Sy lewe en sy teologie sal verseker dat ons hom nooit vergeet nie, skryf David Botha oor die nalatenskap van prof Klaus Nürnberger, wat op 27 Junie in die ouderdom van 89 oorlede is.
Ekologie het nie op die kerk se tafel beland omdat dit mode geword het nie. Drie ander dinge het dit vir die kerk noodsaaklik en onvermydelik gemaak om die saak van die ekologie hoog op ons agenda te sit:
• dekades se interne teologiese gesprek;
• ’n gesprek tussen die teologie en die wetenskap;
• en die ekologiese krisis(se) self.
‘Ekoteoloë’ soos Nürnberger het min of meer die volgende in gemeen:
1. Hulle beklemtoon God se immanensie en deel die idee dat God in die hele skepping teenwoordig is.
2. Hulle verkies om God, mense en die geskape wêreld eerder in relasionele en ekologiese terme te verstaan as hiërargies. God se wêreld is ’n ekologiese wêreld wat saam ’n huishouding vorm wat as ’n ekonomie gestruktureer en georganiseer is en waarin alles wesenlik, onlosmaaklik en interafhanklik in een netwerk van verhoudinge bestaan. Al drie die woorde, ekologie, huishouding en ekonomie is van die Griekse woord oikos afgelei.
3. Hulle deel ’n radikale herinterpretasie van die mens se rol in die skepping: die mens het nie ’n dominerende rol in die skepping nie, maar wel die rol van ’n vennoot.
4. Hulle deel ’n verbintenis tot geregtigheid vir alle skepsels – nie net vir mense nie – en hulle beklemtoon die behoeftes van die massas verarmdes en bedreigde spesies.
Volgens die literatuur oor ekoteologie is daar verstommend baie teoloë wat as ekoteoloë verstaan kan word – talle kom ook uit Afrika en is vroue. Ruimte laat my slegs toe om in hierdie artikel nog een so ’n teoloog, naas Nürnberger self, kortliks te bespreek.
Jürgen Moltmann: Jy moet die aarde liefhê soos jouself
Ons begin met die Duitse Gereformeerde teoloog, Jürgen Moltmann. Hy is gebore op 8 April 1926 in Hamburg, Duitsland. Ek steun hier sterk op ’n artikel wat geskryf is deur prof Johan Buitendag*. Die artikel het die veelseggende titel: “Jy moet die aarde liefhê soos jouself”. Uit die aard van die saak sal die artikel nie ’n volledige beskrywing van dié teoloog se teologie wees nie, maar net ’n seleksie uit sy teologie wat hier betrekking het.
Moltmann het veral bekend geword vir sy teologie van hoop. Hy skryf: “Love does not snatch us from the pain of time, but takes the pain of the temporal upon itself. Hope makes us ready to bear the ‘cross of the present’.” (Theology of hope, p 31). Dit was eintlik onvermydelik dat Moltmann se teologie van hoop sou ontwikkel en groei tot ’n ekoteologie – ’n teologie wat erns sou maak met die ekologiese vraagstuk(ke) van ons dag. Die ekologiese vraagstukke het vir Moltmann dié “cross of the present” geword, onder andere omdat hy moeite gedoen het om na die wetenskaplikes te luister wat moeite gedoen het om die wêreld in te lig en sensitief te maak vir die ekologiese uitdagings wat ons in die gesig staar. Hierdie saak word só sentraal in Moltmann se teologie dat hy selfs so ver gaan as om dit te waag om Jesus se opsomming van die wet (Matt 22:39; Mark 12:31; Luk 10:27) met hierdie woorde aan te vul: “Jy moet die aarde liefhê soos jouself”. Hy doen dit omdat hy daarvan oortuig is dat die aarde ingesluit is in die woord “naaste”. Die aarde is ook die mens se naaste. Die opdrag om jou naaste lief te hê sluit daarom die aarde in. Moltmann wil dit so helder en duidelik moontlik sê: Omgee vir die aarde is deel van God se liefdesopdrag aan die mens. Dat mense die aarde moet liefhê, is God se opdrag aan elke mens individueel en alle mense gesamentlik. Die implikasie hiervan is duidelik: ’n Christengelowige en -gemeente wat nie die aarde en haar nood ernstig opneem nie is ontrou aan God se liefdesopdrag.
Om ons liefdesopdrag teenoor die aarde uit te leef, sê Moltmann, is dit nodig dat ons oor vier dinge nuut sal moet dink:
• Ons sal nuut moet dink oor die mens.
