel-Desember, saam in een huis. Corinne verduidelik dit is ’n belangrike deel van die program. So word ’n ruimte geskep waarin die jongmense nuwe kennis of vaardighede soos die hantering van verskille en konflik kan toepas.

Die brugjaarstudente het vanjaar ook 122 slaggate reggemaak. Corinne vertel sommige was so klein soos ’n mens se hand maar ander was so groot ’n student kon daarin lê. Die gate wat reggemaak word is deel van die gemeente se Rabie Revive-projek. Dit is ’n inisiatief waarin die gemeente saam met die gemeenskap handevat om die strate heel en skoon te maak in die omgewing van Rabiestraat waar die kerk se gebou is.
Die brugjaarstudente het ook na ander kerke, skole of besighede gegaan om hulle te help met ’n projek waarvoor hulle nie genoeg mense het nie. “Ons wil hê die studente moet leer dat geloof nie iets is wat net in jou kop of in ’n kerkgebou gebeur nie. Ons dien met ons hele lyf – ons hande, ons voete, ons tyd, ons energie, ons geld. Alles wat ons het. Dit is die voorbeeld wat Jesus gestel het,” het Corinne verduidelik.
Dan is daar die woord ‘skhokho’ in die program se naam …
Skhokho is ’n Nguni-woord. Die letterlike betekenis verwys na die pap wat onder in ’n pot vasbrand. Vir baie mense is hierdie bros stukkie aanbrandsel wat deur hoë hitte gevorm is die lekkerste. Skhokho het egter ook ’n township slang-betekenis van tough guy of kampioen. Corinne sê dit het vir hulle ’n mooi prentjie gevorm van wie hulle hoop hulle studente sal wees: “jongmense wat leer om te bly staan wanneer dinge moeilik raak. Om deur die hitte te gaan, daaruit te leer en aan die ander kant sterker uit te kom.”
Amo vertel dit wat hy tydens die brugjaar geleer het en veral die vriendskappe wat hy gemaak het, het hom gehelp om homself te kan vind. “Brugjaar het toevallig elke liewe boksie afgemerk met wat ek in my lewe nodig gehad het om weer in myself te kan glo. Ek het vreugde gevind in alles wat ek doen,” vertel dié aanneemkind.
Hy sê van vanjaar se deelnemers het vir hom soos broers geword.
Die bou van verhoudings sluit aan by nog ’n sterk oogmerk van die brugjaarprogram. Dat die jongmense nuwe mense leer ontdek, ook mense met ander kulture, stories en uitdagings as hulle eie. Corinne verduidelik hulle wil hê dat hulle studente nie net van Suid-Afrika hoor nie, maar dit beleef en ontdek. “Ons wil hulle leer wat dit beteken om deel van ons land en ons gemeenskappe te wees,” sê sy.
Wat kos dit en hoe skryf ’n mens in?
Die totale koste van ’n jaar se deelname beloop R78 500. Dit sluit in elf paaiemente van R7 000 waarvan die eerste in Desember 2026 betaalbaar is. Die bedrag sluit die kampe, etes en ander programuitgawes in. Corinne verduidelik hulle wil nie hê dat daar studente is wat nie kan deelneem oor hulle dit nie kan bekostig nie. Gemeentes, families of individue kan daarom ook ’n student borg (’n Artikel 18A-sertifikaat is beskikbaar op aanvraag vir belastingdoeleindes) of op ander maniere betrokke raak soos met donasies of skenkings.
Die brugjaarprogram se finansies word bestuur deur Betereinders, ’n bekende welwillendheidsorganisasie wat vanuit hierdie gemeente ontstaan het.
Corinne noem daar het reeds mense vir volgende jaar ingeskryf, maar daar is plek vir nog. “Dit is Jesus se program … daar is plek vir hoeveel Hy ook al vir ons stuur,” sê sy maar voeg by dat hulle die groep doelbewus klein wil hou omdat dit beter is vir die bou van goeie menslike verhoudings.
Amo het vanjaar met studie in ’n nuwe graadkursus begin. Dié keer in sielkunde, die rigting waar sy hart lê – om mense te help. “Ek het my tweede kans gekry,” sê hy.
- Meer inligting oor die brugjaarprogram sowel as kontakbesonderhede is op Fontainebleau Gemeenskapskerk se webblad te kry.
