Kerkkantore en ander kerklike instansies het tot 30 Junie 2021 om aan die nuwe wetgewing rondom Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) te voldoen, luidens ’n verklaring wat op Donderdag 25 Februarie deur dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, uitgereik is.
Popia stel streng vereistes vir die insameling, gebruik, berging en vernietiging van persoonlike inligting. Dié wetgewing het op 1 Julie 2020 in werking getree en instansies het 12 maande tyd om aan die wetsvereistes van die wet te voldoen, het Rapport verlede jaar met die aanvang van die wet vroeg in Julie berig.
LEES OOK: Vakature by Kerkbode: Uitvoerende joernalis
Die Algemene Sinode van die NG Kerk het die Algemene Taakspan Regte (ATR), in oorleg met die Argief Taakspan, opdrag gegee om ’n toepaslike Popia-handleiding vir kerklike argiewe, sinodes en hulle gemeentes, ringe, kerklike instansies soos kerkkantore asook kerklike media saam te stel wat aan die vereistes van die Popia-wetgewing (Wet 4 van 2013) voldoen. Kerkkantore beskik oor baie persoonlike inligting van lidmate en daarom moet met sorg met die inligting omgegaan word, luidens die verklaring.
Hoe raak die Popia-wetgewing kerkkantore?
- Kerkkantore moet elkeen ’n inligtingsbeampte aanstel wat sal toesien dat daar aan die Popia-wetgewing voldoen word.
- Daar moet ’n Popia-handleiding vir elke kerkkantoor opgestel word.
- Elke kerkkantoor moet oor ’n Popia-bewusmakingsprogram beskik.
Wat word as persoonlike inligting beskou?
- Identiteits- en paspoortnommers
- Geboortedatums en ouderdomme
- Telefoonnommers
- E-posadresse
- Fisiese adresse
- Geslag, ras en etniese oorsprong
- Foto’s, stemopnames, video-opnames (CCTV), biometriese data
- Huwelikstatus en familieverwantskappe
- Kriminele rekord
- Private korrespondensie
- Godsdienstige en filosofiese oortuigings en politieke opinies
- Indiensnemingsrekords en vergoedingsinligting
- Finansiële inligting
- Opvoedkundige inligting
- Fisiese en psigiese gesondheidsinligting, mediese geskiedenis, bloedgroep en seksualiteit
- Lidmaatskap van verenigings en organisasies.