• Ons sal nuut moet dink oor God.
• Ons sal nuut moet dink oor die mens se kultuuropdrag.
• Ons sal nuut moet dink oor die aarde.
1. ’n Nuwe beeld van die mens is nodig
Die ou beeld het gesê: Die mens is die middelpunt van die skepping. Die fokus was op dit wat die mens uitsonder van die res van die skepping en dus op dit wat die mens uitsonderlik maak. Uitsondering het tot afsondering en vervreemding gelei.
Die nuwe beeld moet fokus op dít wat die mens met die res van die skepping in gemeen het. Die mens dra nie net die beeld van God nie, maar ook die beeld van die kosmos. Elke mens is ’n klein (mikro-) uitdrukking van die groot (makro-) kosmos.
2. ’n Nuwe beeld van God is nodig
Die ou beeld het gesê: God is in God se grootheid en heiligheid verwyderd van dit wat God gemaak het. Hierdie beeld lê klem op die afstand wat daar tussen God en die skepping is.
Die nuwe beeld moet fokus op die teenwoordigheid van God in die skepping. Moltmann is oortuig dat God as Gees in alles wat God gemaak het woon. God versmelt nie met die skepping nie, maar bewoon dit. Hy gebruik onder andere Jesaja 6:3 as begronding: “Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid”. Dit is hoekom Paulus ook kan sê dat die gelowige se liggaam tempel is van die Heilige Gees. God woon in alles wat God gemaak het.
3. ’n Nuwe kultuuropdrag is nodig
Die ou opdrag het gesê: Heers oor en onderwerp die aarde.
Die nuwe opdrag moet wees: Wees lief vir die kosmos. Daarom, sorg dat dit met die aarde goed gaan.
4. ’n Nuwe verstaan van die plek van die aarde
Ons bedryf as mense ’n wêreldpolitiek waarin die aarde bloot die agtergrond en bron van hulpbronne is vir die mens. Hierdie politiek het gely tot die uitbuiting en vernieling van die aarde.
Ons het ’n nuwe politiek nodig. Een waarin die aarde en die aarde se welsyn op die voorgrond is. ’n Politiek waarin ons doelbewus soek na dit wat in diens staan van die aarde se welsyn. Die mense van die aarde behoort niks te doen wat tot nadeel en skade van die aarde is nie.
Johan Buitendag sluit sy artikel af met onder andere die volgende woorde: Ons moet dit totaal vermy om te dink of te maak asof die mens in die sentrum is van die skepping en ons moet besef “dat daar net een planeet is, Gaia, die blou planeet, ons moeder, ons Heimat” (aanhaling en vertaling van Moltmann, my beklemtoning – DPB). “Heimat” is ’n Duitse woord wat “land van oorsprong” of “tuiste/huis” beteken.
’n Welwillende houding teenoor die skeppping

Dit bring ons by Klaus Nürnberger. Hy is gebore op 28 Januarie 1933 in Swakopmund, Namibië en sterf op 27 Junie 2022 in Pretoria. Hy het op ’n plaas grootgeword en het na skool ’n BSc-graad (Agric) in Landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria behaal. Kort hierna vertrek hy egter na Duitsland vir teologiese opleiding. Hy was ’n lidmaat van die Evangelies-Lutherse Kerk van Suid-Afrika en het die grootste deel van sy lewe as akademikus die Lutherse en breër kerklike gemeenskap gedien as dosent aan die Universiteite van Suid-Afrika en KwaZulu-Natal.
Nürnberger was een van ’n klein groepie teoloë wat as beide wetenskaplike en teoloog kon praat. Hy bring dus wetenskap en teologie in sy persoon en werk bymekaar. Vir hom is die verwydering wat sedert die Verligting tussen wetenskap en teologie ontwikkel het ’n absolute tragedie. Hy argumenteer dat die verwydering tussen teologie en wetenskap grootliks verantwoordelik is vir die katastrofiese ekonomies-ekologiese krisis waarin ons ons bevind. Hierdie verwydering het selfs die karakter van vyandigheid aangeneem tot groot skade vir die welsyn van die aarde. Daarom rus daar ’n verpligting op die teologie en wetenskap om weer hande te vat en die wêreld uit te lei uit die katastrofe wat hulle help skep het. Wetenskap en geloof behoort vennote te wees wat mekaar wedersyds aanvul en komplementeer, sodat hulle saam in diens kan staan van die welsyn van alles op die aarde. Daarom het die wetenskap die bes moontlike geloof nodig om verantwoordelike wetenskap te wees en het geloof die bes moontlike wetenskap nodig om geloofwaardige geloof te wees.
