Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Prop Jannie Botha skryf:
Die brief van Sarel Strydom verwys waar hy soek na antwoorde van die kerk se leiers om uitklaring te gee oor die Skrif se duidelike uitsprake oor homoseksualiteit. Daarmee saam die artikel wat handel oor Peter Storey (Kerkbode, 3 Mei) en die kerk se vuil hande.
Eers wil ek vir Sarel antwoord. Daar is geen duidelike verklaring vir jou vraag nie, daarom is daar die duidelike stilswye van ons kerklike leiers oor die saak. Die Bybel is duidelik oor twee sake:
- Die sonde van die mens.
- Die liefde van God wat oproep tot bekering en tot redding van elkeen wat glo.
Hiermee wil ek daarom dan by die vuil hande van die kerk kom. Die artikel oor Peter Storey en die kerk se vuil hande, het my verder as die politiek laat dink. Die kerk en in die besonder die kerklike leiers se hande is inderdaad baie vuil. Die Woord van God word eenkant toe geskuif vir menslike denke en humanisme. Die kerk het dwaallering en teologie van diversiteit toegelaat om sy voete te vind binne die ruimte van God se kerk. Om anders te dink oor die skepping, die Satan, die opstanding van ons Verlosser Jesus Christus, het die norm geword. Die ware liefde van God vir die mens tot redding is vervang met soetsappige humanistiese denke.
Die kerk sit in ’n groot krisis, want nou staan ons onder die gesag van die staat en nie meer onder die gesag van God en sy heilige Woord nie.
Die NG Kerk se hande is bitter vuil. Ek smeek en soebat ons kerklike leiers – gaan was julle hande in die bloed van Christus en keer terug na die Woord van God.