In sy boek, Regaining sanity for the earth, wat in 2011 verskyn het, wend hy ’n eerlike poging aan om ’n bes moontlike geloof te formuleer wat rekening hou met die insigte en uitkomste van die wetenskap van ons tyd en wat die wetenskap uitdaag om beter wetenskap te wees. Met ’n sensitiwiteit vir die wetenskap kyk hy krities na die Joods-Christelike geloof soos dit in die Bybel weergegee en in die tradisie en belydenisskrifte geformuleer is. Hy kyk egter veral ook krities na die Westerse ekonomie (wat hy ’n neo-liberale ekonomie noem) as wetenskap.
In sy boek, Informed by science, involved by Christ (2013), formuleer hy die hart van die Christelike geloof in vars taal. Volgens hom is die God van die Bybel in wie Christene glo:
– ’n kreatiewe Mag wat die Bron (Source) en Vervulling (Destiny) van die skepping is;
– en wat ’n welwillende houding en bedoeling (benevolent intentionality) het met en teenoor alles wat God gemaak het;
– en wat daarom ’n visie van allesinsluitende optimale welsyn (comprehensive optimal well-being) vir die aarde het.
– Om hierdie allesinsluitende optimale welsyn te realiseer, is God besig met ’n projek van verlossing (redemptive project).
– God nooi die mens om medewerker van hierdie projek te wees. Dit stel elke mens voor ’n persoonlike keuse.
Nürnberger het baie oor die ekonomie gedink en geskryf. Hy beskuldig die Westerse neo-liberale ekonomie (ook genoem vryemark ekonomie) daarvan dat dit die mens ontmenslik en sosio-ekonomiese wanbalanse en ekologiese vernietiging regverdig. Hierdie wanbalanse en vernietiging bedreig die infrastruktuur van lewe op aarde oor die algemeen en van die mensheid in besonder. Hy was absoluut oortuig daarvan dat die Westerse dominerende ekonomiese model verantwoordelik is vir die feit dat ons in die moderne era agteruit geboer het en ’n toekoms tegemoet gaan sonder die mens, tensy …
Kom ons stel homself aan die woord:
… humans are capable of objectifying reality, seeing it from above as it were, ‘with the eyes of God’. Doing so, they can visualise their own particular place and function within the greater whole. Only human beings can contemplate the meaning of the cosmic process in general, and of human life in particular. Only the human being has been equipped by evolution with the capacity to have a relationship with an intuited transcendent Source and Destiny of reality, however it may be perceived.
It is this capacity that is not being developed in modernity. It is, in fact, crippled and obstructed by the incessant stoking up of personal desires at the expense of a balanced and fulfilled personal and communal life, a rational and equitable allocation of productive resources, and a judicious dealing with the ecological prerequisites of life. In this sense, modernity has been a retrogressive step in the evolution of humankind. If we cannot reverse this trend towards senseless consumption and self-aggrandisement, humanity has no future.
Klaus Nürnberger het vir ons baie nagelaat om oor na te dink: oor hoe ons gekom het tot waar ons is en ook oor sy bydrae wat hy gemaak het om ons weer op koers te probeer kry. Hy het sy eie bydrae van 89 jaar en 119 dae voltooi.
- Vir meer oor Nürnberger, besoek klaus-nurnberger.com.
- Meer oor die skrywer van hierdie berig: Ds David Botha vertel: “Ek was voorsitter van die Ekologie Taakspan wat deur die VGK Kaapland en NGK Wes-Kaap in 2010 in die lewe geroep is. Sedert 2015 maak ons tuin en plant bome aan die voet van Ontongskop by Tulbachweg en skryf ek oor ekologie vir Getuienisaksie as deel van hulle Groenspan se bediening.” Botha het in 2021 die CLF-Elise Tempelhoff-toekenning vir Omgewingsbewaring ontvang ter erkenning van “sy groot bydrae om teologiese gesprek oor natuurbewaring te stimuleer en ’n Christelike standpunt oor die ekologie te help ontwikkel binne die konteks van die ekumeniese kerk in Suid-Afrika,” luidens ’n destydse verklaring deur die prysfonds.
- Johan Buitendag is professor aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Teologie en Religie en sy artikel het in LitNet Akademies 16(3), 2019 verskyn.
